Sep 10, 2014

parmesaan pudding

Saterdagmiddagete. Ek het die heel oggend gekook – geroosterde rabarber vir die week se post-werk drinks, geroosterde aarbei om te bottel vir aarbeikoek diep in die winter, tamatie- en swartboontjiesous vir huevas rancheros ontbyte in die week, en flatbread deeg vir 'n vinnige aandete vir oor 'n paar dae, as ons te moeg is vir groot kosmaak. Ek is mal oor sulke oggende – ek luister na verskeie Geskiedenisprofessors se klasse oor die Amerikaanse burgeroorlog, of oor siektepandemies in Frankryk in die Middeleeue (my laptop mooi gebalanseer op die strykplank in die hoek van die kombuis), en tussendeur breek ek en J kort-kort vir koffie op die stoep.

Hierdie was middagete. 'n Parmesaan pudding (sout, nie soet, 'n tipe dikkerige vla), uit April Bloomfield se A Girl and Her Pig, wat jy bedien met stukkies geroosterde brood, proscuitto, en in ons geval, geroosterde scapes. Bloomfield bedien hare saam met aspersies, maar die prima aspersietyd is verby in hierdie geweste, en ons is obsessief oor die scapes – hul word heerlik soet as hul gerooster word, en werk fantasties saam met die pudding en die prosciutto.

Ook – dit lyk net so donders mooi.


2 comments:

Marie said...

Waar op dees aarde kom scapes vandaan, de tyd van die jaar? En dit lyk baie, baie lekker.

arcadia said...

Marie, hierdie was in scape seisoen, 'n ruk terug. Dis heerlik lekker, ja.