Oct 8, 2014

Arkadia se beskuit

Ek bak en droog beskuit, ter voorbereiding van die volgende rowwe paar weke wat wag. Die weer is ook nou weer koeler, meer ontvanklik vir beskuit as 'n mens net wakker geword het, die eerste uur van die oggend wat in ons wêreld nou weer bestaan uit e-posse, skedulering van vergaderings, die naarstiglike lees van die laaste paar bladsye voor ek moet klas toe vertrek.

My ma stuur vir my 'n reeks beskuitresepte, wat sy almal bak, afhangende van die okkasie. (My ma is 'n formidabele beskuitbakker.) Daar is nie oondtemperature by nie, of hoe lank jy dit moet bak nie, wel stukkies raad hier of daar, soos “my skoonma het my geleer mens begin die beskuit eers uitdroog 'n dag nadat jy dit gebak het, dan verkrummel dit minder as jy dit sny”, of “vervang die muesli met cranberries” (my ma is woes mal oor cranberries). Meestal bak ek 'n riff op 'n resep wat sy gekry het by 'n vriendin van haar, wat sy aan my gestuur het as Linda van Rosendal se beskuit. By 'n kilogram meel gooi ek omtrent nog 'n kilogram vesel, 'n kombinasie van All Bran-flakes (ja, ons neig in die rigting van crimplene kos), hawermout, kamut-, spelt- en klappervlokke, pampoen- en sonneblomsade, en twee gerasperde appels. Ek sny die suiker met die helfte – my ma en Linda van Rosendal hou van soet beskuit, ek weer spaar my suiker-kalorieë vir koek. Een baksel hou ons vir ses weke aan die gang, en verskaf gespreksonderwerpe aan almal wat by ons kom kuier, wat glad nie bekend is met beskuit nie, en wat wil weet hoekom ons so baie biscotti in ons glashouers op die rak het. (Dit herinner my aan my ou kombuis in Arkadia, waar daar altyd 'n reuse glasbottel met vanieljesuiker, vol vanieljepeule, op die toonbank gestaan het. Iemand het my eendag gevra hoekom ek my chilli bites in suiker hou.)

Ek luister vir my ma, en wag altyd 'n dag of wat voordat ek begin uitdroog. Ek sny my beskuit in wat my skoonma sal noem lang, elegante vingers. Haar beskuit weer bevat heerlike okkerneute van hul boom op die plaas in Wolmaransstad, maar hier is neute so duur ons s'n moet maar daarsonder bly. Die beskuit word nooit oornag in die oond gelos om te droog nie – my vrees vir 'n huis wat afbrand is te sterk. Buitendien, dis wonderlik om te werk as die hele huis ruik na warm botter.

2 comments:

dinkbeest said...

Daai reuk! Toe my ma kom kuier het het sy vir my twee Tupperware bakke met beskuit gebring, die een met cranberries (haha) en die ander een meer met neute. Kosbaar.
En nou het ek ervaar my tante wat vir my neef in Korea gaan kuier het het ook vir haar seun beskuit gebak en ingepak. Dalk is dit maar 'n Afrikaner ding, maak nie saak waarheen die trek deesdae gaan nie.

Riette said...

Jou ma se beskuit is fantasties, ek kan getuig daarvan. My ma het altyd die beskuit oornag in die oond gelos, ek onthou ek het baiekeer wakker geword en gaan kyk of die huis nog nie afbrand nie...