Nov 26, 2014

Porto se portgrotte

Ek kon nie in Porto wees en nie gaan port proe nie. Vanuit die stad stap jy oor die Arrábida brug, oor die Douro-rivier, waarop die barges toentertyd die vatte port sou vervoer. Oorkant die Douro lê Vila Nova de Gaia, waar die portkelders, of grotte, soos hul genoem word, geleë is. Die wonderlike deel van die hele uitstappie is dat jy kan stap van portgrot tot portgrot, iets wat wynproe in Stellenbosch byvoorbeeld baie meer aanloklik sou gemaak het, veral vir die bestuurder wat altyd sy wyn moet spoeg in plaas van drink. Wel, dis aanvanklik die wonderlike deel. Totdat jy besef dat jy teen 'n donderse heuwel moet uitklim elke keer wat jy na 'n volgende portgrot wil skuif, en weet jul hoeveel alkohol is daar in port? Red 'n volk. Teen my derde portgrot het ek besluit dit moet nou ook maar my laaste wees, die kombinasie van heuwels en versengende son en meer port op een slag as wat ek al in die hele res van my lewe saam gedrink het, net te erg. Ek het my laaste paar glasies port geneem in 'n koel tuin wat uitkyk oor Porto. Daar was selfs 'n pou. Ek was net Goddank bly ek kon sit, onder 'n boom. (Aangesien hierdie 'n kos blog is moet ek dalk iets sê oor die port self. Disclaimer: Ek is nie 'n port fan nie. Ek verstaan die plesier van die kompleksiteit van goeie port, en die port wat ek in Porto gedrink het was inderdaad besonder kompleks, met wonderlike geurprofiele, maar, helaas – ek het eenvoudig net nie regtig 'n liefde vir soet drank nie. Ek besef dit maak van my 'n slegte Afrikaner, but there you have it. Die port wat ek die meeste geniet het, en wat ek saamgepiekel het na Toronto, was die baie droeë weergawe, wat minder as 'n handvol portgrotte maak, en wat sterk herinner aan die droeë sjerries wat ek en J in Andalusië gedrink het.)

Oppad af met die heuwel, en weer op met die volgende, het ek besluit om die ander Porto-spesialiteit te probeer – die franceshina. Op papier het die toebroodjie, wat bestaan uit brood, ham, mortadella, wors, steak, mozzarella, en 'n vleis- en biersous, nie vreeslik aanloklik geklink nie. En soms moet ek tog net na my aanvanklike gevoel oor 'n ding luister, want waaragtig, dit was 'n haas onmoontlike ding om klaar geëet te kry. Te vetterig, te veel, veral in die hitte van die somer. Ek het uiteindelik 'n kwart van die monstrosity geëet, en die res teruggestuur na die kombuis. Bly maar eerder weg.




0 comments: