Nov 18, 2013

kekerertjiesop met pancetta en gerookte paprika

Dit is herfs hier. Nie die week-lange herfs wat ek in Pretoria ervaar het nie, maar properse herfs. Pampoene op elke straathoek, weer wat 'n woljas vereis, rooi en geel blare, heeltyd, orals. En stadigaan begin dinge gestalte kry, hier. Ons het 'n tafel gekoop, wat 'n hele post opsigself vereis. Ons kry dit al amper reg om drie etes 'n dag te eet. Ons het nog glad nie gewoond geraak aan die belaglike hoë drankpryse nie. Ons het 'n supermark gevind waarvan ons hou, en 'n groentewinkel, en het 'n pragtige grys flennie duvet aangeskaf wat my eindeloos plesier. Ons kook weer, maar neem die vreeslikste foto's, so moet geen wondere verwag vir die volgende paar maande nie; duidelik het my oog vir 'n ruk die kamer verlaat.

Daar is nog nie vreeslike involved disse nie. Tacos met oondgebraaide vark en chipotle salsa. Puy lensies met vars tiemie en ui, 'n stukkie vis uit die Chinese supermark bo-op, vinnig in die pan gebraai met baie knoffel en baie suurlemoen. Of hierdie, 'n Spaanse kekerertjiesop met pancetta en donders baie gerookte paprika, en brood.

Ja, ons het weer begin brood bak. Selfs die goedkoop, slegte brood hier is ongoddelik duur, and ain't nobody got time for that. Niks soos kontinentale displacement om jou te laat besef waar jou prioriteite lê nie. In die lig van verlange, en siekte en geweld en dood, eggo Antjie Krog dag na dag in my kop. Waar en hoe oorleef mens dit? Ek is steeds nie seker nie. Maar dalk begin ons hiermee. Goeie brood. 'n Eie tafel. 'n Arsenaal geliefdes. 'n Man wat my huis geword het.

3 comments:

riette said...

...'n man wat my huis geword het. Love dit. Ons mis julle en sal J ook voer as hy hier land.

the sourcerer said...

ja. pragtig.
ek het terug gekom van die woestyn na so 'n man.
en 'n poskaart! dankie.
xxL

Leon van Eck said...

Ek is so bly jy begin nou wortel skiet daar in die vreemde. Dis 'n wonderlike avontuur, en nog beter met 'n sielsgenoot.