Nov 26, 2014

Porto se portgrotte

Ek kon nie in Porto wees en nie gaan port proe nie. Vanuit die stad stap jy oor die Arrábida brug, oor die Douro-rivier, waarop die barges toentertyd die vatte port sou vervoer. Oorkant die Douro lê Vila Nova de Gaia, waar die portkelders, of grotte, soos hul genoem word, geleë is. Die wonderlike deel van die hele uitstappie is dat jy kan stap van portgrot tot portgrot, iets wat wynproe in Stellenbosch byvoorbeeld baie meer aanloklik sou gemaak het, veral vir die bestuurder wat altyd sy wyn moet spoeg in plaas van drink. Wel, dis aanvanklik die wonderlike deel. Totdat jy besef dat jy teen 'n donderse heuwel moet uitklim elke keer wat jy na 'n volgende portgrot wil skuif, en weet jul hoeveel alkohol is daar in port? Red 'n volk. Teen my derde portgrot het ek besluit dit moet nou ook maar my laaste wees, die kombinasie van heuwels en versengende son en meer port op een slag as wat ek al in die hele res van my lewe saam gedrink het, net te erg. Ek het my laaste paar glasies port geneem in 'n koel tuin wat uitkyk oor Porto. Daar was selfs 'n pou. Ek was net Goddank bly ek kon sit, onder 'n boom. (Aangesien hierdie 'n kos blog is moet ek dalk iets sê oor die port self. Disclaimer: Ek is nie 'n port fan nie. Ek verstaan die plesier van die kompleksiteit van goeie port, en die port wat ek in Porto gedrink het was inderdaad besonder kompleks, met wonderlike geurprofiele, maar, helaas – ek het eenvoudig net nie regtig 'n liefde vir soet drank nie. Ek besef dit maak van my 'n slegte Afrikaner, but there you have it. Die port wat ek die meeste geniet het, en wat ek saamgepiekel het na Toronto, was die baie droeë weergawe, wat minder as 'n handvol portgrotte maak, en wat sterk herinner aan die droeë sjerries wat ek en J in Andalusië gedrink het.)

Oppad af met die heuwel, en weer op met die volgende, het ek besluit om die ander Porto-spesialiteit te probeer – die franceshina. Op papier het die toebroodjie, wat bestaan uit brood, ham, mortadella, wors, steak, mozzarella, en 'n vleis- en biersous, nie vreeslik aanloklik geklink nie. En soms moet ek tog net na my aanvanklike gevoel oor 'n ding luister, want waaragtig, dit was 'n haas onmoontlike ding om klaar geëet te kry. Te vetterig, te veel, veral in die hitte van die somer. Ek het uiteindelik 'n kwart van die monstrosity geëet, en die res teruggestuur na die kombuis. Bly maar eerder weg.




Nov 12, 2014

mercado do bolhão, Porto

Vanaf Coimbra het ek vertrek na Porto. Die stad was ook, tot my groot plesier, oortrek met teëltjies. Ek het nog vis geëet, en nog pasteis de nata, en ook nog churrasqueiro, oftewel gebraaide hoender. En nog vinho verde gedrink – my hostal het 'n klein kafeetjie op die onderste vloer gehad, waar die vriendelike man agter die toonbank sommer aanbied om jou bottel wyn vir jou oop te maak as jy betaal.

Die voorlaaste dag in die land het ek gaan soek na die mark. Soos in Lissabon is die Porto mark minder van 'n toeriste-aantreklikheid as wat 'n mens byvoorbeeld in Barcelona sou vind – meeste van die besoekers is daar om hul weeklikse (of daaglikse) kruideniers aan te skaf. Ek het 'n paar dinge opmerklik gevind. Hoe interessant die stalletjies van binne vertoon het, dikwels met prente van heiliges of sokkerspanne. Hoe oud heelwat van die tannies is wat steeds heeldag op hul voete spandeer, en flink te werk gaan asof hul dit al hul hele lewe lank doen, wat moontlik die geval is. Die groot liefde vir plastiekblomme, waarvan daar stalletjies vol te koop is. Die feit dat elke slagter 'n koutjie met 'n voëltjie buite sy winkel het, dikwels met die naam van 'n sokkerspan op die kou self. Stalletjies met net lewendige diere – jy neem self jou hoender of haas huis toe vir slagdag.















Oct 22, 2014

dinner party met die professore

'n Flashback na die somer. Ons het drie van my professore oorgenooi vir ete, vir die eerste keer. Dit het ons gedwing om die huis skoon te maak (soms dink ek dis een van die hoofredes hoekom ek heeltyd mense oornooi, dit dwing my om die huis in orde te kry), en om 'n indrukwekkende spyskaart aanmekaar te slaan. Ons het besluit om dit 'n greatest hits of the summer-ete te maak. So lyk dit toe:

Parmesaan pudding met bruschetta, aspersies, en prosciutto

Geroosterde en gemarineerde zucchini met basilie
Boerbone met feta en kruisement
Focaccia met swartdruiwe en vinkelsaad
Tomatoes a la crème
Nektarien, basilie en rooi-uislaai
Vinkel- en granaatslaai
Mititei, bedien met tzatziki en sumac

Karpatka

Ek het ongelukkig geen foto's, buiten die van die foccacia nie – ons was te besig om skoon te maak. Die gaste is laaaat eers weg.



Oct 17, 2014

vlierblomstroop met sodawater

Ons drink nog van die somer se vlierblomstroop, self gemaak hierdie keer. J post binnekort die proses.

Oct 10, 2014

koek vir die naweek

Donder, hierdie maak my gelukkig. Roomkaasversiersuiker met geroosterde aarbeie, tussendeur al my gestoeiery met Ernesto Laclau.


Oct 8, 2014

Arkadia se beskuit

Ek bak en droog beskuit, ter voorbereiding van die volgende rowwe paar weke wat wag. Die weer is ook nou weer koeler, meer ontvanklik vir beskuit as 'n mens net wakker geword het, die eerste uur van die oggend wat in ons wêreld nou weer bestaan uit e-posse, skedulering van vergaderings, die naarstiglike lees van die laaste paar bladsye voor ek moet klas toe vertrek.

My ma stuur vir my 'n reeks beskuitresepte, wat sy almal bak, afhangende van die okkasie. (My ma is 'n formidabele beskuitbakker.) Daar is nie oondtemperature by nie, of hoe lank jy dit moet bak nie, wel stukkies raad hier of daar, soos “my skoonma het my geleer mens begin die beskuit eers uitdroog 'n dag nadat jy dit gebak het, dan verkrummel dit minder as jy dit sny”, of “vervang die muesli met cranberries” (my ma is woes mal oor cranberries). Meestal bak ek 'n riff op 'n resep wat sy gekry het by 'n vriendin van haar, wat sy aan my gestuur het as Linda van Rosendal se beskuit. By 'n kilogram meel gooi ek omtrent nog 'n kilogram vesel, 'n kombinasie van All Bran-flakes (ja, ons neig in die rigting van crimplene kos), hawermout, kamut-, spelt- en klappervlokke, pampoen- en sonneblomsade, en twee gerasperde appels. Ek sny die suiker met die helfte – my ma en Linda van Rosendal hou van soet beskuit, ek weer spaar my suiker-kalorieë vir koek. Een baksel hou ons vir ses weke aan die gang, en verskaf gespreksonderwerpe aan almal wat by ons kom kuier, wat glad nie bekend is met beskuit nie, en wat wil weet hoekom ons so baie biscotti in ons glashouers op die rak het. (Dit herinner my aan my ou kombuis in Arkadia, waar daar altyd 'n reuse glasbottel met vanieljesuiker, vol vanieljepeule, op die toonbank gestaan het. Iemand het my eendag gevra hoekom ek my chilli bites in suiker hou.)

Ek luister vir my ma, en wag altyd 'n dag of wat voordat ek begin uitdroog. Ek sny my beskuit in wat my skoonma sal noem lang, elegante vingers. Haar beskuit weer bevat heerlike okkerneute van hul boom op die plaas in Wolmaransstad, maar hier is neute so duur ons s'n moet maar daarsonder bly. Die beskuit word nooit oornag in die oond gelos om te droog nie – my vrees vir 'n huis wat afbrand is te sterk. Buitendien, dis wonderlik om te werk as die hele huis ruik na warm botter.

Oct 3, 2014

gin en pomelosap

Die dag wat ons uitgevind het ons roomysmaker kan ook wonderlike frozen cocktails maak, was die begin van die einde.

Oct 1, 2014

hoogsomer

Hierdie was dalk die heerlikste ete wat ons voorgesit het die afgelope seisoen. Hoogsomer, 'n al fresco-styl aandete* met die gaste wat ons usual suspects geword het hier in Toronto – Marco, die professor in Wiskunde wat in sy vrye tyd die tabla leer speel, Blake, 'n avant-garde filmmaker wat pork belly sous vide as hy op vakansie is, Justin, 'n film historikus wat soos 'n tiener Trotsky lyk, en Amber, 'n historikus wat ons bekendgestel het aan ons eerste icebox cake.

Die spyskaart was as volg:

Geroosterde en gemarineerde zucchini met kruisement
Ertjies met basilie en prosciutto
Focaccia met swart druiwe en vinkelsaad
Pimenton gevul met Jerusalem couscous
Koftah, bedien met tzatziki en sumac

Rabarber crumble, bedien met vanieljeroomys

Die beste measure van 'n ete wat eintlik net staatmaak op die eenvoud van die seisoen se beste opbrengs is die feit dat die titels van hierdie geregte eintlik reeds als verduidelik. Die zucchini kom uit die River Café Classic Italian Cookbook, word eers gerooster en dan gemarineer in 'n kombinasie van olyfolie, rooiwynasyn, knoffel en rissie, en teen kamertemperatuur bedien – soos al die ander geregte op hierdie spyskaart, ook. Die ertjies met basilie en prosciutto is uit dieselfde boek, en so ook die oorspronklike inspirasie vir die focaccia, alhoewel ons uiteindelik hierdie resep gevolg het, en wat voortaan my go-to resep vir focaccia sal wees. Dit was 'n uitsonderlike sukses – die druiwe bloei in die brood in, sulke diep pers vlekke regdeur. Die focaccia self het heerlike rysgate opgelewer, en die oorskietdeeg, wat ons nog 'n dag in die yskas laat rys het, was nog meer fabelagtig. Die aand se effe dud-gereg was die pimenton gevul met Jerusalem couscous. 'n Nigel Slater-resep, uit Tender Volume 1, het dit bloot nie na veel gesmaak nie. Dit het, desnieteenstaande, pragtig gelyk. Laastens – koftah, effe gebaseer op Yotam Ottolenghi se resep in Jerusalem, maar dis gemaak deur J, wat hom nooit regtig steur aan 'n resep nie. Hul was heerlik.

Poeding was ons albei se baby – ek het rabarber crumble gemaak met die laaste rabarber van die seisoen, en J het vir ons vanieljeroomys aanmekaar geslaan. Die crumble is relatief eenvoudig – gekapte rabarber, strooisuiker, pomelosap en vanieljestroop onder in die bak, en 'n bolaag uit, you guessed it, Nigel Slater se Tender Volume 2, met buiten die gewone meel-botter-suiker, ook gekapte amandel en hawermout. Die roomys, gestippel met vanieljesaadjies, subliem.

*Tegnies was dit dalk nie heeltemal al fresco nie, maar die gees van al fresco dining was wel daar. Ons het die deur na ons balkon oopgelos regdeur die ete, wat seker in ons guns moet tel in hierdie geval. 




Sep 26, 2014

espresso roomys

My wonderlike skoonouers weet presies watter geskenke om vir my te koop – in Mei, net voor ek Portugal toe gevlieg het, het daar skielik 'n roomysmaker attachment vir ons Kitchenaid opgedaag by ons voordeur, wat baie squeals of glee tot gevolg gehad het. (Oor die Kitchenaid self moet ek eintlik nog ook post – ons begeer al jare een, en het toe as trougeskenk een gekry by die einste skoonouers, en gebruik dit vir alles, heeldag.) In alle geval. Ons maak konstant roomys of sorbet deesdae. Vanieljeroomys van vet vanieljepeule, kersiesorbet van die sakke en sakke kersies wat heel somer al in die winkels staan, en vanoggend hierdie – espressoroomys. Vanag Hugh Fearnley-Whittingstall se resep in die Guardian, en 'n lafenis in hierdie Toronto humiditeit.

(Die pragtige pienk bakkie is deel van 'n stel wat ek in Junie teruggevlieg het van SA, 'n geskenk van my ouers. Ons hele kombuis is 'n versameling objekte wat ons herinner aan al ons gunsteling mense.)


Sep 24, 2014

weeksoggend

Die eerste paar ure van my dag is 'n kombinasie van vroegoggend koffie (vanuit die trusty Bialetti wat altyd op die stoof woon; my kaffeïninname het met 400% toegeneem vandat ek hierdie doktorsgraad begin het) en ontbyt (geroosterde rog met kaas), en 'n laaaaang lys leeswerk. Vandag sluit dit in Fredric Jameson se Geopolitical Aesthetics, Jacques Ranciére se Emancipated Spectator, en groot dele van die merske Narrative, Apparatus, Ideology. Amper onmoontlik om te dink ek was 'n paar maande terug salig in Portugal, besig om te kyk na nuuskierige tannies, en eindelose teëltjies. Ook – hoekom lyk alle groentewinkels nie so pragtig nie?



Sep 19, 2014

bessiesorbet

Die naweek se treat, in die Poolse Roncesvalles, vol winkeltjies bestuur deur ou ooms en tannies uit die old country. Hierdie is van Ed's Real Scoop, 'n nuwe winkel in die buurt. Drie geure sorbet - aarbei, framboos, en swartbessie. Al die roomys word in die winkel gemaak, met 'n reuse glasvenster waar jy kan sien hoe hul te werk gaan. Ons was enraptured.

Sep 17, 2014

die somer van inlê

Na 'n winter van aanpassing het hierdie woonstel uiteindelik hierdie somer soos ons huis begin voel. Ons het selfs 'n pragtige rak vol gebottelde goedere – die eerste keer in ons lewe wat ons aktief inmaak, 'n kombinasie van opgewondenheid oor die bounty van varsprodukte wat die somer hier beskikbaar was, en 'n behoefte aan die estetiek wat 'n ry bottels verleen aan 'n kombuis. In die proses van navorsing doen oor die inmaakproses het ons ook besef dat 'n mens se meeste inligting kom uit twee oorde – VLU-tipe websites, met raad van ou tannies in die Wes-Transvaal, en prepper websites, wat ons aanraai om nie net ons eie kos in te maak vir die dreigende apokalips nie, maar ook sommer ons eie graanmeul aan te skaf. Tot dusver het ons die aalbessies in gin, Indiese tamatieblatjang, bloubessies in brandewyn, aarbeikompot, rabarberkompot, en baie, baie bottels kosher piekels. Ek voel effe soos die flukse mier wat voorberei vir die Kanadese yswoestyn wat ons voorland is oor 'n paar maande.

Hieronder nog gastroporn outtakes – die geroosterde aarbeikompot, waaroor ek al soveel geskryf het, en rabarber, ook net op die punt om in die oond gestoof te word, met bietjie pomelosap en vars vanieljestroop.




Sep 12, 2014

boeremark op 'n Saterdag

Pragtig, maar meeste van die tyd ongoddelik duur. Hierdie mense sal 'n hartaanval kry as hul ooit by Pretoria se Boeremark moet uitkom.



Sep 10, 2014

parmesaan pudding

Saterdagmiddagete. Ek het die heel oggend gekook – geroosterde rabarber vir die week se post-werk drinks, geroosterde aarbei om te bottel vir aarbeikoek diep in die winter, tamatie- en swartboontjiesous vir huevas rancheros ontbyte in die week, en flatbread deeg vir 'n vinnige aandete vir oor 'n paar dae, as ons te moeg is vir groot kosmaak. Ek is mal oor sulke oggende – ek luister na verskeie Geskiedenisprofessors se klasse oor die Amerikaanse burgeroorlog, of oor siektepandemies in Frankryk in die Middeleeue (my laptop mooi gebalanseer op die strykplank in die hoek van die kombuis), en tussendeur breek ek en J kort-kort vir koffie op die stoep.

Hierdie was middagete. 'n Parmesaan pudding (sout, nie soet, 'n tipe dikkerige vla), uit April Bloomfield se A Girl and Her Pig, wat jy bedien met stukkies geroosterde brood, proscuitto, en in ons geval, geroosterde scapes. Bloomfield bedien hare saam met aspersies, maar die prima aspersietyd is verby in hierdie geweste, en ons is obsessief oor die scapes – hul word heerlik soet as hul gerooster word, en werk fantasties saam met die pudding en die prosciutto.

Ook – dit lyk net so donders mooi.


Sep 5, 2014

St Lawrence kosmark

Ons treat vir verlede naweek - seekos vanaf Buster's Sea Cove, by die St Lawrence kosmark. My heel eerste (!!) lobster roll, en gebraaide sardientjies vir J. Orgasmies.


Sep 3, 2014

naweek in muskoka

Toe ons besig was om huis te soek in Toronto was my prioriteite 1) genoeg lig, 2) sentraal geleë*, en 3) met die potensiaal om my braaibehoeftes te vervul. Die lieflike woonstel wat ons uiteindelik gevind het het voldoen aan 1) en 2), maar nie aan 3) – ons is 25 vloere in die lug, met 'n klein balkonnetjie waarop ons nie mag vuur maak nie. Daarmee saam is die stad van Toronto uiters paranoïs oor vuur maak in openbare parke (anders as ons ervaring in Engeland, waar enige mooi dag 'n rede is om 'n vleisie in die common te braai), so ons moontlikhede vir braai is meeste van die tyd nul. This depresses me to no end. J maak 'n plan – ons kan 'n naweek noord van die stad spandeer, in die Muskoka-meer area van Ontario, waar jy kan cottage (ja, dit word hier as 'n werkwoord gebruik), en kan barbeque.

Ons huur 'n kar. 'n Medium-grootte kar, lyk dit vir ons vooraf op die webwerf. Teen die tyd wat ons dit optel het die medium-grootte kar 'n reusagtige SUV geword, wat ons weereens laat besef dat alles, ALLES op hierdie kontinent probeer groter wees as die res van die wêreld. Ons durf die stad se paaie aan, histeries aan't lag in absolute angs oor aan die verkeerde kant van die pad bestuur, die vreemde bestuursreëls waaraan ons nie gewoond is nie, en hoe Godsonmoontlik dit is om ooit fokken links te draai. Ons ry deur die wasteland van die Greater Toronto Area wat groot dele van Randburg resemble, eindelose strip malls en nog reuse karre, hoofwëe en drive-through kitskosrestaurante, onder andere 'n McDonalds met 'n reusagtige ballon van Ronald McDonald op die winkel se dak. Dan, uiteindelik, is 'n mens uit die stad. Daar is groen velde, die pragtigste skure en silo's, en padstalletjies met vars Ontario soetmielies en wildebloubessies, nou in seisoen.





Oppad stop ons vir 'n butter tart in Bracebridge. Die butter tart is 'n Kanadese gunsteling – basies soos 'n pekanneuttert sonder die neute, wat nie vir my vreeslik sin maak nie. In alle geval. Na die butter tart ry ons tot buite Huntsville, waar ons 'n cottage gehuur het vir die naweek. Daar is 'n meer op die eiendom, en 'n groentetuin met rabarber. Ek wonder hoeveel rabarber ek kan steel sonder dat die eienaars gaan agterkom. Daar is ook black flies, 'n tipe muskiet wat ons baie gou uitvind, wragtig tande het. Soos hul jou byt sit die bloed aan jou bene en arms. Ons drink gin vir die pyn, en dan kry J dit reg om my in 'n kano te laat klim. Ek kry dit reg om 'n halfuur lank te vaar sonder dat enige iets omtiep. Ek voel uiters accomplished. Daar is iets oor die Muskoka-area wat 'n mens vreeslik aan 'n Amerikaanse tipe Famous 5-avontuur herinner. Dalk is dit die summer camps wat diep in die Algonquin Nasionale Park, wat ons besoek, geleë is, of die feit dat almal besig is om 'n kano iewers heen te vaar, of deur die bos te stap op dae-lange hikes. Alles voel baie heilsaam. Op 'n opwindende Enid Blyton-manier, maar met meer gin.


Teen die aand besef ons dat my planne vir braai in die wiele gery word deur die feit dat ons cottage uiteindelik net oor 'n donderse propane-braai beskik, 'n baie algemene verskynsel hier. Die mielies en Nigel Slater se knoffelbrood probeer ons balanseer so om die fire pit, en uiteindelik braai ons ons wors op die stoof. Die volgende dag sien ons bewerdamme, chipmunks, en 'n moose, eet heerlike maple walnut roomys, en klap ure lank black flies dood.

Terug by die huis spandeer ons die res van die week aan verwoed ons bytplekke krap, J se voete in so ergerlike toestand dat hy soos 'n waterpokkiekleuter 'n bottel calamine lotion gaan koop.

(Ek is steeds lus vir 'n ordentlike braai.)

*helaas, nie naby die 224 nie.