Oct 28, 2013

growwebeskuit met pampoenpitte en sonneblomsaad

Maandagoggend. Ek sit by die huis en lees Deleuze en Guattari se A Thousand Plateaus vir klas, terwyl J kwaai eposse die wêreld instuur en frustreerd loer na diagramme. Ons roetine hier is anders as in Pretoria: drie dae in die week is ek nou die een wat die huis verlaat en elders toil, terwyl J van die huis af werk. As die melk op is is hy die een wat af hardloop na die winkel onder ons gebou, hy is die een wat die hoender uit die vrieskas haal om te ontvries. Maandae en Vrydae werk ek tuis, en dan is daar 'n berg lees- en skryfwerk wat gebeur, en tussenin allerhande huistake. Wasgoed, vloer-vee, kosmaak. Vanoggend het ek beskuit uitgedroog, na ek dit Vrydagaand gebak het terwyl J bier brou (ons eerste Kanadese bier!) en ons tot laat in die nag na Kubaanse musiek luister. My ma het my daarop gewys dat haar skoonma haar geleer het dat 'n mens die beskuit eers vir 'n dag of wat laat staan voor jy dit uitdroog, en aangesien ek deel van die skoonma se naam geërf het het ek besluit dit is dalk tyd om vir haar te begin luister. Gisternag het ons begin uitdroog, terwyl ek tot laat sit en poskaarte addresseer het aan die wêreld, en vanoggend dun vingers growwebeskuit met pampoenpitte en sonneblomsaad in die bed sit en eet. In Groot Trek-gedenkbakkies wat ek op ons wittebrood in 'n antieke winkel in Ashton opgespoor het, en saamgevlieg het hierheen. Meta-diaspora, in porselein.

4 comments:

reneywarringtoncoetzee said...

awesome

reneywarringtoncoetzee said...

ek soek die resep.

Anonymous said...

yay!! julle is op die lug. ek dink so BAIE aan julle twee, en hoop dat dinge relatief goed gaan in die vreemde. ek is besig met PhD aansoek by Erasmus Universiteit, maar sal dit vanuit Jozi doen, omdat my man se werk hier is [in mining, droefgeestig...] maar sal my voortande gee om 'n jaar of wat in die vreemde te kan vertoef. sterkte met alles.
marlette

Riette said...

Oe dis 'n baie mooi foto. Die beskuit lyk super lekker.