Hierdie was ons eerste groot ete in die nuwe huis, in die nuwe stad. Thanksgiving. Ons het 'n kasarm van 'n kalkoen blokke ver gedra, en J het hom gaar gemaak met handevol tiemie en dragon. Ons het skywe pampoen gerooster (die pampoen hier proe beter as enige pampoen wat ek nog ooit geƫet het), brusselse spruitjies in die oond verskroei tot hul gekarameliseer het, en toe met 'n mengsel van vissous, suiker, sojasous en kruisement bedruip. En dan 'n reuse plat aartappelkoek, 'n tipe vinnige rosti met olyfolie, nog kruie, en parmesaan, gebak in ons splinternuwe gietyster kasserolbak, een van ons trougeskenke wat in die tas was toe ek hier aanland. Aan die kant het ek bosbessiesous gemaak, (van vars bosbessies!), met baie suurlemoenskil.


Vooraf was daar, in ware Noord-Amerikaanse styl, dinner rolls. Wat jy warm uit die oond eet sodat die botter afsmelt, saam met die eerste glas sjampanje in die vreemde land. Tot hier het ons dit gemaak, en van waar ons kom is daar 'n arsenaal mense vir wie ons lief is.
Daarvoor is ons dankbaar.
2 comments:
Hierdie is so fantasties en ek is so bly jy embrace die vreemde. Dis 'n goeie ding!
Wat 'n fees!
Dsi sekerlik gevolg deur 'n week van interessante kalkoen-variasies!
Post a Comment