Aug 13, 2014

clafoutis, en americanos oor ys


'n Saterdag in die stad. Daar was inkopies om te doen (hoender en vis en vark by die Chinese supermark, en hoisin en wasabi en goedkoop oyster mushrooms, en 'n rugsak vol groente en vrugte by die groentewinkel in die hippierige Kensington Market), maar eers moes ons blomme koop. Ek mis die spotgoedkoop Boeremark blomme waartoe ek toegang gehad het in Pretoria ('n bossie klein rosies vir R6, 'n bos tulpe vir R30), maar hier het ons nou wel 'n balkon wat homself leen tot plantpotte, en het ons self tulpe gehad op die stoep in die lente, en 'n krimisroos wat 'n paar weke baie plesier verskaf het voor hy besluit het om te dooi. Die Toronto Flower Market het 'n paar weke terug begin, en is nog maar klein – 'n paar tafels met blomme en plante, 'n stalletjie met tuisgemaakte paletas, en 'n coffee cart. Maar dit is lieflik. Ons het wit krismisroosstingels gekoop, en 'n paar stingels veldblom, met piepklein blommetjies. Hul staan nou op ie eetkamertafel, en is wat ek sien as ek tussendeur die hope leeswerk opkyk.

Ons het teruggestap met ons blomme al langs Queen Street West, en uiteindelik gestop vir americanos oor ys (dis steeds donders warm hier) by Clafouti. Daar was ook gebak – 'n sjokolade en amandel croissant, en 'n kersie clafouti. Projek vir die winter: skerp my pastry skills op. Die woonstelle hier is te warm in die winter om dit in die kombuis te doen, maar moontlik kan ek 'n pastry station oprig op die balkon?

'n Entjie verder het ons die mense hier onder gewaar, besig om te forage van 'n moerbeiboom. Die opgewondenheid wat die seisoen meebring is aansteeklik.






0 comments: