Jun 24, 2014

mercado da ribeira

Anders as meeste van die markte in Spanje, was die markte wat ek teëgekom het in Portugal baie minder toegespits op toeriste. Daar is 'n verdwaalde Japanese toeris hier en daar, maar meestal is dit ouerige ooms en tannies wat besig is om hul week se vis en groente te koop by ander ou ooms en tannies. Die verskeidenheid is nie reusagtig nie – buiten die vis en groente is daar 'n bietjie vleis, 'n paar broodjies, en dan in die geval van Lissabon, heelwat ruikers vir grafte of monumente of iets in der voege. Ander interessante dinge wat te koop aangebied is sluit in sakkies met caracóis, en twee tipes paling, insluitend 'n paar Moray eels.








Jun 18, 2014

pastéis de Nata



Ontbyt in Lissabon was interessant. Ek het gebly in 'n pension bestuur deur 'n ouerige tannie, geweldig vriendelik en goedhartig, wat bietjie Engels kon praat en my op dag 1 vertel het hoe 'n mens my naam sou uitspreek in Portugal, en toe vir die res van my tyd daar dit presies so uitgespreek het, behalwe die een dag wat ek in 'n wit rokkie uit my kamer gekom het en sy uitgeroep het, “You look like angel!”, en my toe angel genoem het vir die res van die dag. Sy het ook vir ons elke oggend rooi jellie gemaak vir ontbyt – ek het gewens my ma was daar, sy wat so lief is vir jellie dat een van haar grootste drome is om eendag 'n reuse quivering jellie te maak, groot genoeg vir 'n klein kindjie om in te duik. Ek het sadly nie so groot liefde vir jellie nie, so het meeste oggende uitgeskip op die ontbyt (en die baie slegte koffie, wragtig die enigste slegte koffie wat ek in Portugal gedrink het), vir pastéis de Nata en 'n dubbele shot bica (hul weergawe van espresso).

Voor Lissabon was ek nie 'n fan van die vlatertjie nie. But consider me converted. Die beste plekkies in die stad bedien hul effe warm, met papierdun lagies pastry wat shatter as jy in die tertjie inbyt. Ek het een middag ses van hul geëet vir middagete, by Pastéis de Belem, in 'n kamertjie van hoek tot kant oordek met teëls. I regret nothing.



Jun 11, 2014

Taberna da Rua das Flores

Ons is weer terug in Pretoria, vir 'n paar weke. Dit is effe surrealisties – ek sit om 'n tafel saam met vriende, of saam met my gesin, en dit voel asof ek glad nie weg was nie, ek glip soomloos in my ou lewe terug. En tog is daar skielik 'n klomp dinge wat ons opval – die hoeveelheid straatligte wat nie werk nie, hoe ridiculously goedkoop vleis is (en hoeveel vleis almal eet), hoe aggressief daar bestuur word.

(Ons sit nou in die bed, 'n stil aand na 'n week van volgepakte kuier. J lees Bitterkomix, en ons luister 'n Yale lesing oor die Industriële Revolusie. Sweet domesticity.)


Hierdie was een van my eerste etes in Lissabon. By 'n restaurant genaamd Taberna da Rua das Flores, 'n klein plekkie met 'n paar tafels wat geen besprekings neem nie, net langs 'n lieflike plein. (Elke plein in Lissabon het kiosks wat drankies verkoop, en die stad se inwoners begin laatmiddag daar vergader, besig om 'n bier of 'n glas wyn of 'n glas ginjinha te drink. Ginjinha is die stad se kersielikeur, waaroor sommige mense mal is maar wat vir my maar bra soos hoesstroop gesmaak het. Ek is wel gaande oor die idee van 'n kiosk en stoeltjies op elke plein, en die laatmiddag ritueel van 'n glas wyn drink omring deur die stad se duiwe.) In alle geval – ek was in die middag by die Taberna, en het begin met 'n brokkolisop. Daarna 'n slaai met elemente wat weer en weer sou opduik oor die volgende paar dae – kekerertjies, konfit bacalhau, gekookte eier, en baie pietersielie, rou ui, en olyfolie. Dit was fabulous.

Oppad huis toe het ek gekyk na teëltjies. Eindelose, eindelose teëltjies.


Jun 6, 2014

Lissabon en caracóis

Ons is tans in die Kaap vir 'n paar dae, terwyl ons kuier in die land vir 'n paar weke. Ek sit en skryf hierdie in Simonstad terwyl ek kyk vir die see. Dit gaan netnou reën. Gisteraand het ons 'n geelstert gebraai wat ons in Kalkbaai gekoop het. Daar was ook 'n tuna, maar die vis was so reusagtig ons sou die hele buurt moes nooi vir ete. Toe koop ons maar die geelstert. Hy is eenvoudig gaar gemaak – baie knoffel, suurlemoen en tiemie. Nie te lank op die vuur nie.
(Ek kom nou al vir vyf jaar na hierdie seehuis van J se gesin, besef ek gisteraand toe ek aan die slaap raak. Die tuin ruik steeds na boegoe, en vir die eerste keer is ek hierdie tyd van die jaar in die rondte om die proteas te sien blom. Jare terug het ons eers het ons geslaap in aparte kamers, soos goeie Afrikaner Calviniskinders betaam, en toe later in dieselfde kamer, in twee verskillende beddens. Gisteraand het ons die twee beddens vir die eerste keer teen mekaar geskuif, en beurte gemaak om so halfpad in die gat tussen die matrasse te lê. Watter paaie het ons nie gereis om tot hier te kom nie.)
Hierdie keer het ek via Portugal gevlieg van Toronto af, waar ek 'n paper by 'n konferensie moes lewer. Ek was 'n week lank in Lissabon, en as ek nie besig was om te luister na Deleuzian readings of New Wave Romanian film nie, het ek foto's geneem van teëltjies, of gesoek na kos. Die teëltjies in Portugal is oorrompelend, 'n eindelose muurpapier wat oor die stad strek. (Die stad self voel soos 'n curious kombinasie van Vishoek, Mosambiek, en Spanje). Ek het meestal vis of seekos geëet, 'n paar keer 'n churrasquiero gevind wat peri-peri chicken braai oor die vuur. En pastries. Baie pastries.

In die lente is dit tyd vir caracóis, klein skulpies waarin nog kleiner slakkies skuil. Die restaurante maak reuse potte caracóis (uitgespreek karra-kosh) in 'n broth met baie olyfolie, knoffel en kruie, en bedien bordevol daarmee as 'n pre-dinner happie, saam met 'n glas wyn. Die toeriste is nie besonder gaande daaroor nie, maar die locals raak uiters opgewonde as die caracói arriveer. Jy gebruik 'n tandestokkie om die klein slakkie uit sy skulp te haal, en ek het baie gou geleer dat die eet van caracói maar dikwels 'n pretty shitty besigheid kan wees – die slakkies is heerlik, maar die spysverteringstelsel is nog solidly aanwesig, en hul is so klein dat dit amper onmoontlik is om dit mis te eet. So wees gereed vir slakkakkies. It's part of the deal.