Jul 16, 2014

rabarberpondkoek met suurlemoen en ricotta

Ek is tans geheel en al rabarber bedonderd. Ek het die stertkant van die seisoen getref, so probeer so gou as moontlik so veel as moontlik rabarberresepte maak. Eerste op die lys was 'n rabarber en suurlemoen pound cake (pondkoek, dalk?), wat moes dien as Johannes se on-offisiële verjaardagkoek. Ons het snytjies van die koek saamgepiekel na die Toronto eilande, ons rugsakke vol piekniekkos op die veerboot. Die eilande was 'n heerlike verrassing. Geil tuine, eindelose bome met diep koelte om onder te lê. Een punt van die eiland het quaint houthuisies met kinders wat sokker speel of in die vlak waters van Lake Toronto rondplas, en daar's 'n houtpromenade wat vir 'n kilometer of twee langs die meer loop. Op die ander punt is daar 'n naakstrand, en mense wat vis vang of kajak. Daar is selfs 'n lighuis, en 'n klein oulike pretpark vir kinders, kompleet met 'n antieke carousel en reuse swane waarmee jy op die meer kan vaar. Ook intrepid entrepeneurs wat buite hul huisie staan en heeldag vars smoothies maak vir enige iemand wat verby ry op die eiland se vele fietse.

Ons het fietse gehuur en om die eiland gery, ek vir die eerste keer in 15 jaar, en dit was wragtig van die meeste pret wat ek in 'n lang ruk gehad het - die combinatie van die super quant eiland en die verken daarvan te fiets was reguit uit my kinderdae se Famous 5-fantasieë. En natuurlik moes ons piekniek hou. J se verjaardagpiekniek het bestaan uit 'n fougasse, Duitse salami, 'n stukkie erg verouderde cheddar van Food Lovers Market wat ek saamgevlieg het van die huis af, 'n heerlike bokmelkkaas uit Quebec, Grey Owl, sag en bedek met fyn, grys as. En olywe, en vars rooirissie. Gemmerbier wat J gebrou het net voor ek aangeland het, en koue rooibostee in 'n mason jar. Vir nagereg was daar die pound cake. Ongelukkig het ek net die een foto van die koek, nog in die beslag-fase – dit is opgeëet die volgende aand nog voor ek 'n foto kon neem van die eindproduk, deur drie baie honger Kanadese wat hier was vir ete. Die koek is amazing – vol suurlemoenzest en stukkies stroperige rabarber, die krummels fyn, botterig. Daar is 'n stewige skep ricotta ook in, so die hele koek is heerlik klam. Ek was gelukkig met hom net so, sonder 'n glaze, en definitief sonder versiersuiker – die hele punt van 'n koek soos hierdie is sy eenvoud. As jy wel belangstel om te sien hoe die klaargebakte koek lyk, gaan kyk hier, dit is die resep wat ek gebruik het. Intussen moet ek terugkom by my Christian Metz. Tot later.









1 comments:

dinkbeest said...

Wat ek nie nou sou gee vir so 'n lekker snytjie koek nie! Bly julle kan die somer daar geniet :)