Sep 19, 2013

hier's ons weer

Vandag is my veertiende dag in Toronto. Ek huil nog elke dag. Anders as Dan Roodt dink ek waaragtig nie Pretoria is die Parys van Afrika nie, maar die stad het 'n vermoë om clusters fantastiese mense aan jou vas te heg, en die losskeur is traumaties.

J arriveer môre-aand. Ons is, terloops, vandag nege-en-dertig dae getroud. Hierdie is ons op ons troudag. Die foto is geneem ure na die seremonie, toe selfs die ete in die tuin op 'n einde was, en die laaste vriende geskuif het na my ouers se kombuis vir 'n tweede rondte kos en sjampanje. Ek kan nie onthou waaroor ek en J besig was om hier te praat nie, maar die singular ervaring van daar staan in my two-tone skoentjies, met die man met wie ek uiteindelik getrou het, omring deur 'n kombuis vol boisterous vriende wat so donders happy is dat ons afgehaak het, is een wat my tans onderskraag.

In terme van kos is hier nog min om te vertel. 'n Student se begroting beteken ek eet baie brood, die gebrek aan 'n eie kombuis beteken ek eet baie eenvoudige disse, soos roereier (wat die dubbele doel dien van proteine voorsien teen slegs $1 'n porsie!), en die kombinasie van 'n berg leeswerk en die naarstiglike soeke na 'n woonstel beteken ek het nog nie tyd gehad om 'n enkele Kanadese spesialiteit te gaan opsoek nie. Maar ek skryf weer hier, en dit is goed. Voer het begin as 'n platform vir my en J om te praat (met mekaar, meer as enige iets anders), oor die kos wat ons besig was om te maak aan verskillende kante van die wêreld. En deur baie omwentelinge is ons hier, op 'n kontinent waar niemand ons name kan uitspreek nie, besig om sin te maak van trauma, van diaspora, van meer geliefd wees as wat ons ooit voor kon hoop. Dis tyd om weer te begin kos maak.

(Onder in die straat speel iemand Love Will Tear Us Apart Again. Red 'n volk. Selfs al is hul ver.)

Naskrif: Die foto is geneem deur Riette, van http://pretoriachique.blogspot.ca/ , en shamelessly gesteel deur my.

3 comments:

Leon van Eck said...

Alle voorspoed en sterkte en sukses! Die gemis gaan nie heeltemal weg nie, maar sal met tyd oorgeneem word deur die opwinding en avontuur van jou nuwe omgewing! Onwards & upwards!

the sourcerer said...

dink aan julle!

Potjie said...

Voorspoed met jou soeke na Kanadese kos! Ek het een aand 'n klomp Kanadese in my suster se kombuis in Vancouver gevra wat is tipies Kanadees, nie Noord Amerikaans nie maar Kanadees, daai tjips met "gravy en cheese curd" was omtrent al wat hulle mee kon opkom, behalwe enige iets met maple syrup natuurlik. Geniet Kanada, een van die dae sal die trane minder wees, en mag jy dalk selfs voel jy raak lief vir die land. Toronto het 'n nice "food scene' blykbaar, geniet dit!