Nov 8, 2012

Vietnamese springrolls

Stadigaan raak ons gewoond aan weer 'n spasie deel. En ontwikkel 'n roetine. J staan gewoonlik eerste op en sit die Bialetti op die stoof (behalwe op Maandae, as ek 'n vroegoggend deadline het en dus van douvoordag af sit en werk in die bed). Ons eet 'n stukkie beskuit, courtesy of mijn moeder. Gesels. Ek vertel wat ek in die nag gedroom het, vra of J iets gedroom het. Die antwoord is altyd nee. Tussendeur die werkery sal een van ons ontbyt maak, gewoonlik laatoggend. Ons het twee werkspasies. Ek werk op 'n bank in die sitkamer (of by die eetkamertafel, as ek besig is om te merk), J werk of in sy studeerkamer of op 'n bank oorkant myne. Ons loer soms vir mekaar terwyl daar gewerk word, maar meestal is ons stil. Na middagete gaan lĂȘ ek vir 'n uur op die bed. Dit maak van my 'n meer produktiewe mens, en ek weier om sleg te voel daaroor. J werk terwyl ek slaap, of dink allerhande planne uit om die parquet vloere in die woonstel uitstekend te laat vertoon. Soms word ek wakker en vind hom besig 'n tafel af te skuur tydens die siesta. (Soms weet ek nie waar ek aan hierdie man gekom het nie, maar ek is donders dankbaar.) Omtrent 18h00 hou ons op werk. Maak 'n bottel wyn oop. Ek begin kos maak, J skuur weer bietjie aan die tafel. Van gisteraand af eet ons weer aan tafel, nou pragtig, glad en blink, en drink nog wyn. Die voordeur staan oop om die warm woonstel af te koel, en onder in die straat skree 'n prostituut verwoed op haar pimp. Die ander woonstelle se kosgeure dryf by die woonstel in; vanaand is daar boerewors wat op die stoof gebraai word, en 'n baie spicy kerrie.

Iewers voor ons gaan slaap sal J deeg vir 'n brood meng, ek sal 'n bondel wasgoed in die masjien sit. Op 'n stadium in die aand raak ons stil, te moeg om nog te gesels, en sit meestal net langs mekaar op die bank en drink 'n laaste glasie wyn, dieselfde bank waar ons mekaar die eerste keer gesoen het. Soms kan ek nog nie glo ons is weer in dieselfde land, in dieselfde huis nie. Die doodnormale domesticity van kruidenierslysies en wasgoed en wakker word met iemand langs jou in die nag is so  uiters underrated.

Hierdie was een van ons aandetes die laaste paar weke. Vietnamese spring rolls, met wortel, kruisement en spring onion, en 'n garnaal. Nie vreeslik netjies opgevou nie (J s'n lyk aansienlik beter, maar somehow het ons nie foto's van sy pogings nie), maar leuk. Gedoop in 'n bietjie sojasous, geeet sonder mes en vurk, net so by die tafel, met baie servette.


0 comments: