Aug 6, 2014

ricotta kaaskoek met geroosterde rabarber

In die aande, as die son uiteindelik gesak het, lees ek. Daar is tans 'n klein hopie boeke wat handel oor die Amerikaanse Suide langs my bed, aangesien ons hoop om iewers in Louisiana te gaan draai, asook 'n klompie kookboeke. Hierdie week se versameling sluit in Claudia Roden se The Food of Spain, waaraan ek nie heeltemal vat kry nie, Alice Waters se heerlike Chez Panisse Fruit, en Christina Tosi se Momofuku Milk Bar boek. Dis uit die Milk Bar boek wat ek die kors vir hierdie week se rabarberresep gesteel het. Tosi maak wat sy noem cornflake crunch, iets wat aanvanklik so bisar klink jy kan nie anders as om dit te wil probeer nie. Jy meng graanvlokkies met gesmelte botter, 'n bietjie suiker, 'n bietjie sout, en melkpoeier (melkpoeier! Die laaste keer toe ek aan melkpoeier gedink het was toe my ma swanger was en ek 5 jaar oud, en sy in die bad sou sit en die poeiermelk drink vir ekstra kalsium. Alas, I digress) РTosi argumenteer dat die melkpoeier 'n besondere geur aan die eindproduk verleen. Jy rooster dan hierdie mengsel in die oond totdat dit heel bruin is, en laat dan afkoel. Die eindproduk kan gebruik word op roomys, om net so te eet, of om tertkorse mee te maak. Myne het die wêreld as 'n tertkors betree, gevul met Rose Bakery se ricotta kaaskoek (so gepraat van kookboeke, uit hul weergalose Breakfast, Lunch, Tea). Bo-op kom nog rabarber, natuurlik Рgerooster soos ek hier verduidelik het, met lemoensap en vanielje. Dis die pragtigste ding wat ek hierdie hele somer sal maak, skat ek.


Ns: Ek vermoed Tosi het iets beet rondom die melkpoeier. Daai cornflake crunch was donders lekker.





1 comments:

dinkbeest said...

Uhhhh daai geroosterde rababer is 'n killer. Ek sal bietjie die korsie moet probeer!