Jul 8, 2014

ons eerste somer in Toronto


 Ek is terug in Toronto.

Die laaste week in Suid-Afrika was emosioneel uitputtend – 'n uitval met een van my beste vriendinne, my pa wat in die hospitaal opeindig, en 'n paar dae in 'n stowwerige dorpie in die Wes-Transvaal by my ouma, wat baie dink aan doodgaan en aan alles wat sy beter kon doen in haar lewe. Om te woon in 'n ander land bly 'n geweldige komplekse ervaring. Aan die een kant is 'n mens bewus van die feit dat almal vir wie jy lief is ver van jou is, in 'n omgewing waar hul oorval kan word deur siekte of geweld of dood; ek self het steeds angstige terugflitse van my kapings elke dag wat ek in Pretoria bestuur, en ek besef ek en J sluit obsessief alle deure in die huise waar ons slaap. Maar dit is ons land, dit is bekend, daar is soveel wat my opgewonde maak. Aan die ander kant is daar die land waarin ons ons nou bevind, 'n stad wat uiteindelik al hoe meer bekend voel, met ons eie huis, met ons pragtige tafel en ons swaar potte en ons skerp messe. En noudat dit somer is, 'n taamlik versengende somer, moet ek byvoeg – 'n balkon met die begin van 'n tuin – tamatietjies, aarbeie, basilie en kruiesement en dragon, en 'n komkommer.

Gister het ons afgestap na die stadsaal vir die weeklikse boeremark, en daar was, be still my beating heart, rabarber. Tafels en tafels vol rabarber. En garlic scapes! En vars ertjies, en lieflike dun aspersies, en appelliefies en frambose. Met 'n baie vol rugsak het ons teruggestap huis toe, 'n reuse bos basilie en 12 lang rabarberstele wat uitsteek. Ons eerste somer in Toronto.