Jun 11, 2014

Taberna da Rua das Flores

Ons is weer terug in Pretoria, vir 'n paar weke. Dit is effe surrealisties – ek sit om 'n tafel saam met vriende, of saam met my gesin, en dit voel asof ek glad nie weg was nie, ek glip soomloos in my ou lewe terug. En tog is daar skielik 'n klomp dinge wat ons opval – die hoeveelheid straatligte wat nie werk nie, hoe ridiculously goedkoop vleis is (en hoeveel vleis almal eet), hoe aggressief daar bestuur word.

(Ons sit nou in die bed, 'n stil aand na 'n week van volgepakte kuier. J lees Bitterkomix, en ons luister 'n Yale lesing oor die Industriële Revolusie. Sweet domesticity.)


Hierdie was een van my eerste etes in Lissabon. By 'n restaurant genaamd Taberna da Rua das Flores, 'n klein plekkie met 'n paar tafels wat geen besprekings neem nie, net langs 'n lieflike plein. (Elke plein in Lissabon het kiosks wat drankies verkoop, en die stad se inwoners begin laatmiddag daar vergader, besig om 'n bier of 'n glas wyn of 'n glas ginjinha te drink. Ginjinha is die stad se kersielikeur, waaroor sommige mense mal is maar wat vir my maar bra soos hoesstroop gesmaak het. Ek is wel gaande oor die idee van 'n kiosk en stoeltjies op elke plein, en die laatmiddag ritueel van 'n glas wyn drink omring deur die stad se duiwe.) In alle geval – ek was in die middag by die Taberna, en het begin met 'n brokkolisop. Daarna 'n slaai met elemente wat weer en weer sou opduik oor die volgende paar dae – kekerertjies, konfit bacalhau, gekookte eier, en baie pietersielie, rou ui, en olyfolie. Dit was fabulous.

Oppad huis toe het ek gekyk na teëltjies. Eindelose, eindelose teëltjies.


1 comments:

Leon van Eck said...

Poskaartmooi. Dis ontbyttyd hier in Minnesota, maar ek ruil graag my hawermout vir bietjie van daai slaai.