Jul 30, 2014

rabarberstroop

In die laatmiddag, as ons klaar is met ons dag se werk (conference calls met China en Frankryk en modelering en die oplos van probleem op probleem vir J, en lees en skryf en baie depressing Europese flieks kyk vir my), gaan sit ons buite op ons stoepie en kyk uit oor die stukkie stad wat ons kan sien. Daar is meestal net baie hoë geboue en stukke blou lug, en van onder hoor 'n mens die kinders wat speel in die speelpark onder, en die brandweerwaens wat afjaag deur een van die stad se hoofare wat naby ons verbyloop, en die gedruis van die reuse geboue se lugverkoeling, wat meeste aande klink soos die see. Hierdie gevoel word versterk deur die feit dat die wind so dikwels van die meer af inwaai, en alles laat ruik soos die see. Dan sit ons en drink hierdie, die offisiële drankie van somer 2014. Jy rooster rabarber in lemoensap en vars vanielje en meer suiker as wat jy dink gaan nodig wees, tot die rabarber sag is en die pansappe en suiker 'n heerlike stroop vorm. Maak alles fyn (dit help as jy 'n immersion blender het), en druk dan deur 'n sif totdat jy met 'n stroperige substansie sit. Ons drink dit saam met sodawater, of saam met tonic water en pomelosap, en as jy 'n skyfie komkommer by die sodawater-weergawe meng proe dit al te veel na Pimms. Dit werk ook, soos omtrent alles in ons lewe, goed met gin.

0 comments: