Nov 18, 2013

kekerertjiesop met pancetta en gerookte paprika

Dit is herfs hier. Nie die week-lange herfs wat ek in Pretoria ervaar het nie, maar properse herfs. Pampoene op elke straathoek, weer wat 'n woljas vereis, rooi en geel blare, heeltyd, orals. En stadigaan begin dinge gestalte kry, hier. Ons het 'n tafel gekoop, wat 'n hele post opsigself vereis. Ons kry dit al amper reg om drie etes 'n dag te eet. Ons het nog glad nie gewoond geraak aan die belaglike hoë drankpryse nie. Ons het 'n supermark gevind waarvan ons hou, en 'n groentewinkel, en het 'n pragtige grys flennie duvet aangeskaf wat my eindeloos plesier. Ons kook weer, maar neem die vreeslikste foto's, so moet geen wondere verwag vir die volgende paar maande nie; duidelik het my oog vir 'n ruk die kamer verlaat.

Daar is nog nie vreeslike involved disse nie. Tacos met oondgebraaide vark en chipotle salsa. Puy lensies met vars tiemie en ui, 'n stukkie vis uit die Chinese supermark bo-op, vinnig in die pan gebraai met baie knoffel en baie suurlemoen. Of hierdie, 'n Spaanse kekerertjiesop met pancetta en donders baie gerookte paprika, en brood.

Ja, ons het weer begin brood bak. Selfs die goedkoop, slegte brood hier is ongoddelik duur, and ain't nobody got time for that. Niks soos kontinentale displacement om jou te laat besef waar jou prioriteite lê nie. In die lig van verlange, en siekte en geweld en dood, eggo Antjie Krog dag na dag in my kop. Waar en hoe oorleef mens dit? Ek is steeds nie seker nie. Maar dalk begin ons hiermee. Goeie brood. 'n Eie tafel. 'n Arsenaal geliefdes. 'n Man wat my huis geword het.

Oct 28, 2013

growwebeskuit met pampoenpitte en sonneblomsaad

Maandagoggend. Ek sit by die huis en lees Deleuze en Guattari se A Thousand Plateaus vir klas, terwyl J kwaai eposse die wêreld instuur en frustreerd loer na diagramme. Ons roetine hier is anders as in Pretoria: drie dae in die week is ek nou die een wat die huis verlaat en elders toil, terwyl J van die huis af werk. As die melk op is is hy die een wat af hardloop na die winkel onder ons gebou, hy is die een wat die hoender uit die vrieskas haal om te ontvries. Maandae en Vrydae werk ek tuis, en dan is daar 'n berg lees- en skryfwerk wat gebeur, en tussenin allerhande huistake. Wasgoed, vloer-vee, kosmaak. Vanoggend het ek beskuit uitgedroog, na ek dit Vrydagaand gebak het terwyl J bier brou (ons eerste Kanadese bier!) en ons tot laat in die nag na Kubaanse musiek luister. My ma het my daarop gewys dat haar skoonma haar geleer het dat 'n mens die beskuit eers vir 'n dag of wat laat staan voor jy dit uitdroog, en aangesien ek deel van die skoonma se naam geërf het het ek besluit dit is dalk tyd om vir haar te begin luister. Gisternag het ons begin uitdroog, terwyl ek tot laat sit en poskaarte addresseer het aan die wêreld, en vanoggend dun vingers growwebeskuit met pampoenpitte en sonneblomsaad in die bed sit en eet. In Groot Trek-gedenkbakkies wat ek op ons wittebrood in 'n antieke winkel in Ashton opgespoor het, en saamgevlieg het hierheen. Meta-diaspora, in porselein.

Oct 26, 2013

Thanksgiving 2013

Ons is amper twee maande in Toronto. Ons het ons eie woonstel, in 'n blok gebou in die 1960s, met blokkiesvloere en baie lig, op die 25ste vloer. Ons het 'n bed, 'n lessenaar, en twee opvoustoeltjies. Sedert twee weke gelede het ons ook weer die begin van 'n speseryversameling, vanaf 'n Indiese winkel waar ons een middag laat ingestap het en twee mandjies volgemaak het met kardamom, koljander, komyn en kaneel, met gerookte paprika en vinkelsaad en steranys.
Hierdie was ons eerste groot ete in die nuwe huis, in die nuwe stad. Thanksgiving. Ons het 'n kasarm van 'n kalkoen blokke ver gedra, en J het hom gaar gemaak met handevol tiemie en dragon. Ons het skywe pampoen gerooster (die pampoen hier proe beter as enige pampoen wat ek nog ooit geëet het), brusselse spruitjies in die oond verskroei tot hul gekarameliseer het, en toe met 'n mengsel van vissous, suiker, sojasous en kruisement bedruip. En dan 'n reuse plat aartappelkoek, 'n tipe vinnige rosti met olyfolie, nog kruie, en parmesaan, gebak in ons splinternuwe gietyster kasserolbak, een van ons trougeskenke wat in die tas was toe ek hier aanland. Aan die kant het ek bosbessiesous gemaak, (van vars bosbessies!), met baie suurlemoenskil.


Vooraf was daar, in ware Noord-Amerikaanse styl, dinner rolls. Wat jy warm uit die oond eet sodat die botter afsmelt, saam met die eerste glas sjampanje in die vreemde land. Tot hier het ons dit gemaak, en van waar ons kom is daar 'n arsenaal mense vir wie ons lief is.

Daarvoor is ons dankbaar.

Sep 19, 2013

hier's ons weer

Vandag is my veertiende dag in Toronto. Ek huil nog elke dag. Anders as Dan Roodt dink ek waaragtig nie Pretoria is die Parys van Afrika nie, maar die stad het 'n vermoë om clusters fantastiese mense aan jou vas te heg, en die losskeur is traumaties.

J arriveer môre-aand. Ons is, terloops, vandag nege-en-dertig dae getroud. Hierdie is ons op ons troudag. Die foto is geneem ure na die seremonie, toe selfs die ete in die tuin op 'n einde was, en die laaste vriende geskuif het na my ouers se kombuis vir 'n tweede rondte kos en sjampanje. Ek kan nie onthou waaroor ek en J besig was om hier te praat nie, maar die singular ervaring van daar staan in my two-tone skoentjies, met die man met wie ek uiteindelik getrou het, omring deur 'n kombuis vol boisterous vriende wat so donders happy is dat ons afgehaak het, is een wat my tans onderskraag.

In terme van kos is hier nog min om te vertel. 'n Student se begroting beteken ek eet baie brood, die gebrek aan 'n eie kombuis beteken ek eet baie eenvoudige disse, soos roereier (wat die dubbele doel dien van proteine voorsien teen slegs $1 'n porsie!), en die kombinasie van 'n berg leeswerk en die naarstiglike soeke na 'n woonstel beteken ek het nog nie tyd gehad om 'n enkele Kanadese spesialiteit te gaan opsoek nie. Maar ek skryf weer hier, en dit is goed. Voer het begin as 'n platform vir my en J om te praat (met mekaar, meer as enige iets anders), oor die kos wat ons besig was om te maak aan verskillende kante van die wêreld. En deur baie omwentelinge is ons hier, op 'n kontinent waar niemand ons name kan uitspreek nie, besig om sin te maak van trauma, van diaspora, van meer geliefd wees as wat ons ooit voor kon hoop. Dis tyd om weer te begin kos maak.

(Onder in die straat speel iemand Love Will Tear Us Apart Again. Red 'n volk. Selfs al is hul ver.)

Naskrif: Die foto is geneem deur Riette, van http://pretoriachique.blogspot.ca/ , en shamelessly gesteel deur my.

Aug 2, 2013

die goeie nuus

Liewe, liewe lesers.

Daar's 'n rede hoekom jul niks van ons hoor nie. In 'n kwessie van 'n paar maande het ons uitgevind dat ek 'n beurs toegeken is om my Doktorsgraad te gaan doen in Toronto, het ons uit ons woonstel in Arkadia getrek, en besluit om te trou. Dis steeds onwerklik. Soos wat ek hierdie tik is ek naarstiglik besig met die laaste week se troureëlings, en om my lewe hier in Suid-Afrika vir eers administratief af te sluit – ons vertrek 'n paar dae na ons wittebrood na Kanada. Hierdie is dus net 'n kort nota om te sê dat ons weer sal terugkeer, met wonderlike stories en fantastiese kos, en dat jul op 10 Augustus moet dink aan die twee van ons wat vir 100 mense probeer kos gee, aan almal wat sit aan een ellelange wit tafel in my ouers se jaart, en dat ons nie net jare in verskillende lande oorleef het nie, but lived to tell the tale. Ons is eintlik donders trots op onsself.

Op nuwe avonture en 'n hele nuwe hoofstuk van Voer, in 'n nuwe vreemde -

a.

May 8, 2013

die bier is in die bad







Sjebeen-dag.

Daar was twee brews. 'n Sider, en 'n Indian Pale Ale. Daar was knackwurst, en weisswurst (wat ek braai, want gekookte worsies is van die duiwel), en Nürnbergers. Daar was ook verskeie tipes mosterd. En warm pretzels uit die oond.

Op die tafel was daar gesoute grondboontjies, en olywe met baie knoffel en rissie en tiemie. En koekies. Die New York Times se beste chocolate chip koekie, wat vir drie dae lank staan in die yskas voordat jy dit bak, met 'n bietjie Maldon sout bo-oor gestrooi. Salted brown butter Rice Crispie koekies, want ja, alles is beter met sout. My ma se brownies, gebak deur my ma. En kinderpartytjiekoekies (oftewel Momofuku Milk Bar se compost cookies), met Smarties, hundreds and thousands, sout en asyn chips, en paaseiers. Hul was verrassend-genoeg die treffer van die dag.

Maar terug by die bier. Hul is gebrou oor so ses weke, en elkeen van ons het 'n etiket ontwerp vir die bottels. Die Indian Pale Ale was J s'n, met die Arkadia straat-grid op. Myne was die sider, met polisiefoto's van Victoriaanse prostitute. Want in Arkadia is die prostitute ons Arcadian shepherds.
Die sider kort nog werk, maar die IPA was lieflik. Donker, kompleks, nie super bitter nie. En al die bier is gehou in die bad. Vir die moeders wat soog was daar varsgebroude gemmerbier en pynappelbier, en vir die goedversorgdes 'n vajazzling/pejazzling station. Om kop te hou van wat mense verorber was daar 'n baie lang stuk butcher paper teen die eetkamermuur wat 'n running tab was, en elkeen het opgeskryf wat hul eet en drink en dan aan die einde van die dag geld gegooi in 'n blikkie.

Sommige mense het gestop vir 'n vinnige biertjie, ander het ure gebly. Vriende, gesinslede, oud-kollegas, mense saam wie ons geswot het, en selfs 'n paar kindertjies. En ons fabulous vriendin Stella, wat as 'n verrassing opgedaag het uit Stellenbosch.

Die laaste foto is natuurlik ons, by die voordeur in Arkadia.

Vir meer foto's, gaan na Riette se post op Confessions of a Pretoria Chique. Ons was so besig om bier te skink en worsies te braai dat ons van helfte van die dag nie foto's geneem het nie. Riette s'n is pragtig.

Apr 26, 2013

Sjebeen-dag

Liefste lesers

Ek post fluks vir 'n paar weke, en dan verdwyn ek weer skielik. Hierdie keer het ek 'n goeie verskoning – eers is ek oorweldig (donders oorweldig, eerder) deur die merk van honderde (ja, letterlik honderde) Kunsgeskiedenis en Mediastudies opdragte. Vir drie weke lank het ek tien uur 'n dag gemerk en het ek en J geleef op hot cross buns en witwyn. En net toe die merkery ophou vind ek uit ek het 'n beurs gekry om my Doktorsgraad in Toronto te gaan doen (maple syrup for everyone!), en vir die afgelope paar weke is ons besig om die nuwe verloop van sake te verwerk. Dus: Ons is oppad na Toronto, my klasse begin 1 September, en alles voel tans bietjie holderstebolder. 

Ons eet dus steeds baie hot cross buns. Met 'n paar juwele tussenin - 'n Thai rooilensiesop met baie lemongrass, hierdie grondboontjie-en koolslaai saam met die laaste hamburgers van die somer, en Michael Ruhlman se makaroni en kaas, wat 'n soubise insluit met mosterd, vissous en paprika in, onder andere. En iewers in die malligheid het ons gebrou. 'n Sider, en 'n Indian Pale Ale, en 'n gemmerbier met vreeslik baie vars gemmer, en pynappelbier. Môre gooi ons ons deure oop vir enige iemand wat wil kom bier drink, en bedien 'n paar dingetjies om te eet. So volgende week vertel ek jul daarvan. Ek belowe ek bly nie weer weg vir lank nie. Daar is immers bier om oor te berig.

Mar 14, 2013

Eet in Arkadia: porchetta

Om te besluit op wat om voor te sit vir die hoofgereg was 'n lang proses. Hoender is te alledaags, eend is te moeilik om te procure in die stad, ek het te min ondervinding met die kook van lam op grootskaal, en ek was nie lus vir bees nie. Bees is so Pretoria, en ek is tans nogal pretty much oor Pretoria. So dit moes vark wees. Vark is fantasties. Daar was 'n paar kandidate. Varkfilet met baie knoffel en gerookte paprika, Peking pork wat voorgesit word met pannekoekies en hoisin sous, en selfs pork belly confit wat diep gebraai word net voor jy dit opdien. Maar uiteindelik is daar besluit op porchetta, vir 'n aantal redes. Dit kan voor die tyd gestop, gerol en opgebind word, vereis nie tyd in die kombuis terwyl die gaste al aan tafel is nie, en het fantastiese flavour. My porchetta het in die weke voor die ete deur 'n paar iterasies gegaan, maar ek het uiteindelik gesettle op 'n resep uit Nigella Lawson se Forever Summer, effe aangepas. Dit het beteken dat ek die vulsel van die porchetta (uie, knoffel, vinkelsaad, tiemie, lourierblaar) verdriedubbel het, asook die gebruik van 'n alternatiewe stuk van die vark, pork belly. Ek het dit ook vir 48 uur laat marineer, in plaas van Nigella se 24. Dit word gebak vir omtrent twee en 'n half uur teen 140º C, en rus dan vir omtrent 'n uur voor opdiening. Ek het ook gevind dat 'n maer pork belly die beste werk – te veel vet en als raak net oorweldigend ryk. Alhoewel ek die res van die ete gekook het was J verantwoordelik vir twee aspekte van die ete, waarvan een die crackling was. Dit is afgesny van die pork belly en apart behartig, doodeenvoudig omdat die geweldige hitte wat die vel vereis die ander vleis te veel uitdroog. J het die vel gescore, ingevryf met sout, en toe onder 'n waaier laat droog waai vir omtrent drie uur lank. Vir die beste crackling benodig jy twee dinge: 'n baie warm oond, en 'n  baie droë vel. Die resultaat was pragtig, en by verre die beste crackling wat hierdie huis nog opgelewer het.

Mar 13, 2013

Eet in Arkadia: suurlemoen en tiemie granita

Dis amper tyd vir hoofgereg. Maar eers – nog 'n amuse-bouche, alhoewel dit tegnies meer van 'n palate cleanser was: minder intense geure, meer 'n verfrissende opkikker. Hierdie een is 'n suurlemoen en tiemie granita uit Tessa Kiros se Twelve, A Tuscan Cook Book. (Ek was nog nooit een van daardie mense wat histeries raak oor Kiros se boeke nie, maar hierdie een is heel orraait.) Die suiker- en suurlemoenstroop is infuse met tiemie vir omtrent twaalf uur. Die granita was veronderstel om 'n sorbet te wees, maar ek het vergeet om dit heeltyd te roer terwyl dit vries, en dus was dit uiteindelik 'n granita. Die lewe is te kort om ontsteld te raak oor sulke dinge. Dit is bedien in hol, gevriesde suurlemoenskilletjies, wat al te fraai gelyk het. Don't be fooled by the existential despair, people. Fraaiheid is what I'm about.

Mar 11, 2013

sampioen- en parmesaantert

Ek is môre weer terug met die res van die Eet in Arkadia spyskaart, maar eers is dit tyd vir aandete. 'n Sampioentert met parmesaan en tiemie. Ons het 'n eventful naweek gehad, met 'n gebreekte kar op 'n verskriklike grondpad in Dullstroom, nader interaksie met 'n volstruis as waarmee ons gemaklik is, en met die tuiskoms is daar bevind een of ander ongure vloeistof lek deur ons dak, en laat als ruik na pure pissoir. Ons eet die tert met 'n Chenin Blanc aan die kant, espressoroomys vir nagereg.

Mar 7, 2013

Eet in Arkadia: Artisjok torta, Marokkaanse komkommerslaai

Hierdie is my tweede gang.

Teen hierdie tyd is al die gaste gemaklik met mekaar, word daar oor en weer bottels drank aangegee, is daar 'n klomp grappies oor 1) hoe veilig dit is om badkamer toe te gaan tydens die ete, en 2) of daar enige kameelperd opgedien sal word.

Elkeen kry 'n sny van hierdie artisjok torta, met tuisgemaakte ricotta, baie pietersielie, neutmuskaat en parmesaan. Gebak in skilferdeeg. Aan die kant 'n Marokkaanse komkommer- en kalamataslaai, met za'atar. En 'n absoluut fabulous Sauvignon Blanc van Klein Constantia. Op grond van die cynarin is artisjokke notoriously moeilik om saam met wyn voor te sit, omdat hul enige iets wat jy drink soeter laat proe. Na 'n aand van verskillende tipes wyn, spiritus en sjampanje proe (it's a hard life, but someone's got to fight the bloody cynarin) het ons besluit op die Sauvignon Blanc, net droog genoeg om uitermatige soetheid te keer.

Eet in Arkadia: Vietnamese mangoslaai

En dan: 'n Amuse-bouche. Uit Rick Stein se Far Eastern Food, 'n Vietnamese mangoslaai. Dit is amazing – fyn strips mango, basiliekruid en groenuie. 'n Dressing van vissous, palmsuiker, lemmetjiesap en rissie. Laastens – gekapte grondboontjies.

Mar 6, 2013

Eet in Arkadia: Gravlax


Die eerste gang: Gravlax.

Ons is die laaste paar maande op 'n groot gravlax spin. Ek het dit gemaak vir 'n cocktail party waarvoor ek gecater het in November, en ons het met 'n hele fillet afgevlieg na Simonsstad oor Kersfees. En soms maak ons vir onsself net 'n klein stukkie om te eet as deel van 'n dekadente ontbyt, saam met roosterbrood en roereier.

Hierdie weergawe het vir 48-uur gecure, in 'n kombinasie van sout, suiker, suurlemoenskil, koljander, jenewerbessies en gin. Dit is bedien op babaslaaiblaartjies, met 'n klein bietjie olyfolie. Te drinke – 'n paar glase Pierre Jourdan sjampanje.

Eet in Arkadia: rabarber-gin en tonic

In die begin was daar 'n cocktail van rabarber-gin, vermoet en tonic water. Jare terug het ek 'n rabarber gin en tonic probeer maak met rabarbermoes, maar dit was nie presies waarna ek gesoek het nie. Hierdie is 'n paar jaar later seprobeerslag, waar ek sommer die gin van die begin af saam met 'n helse klomp rou rabarber in 'n glas bottel geplaas het vir 'n paar weke. Die uiteinde was 'n revelation, soos gin wat trou met gestoofde vrugte. Ek kan dit heeldag lank drink. Dis 'n uitstekende verwelkomingsdrankie op 'n warm dag – ligpienk (die gin neem die rabarber se kleur aan soos wat die weke verby glip), effens soet, uiters verfrissend. En hy kap jou sonder dat jy besef (soos 'n paar gaste ook genoem het teen die tyd wat die eerste gang bedien is).

Mar 5, 2013

Eet in Arkadia

Drie dae terug het 'n dosyn mense neergesak op ons woonstel in Arkadia vir my eerste ondergrondse restaurant, wat selfs sy eie hashtag gehad het - #EetArkadia. Middagete, vyf gange. Die laaste gaste is nege uur na hul arriveer het uiteindelik vort. Ek het lanklaas so dikwels deur die loop van die dag gelag tot my maag seer was. En die gesprekke! Van die gebruik van teddiebere as konflik-ontlaaiers tot die Suid-Afrikaanse regstelsel, van feminisme tot die ontkleeklub Flamingo's in Kerkstraat, van tik tot trauma. Die plan is om dit 'n seisoenale affair te maak, en hierdie was die somer celebration, met die lekkerste geregte wat ek die afgelope seisoen raak geëet en gedrink het. Die volgende een sal plaasvind in die winter.

Daar is 'n paar redes hoekom dit gebeur op 'n Sondag. Die belangrikste rede? Sondae in Pretoria is geweldig depressing. Elke moontlike ding wat ons kan doen om dit beter te maak, is worth doing.



Die tafel was eenvoudig – wit linne, wit Boeremark rosies en wit spyskaarte, afgedruk vir elke persoon. Wat het ons geëet? Die volgende:

Eet in Arkadia
Sondag, 3 Maart

Rabarber gin

Gravlax met jenewerbessie, suurlemoen en koljander
Pierre Jourdan Cuveé Brut

Amuse-bouche: Vietnamese mangoslaai met basiliekruid en grondboontjie

Artisjok torta met tuisgemaakte ricotta
Marokkaanse komkommer- en olyfslaai met za'atar
Klein Constantia Sauvignon Blanc

Amuse-buche: Suurlemoen en tiemie granita

Porchetta (pork belly met vinkelsaad, knoffel en tiemie)
Johannes se pain l'ancienne met lourierblaarbotter
Tamatie- en uieslaai met dragon
La Vierge Shiraz

Bittersjokoladetruffelkoek
Nektariene in wit wyn
Koffie

Saint André brie
Stilton
Belnori 4 maand-oue bokmelkkaas
Hollandse Ou Kaas (4,5 jaar-oue Gouda)
Roomkaas met Indiese tamatieblatjang
Beskuitjies
Membrillo (Spaanse kweperkonserf)
Groenvyekonfyt
Bo-Plaas Kelder port

Feb 26, 2013

kool- en grondboontjieslaai

Hierdie is wat ons eet in die somer. Veral in die uiterste hitte van die stad, en van hierdie donderse woonstel, met sy betondak wat heeldag warm bak en selfs in die nag weier om af te koel.

Groenkool, rooikool, wortel. Basilie, geroosterde, grof-gekapte grondboontjies, en groenuie. Met 'n dressing van olyfolie, asyn, grondboontjiebotter, vissous, sojasous, rissies, knoffel en gemmer wat jy nou-nou gerasper het.

Ek hou veral daarvan saam met hamburgers, met 'n bier aan die kant.

Naskrif: (Die resep is oorspronklik gesteel van I Made That!)

Feb 25, 2013

ricotta

Dit is vroeg. J slaap nog, die hele woonstelblok is stil, die hawelose immigrante wat in die jaart onder ons kamervenster bly uiteindelik ook.

Ek maak ricotta. Daar is 'n artisjok torta op die spyskaart vir vanaand, en vars ricotta word benodig. Hierdie is effe anders as die ricotta wat ek al vantevore gemaak het – meer room, minder karringmelk. Die uiteinde herinner nogal baie aan mascarpone, which is never a bad thing.

Ek kan posts en posts skryf oor die esoteriese geluk van hier staan en vroeg op 'n weeksoggend kaas maak terwyl J in my huis slaap, en nie op 'n ander kontinent nie. Maar ek is seker jul wil nie daarna luister nie. Suffice to say – dit is beter as wat ons ooit voor sou kon hoop. Jare terug het iemand genoem dat een van die kern-elemente van my werk die rol van die huislike is, spesifiek in verband met verhoudings. In your work, het die persoon geskryf, the domestic is the currency of the committed relationship. Hy was reg. Dit is steeds die geval.

(En ook: almal moet ten minste een keer in hul lewe wakker word met vars kaas wat afkoel in die eetkamer).

Feb 22, 2013

pancetta

Na al die jare maak ek steeds dikwels pancetta. Hierdie nommertjie is vanoggend gehang, aan wat (teen hierdie tyd) al bekend staan onder ons vriende as Die Pancetta Stoel. Hy word soms ingebring vir dinner parties as die mankoelieke stoeltjies in die eetkamer nie genoeg is vir al die gaste nie (die lamlendige aard van die stoele is geen self-deprecating grappie nie – daar het meer as een keer al een van hul onder 'n gas gebreek). Ek volg steeds Michael Ruhlman se resep uit Charcuterie – 'n weeklange cure van sout, curing salt, bruinsuiker, lourierblare, tiemie en jenewerbessies. Dit word dan afgewas, die pancetta versigtig drooggemaak, en dan gerol, besprinkel met heelwat swartpeper. Dan hang hy vir twee weke tot droog. Ek rol hom gewoonlik so een keer elke drie dae tydens die hangproses oop, en kyk of daar dalk enige stukkie is wat nie styf genoeg gerol is nie en dus kan begin muf. As daar muf te bespeur is maak jy dit skoon met 'n bietjie asyn, en rol weer styf vas. Vyf jaar van self cure en ons het (touch wood) nog nooit siek geword nie.

Nou moet ek wel eers gaan aandete maak – porchetta, en Elizabeth David se tomatoes à la crème. Jim Lahey se stecca aan die kant. Tot wederom.


Feb 21, 2013

shhhh

Na jare van kyk hoe ander dit doen, spring ek nou op die bandwagon, en hou 'n secret restaurant middagete op 3 Maart. Dus, as jy lus is – kom eet saam.

blomkool op 'n koue dag

Soms reën dit hier in Arkadia. Nie so dikwels soos ons graag wil hê dit moet nie. Maar as dit gebeur dat dit vir 'n paar dae aanmekaar reën, soos 'n rukkie terug die geval was, is hierdie wat ek wil eet – blomkool met 'n klein bietjie witsous en heelwat beleë cheddar, à la Rachel. Die res van die dag bestaan uit die netelige taak van houtvloere was, my ou vriend Edward-John Bottomley se Poor White lees, en dink aan wat om te meng met rabarber-gin.

Feb 20, 2013

rabarber-gin

Gin. Rabarber. It had to be done.

Feb 11, 2013

prei confit

Dit is 'n stil dag. J is steeds in Engeland vir werk, en ek maak prei confit. Die preie kom van die plaas van 'n Russiese tannie en haar Afrikaanse man wat met hoenders boer buite Warmbad en die eiers by die Boeremark verkoop. Soms lê ek en J in die bed voor ons aan die slaap raak en wonder of die tannie dalk 'n mail-order bruid was, tien of twintig jaar terug. Nie een van ons het die moed om haar te vra nie.

Die prei confit braai stadig in botter en sout vir omtrent 'n uur, terwyl ek die huis skoon maak. Dit is die eerste keer wat ek ons eerste (!) Le Creuset pot gebruik, 'n Kersgeskenk van J se ouma wat nie meer vreeslik gesond is nie. Sy wou vir Kersfees iets vir elke kleinkind gee wat hul vir baie jare sou kon gebruik, en het besluit op Le Creuset potte. Elke kleinkind kon een uitkies. Ek verstaan haar sentiment – ek imagine hoe ons oor dertig jaar steeds kos maak in hierdie pot, hoe die kinders groot word met dit as deel van die algemene kombuis mise-en-scène, soos die broodmes wat my ouers op hul troudag gekry het en waarmee elke sny brood van my kleintyd gesny is.

Ek moet nog finaal besluit wat met die confit gaan gebeur – dalk 'n Belgiese tert met bokmelkkaas en prei, of een met suurlemoen, feta en prei. Maar nou is daar eers nog 'n vloer wat gevee moet word.

Feb 10, 2013

Southern fried chicken, ens.

Hier is gisteraand se broodrolletjies. Die diepgebraaide hoender was 'n groot verrassing – sappig binne, bros buite. Dit het vir 'n paar uur gele in 'n bad van sout- en suikerwater, toe versigtig afgedroog en bedek met 'n mengsel van paprika, swartpeper en koljander. Gedoop in eier, en toe in 'n mengsel van meel, bakpoeier, en nog van die speserye. Dan word dit gebraai. Daar was ook chipotle mayonaise, en die mees amazing kool- en grondboontjie slaai waaroor ek jul in detail volgende week sal vertel.

Poeding was uiteindelik hierdie heavenly chocolate cake roll, sonder enige meel. Daar is ongelukkig nie 'n foto nie – teen die tyd wat die koek assemble is het ek nie meer krag gehad vir foto's neem nie. Deur die loop van die aand was daar ook tuisgemaakte rooibosystee met lemoen en kaneel, en van J se tuisgemaakte sider.

Laastens – hierdie was voorgereg – 'n spicy gazpacho met Griekse jogurt, gemaak deur my vriendin Amelia. Leuk.

Feb 9, 2013

vroegoggend brood

Dit is 8-uur, en ek is al vier ure wakker. Het in die reën gery Boeremark toe vanoggend, in die modder rondgeplons met pakkies en pakkies tamaties en rooirissies vir 'n helse klomp panzanella, 5 liter melk en room vir ricotta en roomys, en 'n bossie rosies. Nou is ek is besig om brood te bak. Ligte brioche rolletjies, vir ete vanaand. J is in Engeland vir 'n paar dae, vir werk*, en ek het 'n paar mense oorgenooi vir tuisgemaakte KFC rounders. Buiten die brioche is daar dus hoenderborsies wat nou in 'n soutbad gaan lê en sappig word vir later se diepbraai. Ek het geen idee wat poeding gaan wees nie – die oorspronklike plan was om hierdie aarbeikoek te bak, maar my aarbeitannie was nie vanoggend by die mark nie. Enige gedagtes?


*Hy beter jul nog iewers vertel van die feit dat hy 'n fabulous werk gekry het hier, en van die bier wat hy deesdae brou, dalk volgende week? Die hoop beskaam nie.

Feb 6, 2013

tamatiesop

Ek en J het 'n maand terug by die huis ingestap en is begroet deur wat gebeur as onder andere 'n skaapboud, hoenderdytjies, twee salmfilette en 'n klomp Oos-Europese worse vir twee weke lank in Pretoria se Desember-hitte stew. Iewers, kort nadat ons weg is, het die krag afgegaan, en die yskas/vrieskas het vir weke lank gestaan. Aangesien hierdie 'n kos-blog is en ek bang is dat daar van jul is wat hierdie op 'n nugter maag lees sal ek jul nie met die flagrante detail versteur nie, but suffice to say dat daar 'n paar dinge is wat jy leer as so iets met jou gebeur. 1) Daar is niks so veragtelik soos 'n maaier nie. 2) Die hele kokkerotpopulasie van Arkadia sal na jou woonstel verhuis om te deel in die feestelikheid, en iewers sal jy begin verwag om 'n hybrid maaier-kokkerot werpsel raak te loop, dalk net duskant jou bottel mirin. 3) Die tipe man wat saam met jou op sy knieë sit en bloed van die vloer af skraap is wragtag 'n seun met wie jy kan trou.

Dit het weke gevat om weer 'n kombuis te hê waarin ons kan kos maak. En hierdie was die eerste volwaardige ete wat ek kon kook, op 'n reënerige Sondag. 'n Geroosterde tamatiesop met 'n klein bietjie room en veel basiliekruid, en spek toebroodjies aan die kant. Dit is uiteindelik weer lekker om terug te wees in Arkadia.