Oct 1, 2014

hoogsomer

Hierdie was dalk die heerlikste ete wat ons voorgesit het die afgelope seisoen. Hoogsomer, 'n al fresco-styl aandete* met die gaste wat ons usual suspects geword het hier in Toronto – Marco, die professor in Wiskunde wat in sy vrye tyd die tabla leer speel, Blake, 'n avant-garde filmmaker wat pork belly sous vide as hy op vakansie is, Justin, 'n film historikus wat soos 'n tiener Trotsky lyk, en Amber, 'n historikus wat ons bekendgestel het aan ons eerste icebox cake.

Die spyskaart was as volg:

Geroosterde en gemarineerde zucchini met kruisement
Ertjies met basilie en prosciutto
Focaccia met swart druiwe en vinkelsaad
Pimenton gevul met Jerusalem couscous
Koftah, bedien met tzatziki en sumac

Rabarber crumble, bedien met vanieljeroomys

Die beste measure van 'n ete wat eintlik net staatmaak op die eenvoud van die seisoen se beste opbrengs is die feit dat die titels van hierdie geregte eintlik reeds als verduidelik. Die zucchini kom uit die River Café Classic Italian Cookbook, word eers gerooster en dan gemarineer in 'n kombinasie van olyfolie, rooiwynasyn, knoffel en rissie, en teen kamertemperatuur bedien – soos al die ander geregte op hierdie spyskaart, ook. Die ertjies met basilie en prosciutto is uit dieselfde boek, en so ook die oorspronklike inspirasie vir die focaccia, alhoewel ons uiteindelik hierdie resep gevolg het, en wat voortaan my go-to resep vir focaccia sal wees. Dit was 'n uitsonderlike sukses – die druiwe bloei in die brood in, sulke diep pers vlekke regdeur. Die focaccia self het heerlike rysgate opgelewer, en die oorskietdeeg, wat ons nog 'n dag in die yskas laat rys het, was nog meer fabelagtig. Die aand se effe dud-gereg was die pimenton gevul met Jerusalem couscous. 'n Nigel Slater-resep, uit Tender Volume 1, het dit bloot nie na veel gesmaak nie. Dit het, desnieteenstaande, pragtig gelyk. Laastens – koftah, effe gebaseer op Yotam Ottolenghi se resep in Jerusalem, maar dis gemaak deur J, wat hom nooit regtig steur aan 'n resep nie. Hul was heerlik.

Poeding was ons albei se baby – ek het rabarber crumble gemaak met die laaste rabarber van die seisoen, en J het vir ons vanieljeroomys aanmekaar geslaan. Die crumble is relatief eenvoudig – gekapte rabarber, strooisuiker, pomelosap en vanieljestroop onder in die bak, en 'n bolaag uit, you guessed it, Nigel Slater se Tender Volume 2, met buiten die gewone meel-botter-suiker, ook gekapte amandel en hawermout. Die roomys, gestippel met vanieljesaadjies, subliem.

*Tegnies was dit dalk nie heeltemal al fresco nie, maar die gees van al fresco dining was wel daar. Ons het die deur na ons balkon oopgelos regdeur die ete, wat seker in ons guns moet tel in hierdie geval. 




0 comments: