Aug 27, 2014

toebroodjies met geroosterde vark

Vanaf Lissabon het ek vertrek na Coimbra, met 'n tas wat alreeds te swaar was, vol baie blikkies vis, 'n klein koperpotjie vir ons Toronto kombuis, en geskenke vir almal in SA. Ek wou die klein stadjie vir twee redes besoek – daar is 'n eeue-oue universiteit, die oudste in Portugal en een van die oudstes in Europa. En daar is vark. Ek het gelees van die geroosterde vark wat 'n man in 'n klein restaurantjie in die ou gedeelte van die stad aanbied, en die blote beskrywing het my my treinkaartjie laat bespreek.
Coimbra self voel soos 'n reeks moerse heuwels – soos die res van Portugal, lyk jou kuite soos die van 'n vendusie-perd na 'n dag of drie van aanhoudend stap. Orals waar jy wil uitkom behels eers 'n heuwel of vyftien. Red 'n volk. Ek was exhausted. In alle geval – bo-op een van die heuwels vind 'n mens die ou universiteit, kompleet met 'n antieke biblioteek waarin 'n swerm vlermuise die gebou insek-vry hou, met ou leergebinde boeke op elke rak tot amper teenaan die dak. Die studente dra steeds skouermantels na klas, en onder dit, in die versengende somerhitte, volle formele drag – die mans in swart pakke, die vroue in netjiese swart rompies, wit bloese, en sykouse. Om hul bloot te aanskou het my gedryf na die naaste studentekroeg, vir sit in die koelte en bier drink. Daarna was dit ek en die vark.
 Porto Larga is die naam van die klein restaurantjie waar ek die vark gevind het. Daar is 'n paar tafeltjies, maar meeste van die locals sit by die kroeg. Ek ook. Soos in meeste van die restaurante waar ek geeet het in Portugal, vind die (meestal manlike) clientele dit duidelik effe vreemd om 'n vrou te sien wat alleen eet, en duidelik op haar eie reis. Terwyl ek wag vir my sandes de leitão (broodjie met geroosterde vark), is daar 'n reeks mans wat inkom, vinnig iets drink, en dan weer oppad is. Sommiges drink 'n bica, die Portugese espresso, ander 'n glasie sjampanje, of vermoet. Niemand bly langer as tien minute sit nie. Almal, blyk dit, ken die eienaar. Ons gesels ook, in my uiters, uiters gebroke Portugees, en sy paar woorde Engels. Van waar kom ek, vra hy. Suid-Afrika, sê ek. Bafana Bafana, sê hy. Ja, sê ek. En Nelson Mandela. Ja, Nelson Mandela, sê hy.

Die toebroodjie arriveer. Dit is vol van die mees sappige, delectable vark wat ek nog ooit geëet het. Die eienaar bedien dit saam met 'n glasie van die vark se pansappe, wat jy op jou broodjie smeer soos wat jy aangaan. Ek maak my hele glasie leeg. Die locals is beindruk. Stukkies van die crackling is net vetterig genoeg om jou 'n halwe vark te wil laat verorber, ek hou duidelik daarvan so die eienaar gryp skielik sommer nog 'n handvol en sit dit op my bord. Een van die streke wat my oupa, al lankal saliger, altyd uitgehaal het. Skielik net nog kos op jou bord geskep, om seker te maak jy eet genoeg.
Na die vark het ek gaan sit by in 'n ou kerk wat nou omskep is in 'n restaurant. Jy koop 'n glas wyn, en luister na die fado, laat in die nag. Coimbra fado vereis dat dit deur mans gesing word, en dat alle sangers en musikante die drag van die universiteit dra, insluitend die skouermantels. Die groep mans daardie aand was almal ouer as sewentig, en een van hul, tot my ontsteltenis, die absolute ewebeeld van Jan Rabie. Dalk is dit my ideale weergawe van 'n parallele univers: sandes de leitão net waar jy kyk, en Jan Rabie alive and well, nou 'n fado sanger in Coimbra.

0 comments: