Dec 15, 2012

gluhwein en gugelhopf

Daar is soveel om oor te skryf. Hier word die afgelope weke eindeloos kos gemaak, koek gebak, en selfs bier gebrou. En ek kom eenvoudig nie uit by alles post nie – hopelik kry ons die vakansie opgevang. Intussen is daar Kersfees. (Ek's groot op Kersfees. Groot. Ek raak bietjie soos 'n histeriese Amerikaner op 'n Oprah-show waar daar verniet karre weggegee word.) En hier in Arkadia vier ons dit op klein maniere regdeur Desember. Soos glühwein op 'n koud en reënerige Sondag, met 'n stukkie gugelhopf aan die kant, laasgenoemde te danke aan die Duitse Schule se Kersmark. Die beste deel van die aandmark was onteenseglik die lantern-mars van die klein kindertjies (en hul ouers, en ek en J, wat agter aangeloop het, sonder 'n lantern, besig om die lantern-liedjie wat ons nie ken nie saam te sing. Ons het effe dodgy gelyk, vermoed ek.) Daar was selfs 'n ou oom met 'n trekklavier wat die hele optoggie voorafgegaan het.

Die glühwein het ons self gemaak, die dag na die mark, en dit en die gugelhopf is saamgeneem na 'n koue verjaardagpiekniek in die Botaniese Tuin. In die glühwein, the usual suspects – naeltjies, kaneel, wonderpeper, steranys, lemoenskil. Maar ook kweperbrandewyn, van 'n batch wat nou al 18 maande in my klerekas staan en infuse. (Ons klerekas is vol drank. True story.) Ek is nie die grootste fan van glühwein nie, maar hierdie was leuk. Veral in die reën, wat mettertyd op die piekniekparty neergesak het. Gelukkig kon ek betyds die koek red.

0 comments: