Aug 27, 2012

karpatka


 
Bak 'n karpatka!  Want dis amper lente.  En as jy nie weet wat 'n karpatka is nie, lees hier en hier. (Onthou ook die goue reël:  Oosblok = Fantasties.  Dit is al.)

Aug 25, 2012

mangal ocakbasi

My gunsteling restaurant in Londen is 'n Turkse plekkie in Dalston, Mangal Ocakbasi.  Dis heel outentiek – daar werk geen vrouens nie, die hele restaurant lê soms vol rook van die vuurwarm grill wat jou groet as jy instap, en daar's geen fieterjasies met die kos nie.  En as jy nie 'n fan van dierlike eiwit is nie, hou verby.  Daar's lahmacun vir voorgereg, met fyn lamsvleis, tamatie, rooirissie en heelwat sumac.  Hoofgereg kan bestaan uit shish kebabs of gewone kebabs, wat plek-plek bedien word met 'n orgasmiese knoffeljogurtsous en stukkies brood om die geurige vleissous op te mop.  Op die huis – 'n reuse bord slaaie en piekels.  En as jy vra vir kraanwater bring hul sommer 'n hele beker.  (Het ek genoem daar's geen kurkfooi nie?). Rede #148392 om in Londen te woon.



Aug 23, 2012

makadamia-en esdoringstrooptert

n Paar weke terug was ek oppad na Dullstroom vir die naweek.  Hierdie was in my tas – 'n makadamia- en esdoringstrooptert.  Warm geëet in 'n baie koue Dullstroom, so om die kombuistafel, met dik room aan die kant.  



Aug 21, 2012

ottolenghi

In Islington.  En dis baie duidelik waar die sjef agter my favourite Moema's haar inspirasie gekry het – in Ottolenghi voel dit skielik asof jy in Parktown-Noord kan wees.  Wit, lig, met koeke op koeke en eindelose tertjies en scones en daardie reuse, veelkleurige meringues.  Maar my favourite deel van die plek (behalwe die een lang communal tafel in die middel van die restaurantjie), is die toasters wat van die dak hang.  Hul bring vir jou snye van 'n verskeidenheid van hul tuisgebakte brode, en jy maak jou eie roosterbrood.  Langs die toasters vind jy potjies botter, konfyt, en 'n tuisgemaakte sjokolade-en haselneutsmeer. 

Maar ek was daar vir koek.  In this case, wortelkoek.  (Ja, ja, ek weet – nie super opwindend nie.  Maar ek was lus daarvoor.)  En ek was nie spyt nie.  Maar volgende keer vat ek J saam, en eet ons roosterbrood. 

Aug 20, 2012

store st espresso

In Bloomsbury, net om die hoek van my charming klein hotelletjie.  Die fokus hier is koffie, nie koek nie.  So geen gleaming toonbank vol koeke nie, maar wel pragtige, eenvoudige houttafels en bankies.  En heerlike Americanos, en flat whites.

Aug 19, 2012

london review cake shop

In Bloomsbury, net duskant die British Museum.  Ek het in middagete weggeglip van my konferensie en wonder bo wonder 'n tafeltjie gekry (daar is net vier).  Die koffiewinkeltjie is deel van die beautiful boekwinkel, met blomme op die toonbank.  Twee Americanos gedrink, en 'n stukkie karamel makadamia kaaskoek gehad, waarvan ek ongelukkig nie 'n foto het nie.  Teruggegaan na die konferensie en 'n amazing paper gehoor oor female trauma en The Secret Life of Words.  En toe 'n terrible paper oor een of ander weird-ass lesbiese film.  So it goes.

Aug 18, 2012

nordic bakery

In Soho.  Skandinawiese eenvoud binne, 'n paar tafeltjies en stoeltjies en 'n eenvoudige toonbank met gebak.  Ons eet 'n lieflike rolletjie met gravadlax, 'n beautiful dog effe droë kaneelrolletjie, en uiteindelik ook een van hul karelian aartappelpasteitjies met 'n rogkors, en bedien word met 'n eierbottersmeer bo-op.  Daai pasteitjies was 'n revelation. 



Aug 17, 2012

bea's of bloomsbury


In Theobald Road, op J se niggie Marie-Louise se aandrang - dankie Milli!  Ek was drie keer daar.  Ha.  Hul spesialiseer in Amerikaanse-styl koeke en kolwyntjies, en ek het die pistachio kolwyntjie en sjokolade brownie gehad.  Die kolwyntjie was heerlik, die brownie nie heeltemal my smaak nie.  J se kaas scones was wel uiters leuk.  Die toonbank vol koek maak my gelukkig, so ook hoe maklik jy die plekkie kan mis as jy nie spesifiek daarvoor uitkyk nie.  Die beste plekkies is weggesteek.  (Ek besef daardie sin klink na iets wat uit Dr Jan van Elfen se Wat Seuns Wil Weet kon gekom het, maar ek is nou te moeg om iets anders uit te dink.  Jammer, Dr Jan.)

Aug 16, 2012

parfait

Jare terug het ek een aand 'n droom gehad waar ek 'n gerug gehoor het van die bestaan van die mees wonderlike bakkery in die wêreld.  Die bakkery se naam was Parfait, en het 'n swart en wit blokkiesvloer gehad met lieflike houtstoeltjies en tafeltjies.  En 'n houttoonbank met 'n eindelose verskeidenheid van gebak – veerligte pain au chocolat, mandjies madeleines, veelkleurige macarons en plate warm kaneelrolletjies.  Koeke van regoor die wêreld, vertoon op wit koekstaanders, rye en rye chocolate eclairs en canelés en klein bundt cakes bedruip met rum.  En daar was rabarberterte en fyn suurlemoentertjies en panne donker brownies.  In die droom het ek daarna begin soek, die ganse nag lank.

Ek het wakker geword en die soektog voorgesit.  (Ek is steeds besig met daardie soeke.)

Hier is die Londen 2012-been van hierdie soeke.  Suiker FTW.

Aug 15, 2012

gruyere, saffraan en uietert

J arriveer oor minder as 'n week.  Dit was alles nog heeltyd baie onseker, en ek was veronderstel om die een te wees wat Vrydag vlieg, maar soos wat ons die laaste ruk geleer het, verander dinge heeltyd.  Maar ek is gelukkig.  Hy gaan hier wees, in Arkadia, by my.  En ek dink solank aan wat ons moet eet as hy aanland.  Ek dink aan porchetta.  Met varsgebakte brood.  En daar sal 'n fabulous koek moet wees.

Intussen is hierdie middagete – Dan Lepard se gruyere, saffraan en uietert.  Die kors is flaky en heerlik botterig, en makliker om mee te werk as jou gewone patee brisee.  En die vulsel is net bloody dekadent – geen room en nie veel eiers nie, maar die kaas maak dit perfek vir ons (steeds) koue weer, en die saffraan laat als net so donders pragtig lyk.



Aug 14, 2012

styx

Surrealistiese dag.  Die wind waai verwoed, die homeless immigrante wat woon op die leë erf langs my woonstelblok baklei al heeldag, en ek het pas gehoor iemand wat ek jare terug geken het is gisteraand dood aan 'n oordosis heroine.  Intussen is dit weer bitter koud hier, so ek het 'n pan za'atar hoender in die oond.  Wat op 'n bed klapper- en blomkoolpuree geplaas sal word, dalk 'n avokadoslaai aan die kant.  Kos bly my taamlik banale manier van geanker bly in 'n perspektief op die wêreld wat nie onseremonieël afskuwelik is nie.  ('n Oordosis bly wel 'n taamlike kak manier van sterf.)

Aug 13, 2012

oondgeroosterde tamaties

Dit was 'n stil, dog bitterkoue, naweek in Arkadia.  Ek was meestal binnenshuis.  Navorsing gedoen oor voorligtingstekste uit die 1950s, uiteindelik Persepolis en The Lives of Others gekyk, en het wasgoed en skottelgoed gewas, en my nimmereindigende hopies papiere en boeke opgeruim.  Tussendeur was daar 'n plaat kersietamaties in die oond, wat stadigaan uitdroog.  Met olyfolie, sout en peper, 'n klein bietjie suiker, en tiemie.

Vir pasta, of op toebroodjies, of in slaai.  Of sommer alleen, saam met 'n glas wyn, voor ete.

Aug 12, 2012

trauma, memory, food


Understood as an attempt to explain the experience of war trauma, Freud's difficult thought provides a deeply disturbing insight into the enigmatic relation between trauma and survival: the fact that, for those who undergo trauma, it is not only the moment of the event, but of the passing out of it that is traumatic; that survival itself, in other words, can be a crisis.
                                               (Cathy Caruth, Trauma: Explorations in Memory)




Soms dink ek terug aan die paar weke na my eerste kaping, en probeer detail rondom daardie tyd onthou.  Meeste van dit is vaag.  Ek onthou hoe ek gesukkel het om aan die slaap te raak vir 'n ruk, hoe J langs my sou sit en wag tot ek aan die slaap raak (die dae voor daar enige soenery was, alles nog streng platonies).  Hoe ek iewers besef het die kapers het my huissleutels en my adres en kan dus maklik by die woonstel instap.  Hoe ek vir lang rukkie nie regtig uit die woonstel sou gaan behalwe vir my klasse nie, en hoe ek konstant net vir almal wou kos maak.  Heeltyd.  Ek kon nie genoeg monde vind vir al die kos wat ek wou maak nie.  Op 'n stadium het ek oorweeg om borde af te stuur na die dun prostitute wat onder in die straat staan en met wie ons so bekend raak, totdat ek besef het dat elke agter nie-geweldadige prostituut is 'n geweldadige pimp, 'n komplikasie waarvoor ek nie lus was nie. 

Maar meer nog as dit onthou ek die kos wat J vir my gemaak het daardie paar weke, die eerste keer in my lewe dat die rol omgeruil is in my lewe, waar iemand spesifiek vir my probeer voed.  Lamsvleis in die oond, 'n goulash met paprika wat hy van Hongarye gebring het.  Calamari met vreeslik baie suurlemoen.  Tandoori hoender, varsgebakte naan, slakke met ontsettend baie knoffel.  Meer as enige iets anders wat my uit daardie periode gehelp het, was hierdie etes, was die amper maternal care van die man wat elke aand met 'n bottel wyn by my voordeur opgedaag het.

Ns: Die foto hierbo dateer uit daai eerste paar weke, wat J geneem het van my (baie deurmekaar) tafel, kompleet met 'n bak vol blink paaseiers ('n storie vir 'n ander dag). 

Aug 10, 2012

hoera vir ongehuudheid

Dit was bitterlik koud in Pretoria hierdie week.  En vir die eerste keer in my (amper) nege jaar in Arkadia, het dit hier gesneeu.  Ek was in die kombuis toe ek die vlokkies die eerste keer gesien het, besig om my Bialetti op die stoof aan die gang te kry.  Eers het ek gedink dit is as van een van die menigte vure wat die onwettige immigrante/druggies wat in die oop erf langs die woonstelblok bly, maak.  Toe ek uiteindelik besef dit is sneeu het ek uitgehardloop op die lang stoep van die vierde vloer, en my bure opgeklop sodat hul kon sien wat aan die gang is.  Dit was 'n goeie dag. 

(Dit was ook die dag waarop ek en J offisieel ons ongehuudheidssertifikate ontvang het, wat beteken dat ons nou as partners na Engeland mag vertrek.  Dis 'n klein stukkie papier, maar het my tot dusver slapelose nagte besorg.  So weereens – 'n goeie dag.)

En hierdie was aandete – 'n tuisgemaakte pizza met tamatiesous (Marcella Hazan se wonderlike resep, waaroor ek nog moet skryf), ansjovissies, en mozzarella. 

Aug 8, 2012

gee ons vandag ons daaglikse naan

 Die Ridley Road Market, in Dalston.  Hierdie keer loop ons 'n nuwe klein winkeltjie raak.  Met vyf mans wat om 'n baie warm draaiende plaat staan en dun naan brode vorm en bak.  Daar is twee soorte – een met sesamsaad, en een met van die Turkse feta net oorkant die straat by die Turkish Food Centre verkoop word.  Ons kry een van elk.  

Aug 6, 2012

die begin

Jare terug, op hierdie dag, het ons op my goue fluweelbank met tossels (ja, ek besit een, 'n vintage nommertjie uit die vyftigs) gesit, en vir die eerste keer gesoen.  (Dit was 'n goeie soen).  Dit was net na 'n gesprek oor die Bauhaus aesthetic, 'n gesprek wat tot vandag nog aangaan.  Ek wens ek kan onthou wat ons daardie aand geëet het.  Of die aand daarna (daar was weer 'n soen, natuurlik).  Wat ek wel kan onthou is dat J die volgende dag 'n spesiale bottel rooiwyn uit Spanje uit sy kas gehaal het en na my huis gebring het, en dat ons die heel aand klein glasies daarvan gedrink het.

-------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Te danke aan Flickr het ek pas uitgevind wat ons daardie aand geëet het.  Carpaccio, gemaak van 'n reuse Boeremarkfillet, met wat lyk soos 'n heerlike slaai aan die kant.  Vir poeding – gestoofde rabarber.  Met room, as ek myself ken.  (Hier is J se foto van daardie aand se tafel)

Aug 5, 2012

crumpets

Geen nuwe nuus hierdie kant nie.  Daar word steeds veels te veel tyd spandeer op visa webtuistes, op die foon met konsulate, en in die ry by Binnelandse Sake.  That is all.

Maar hier is crumpets, wat ons 'n maand terug in Lymington in die New Forest gehad het, vir tee.  Hul was 'n absolute openbaring, en ek kon nie glo ek het soveel tyd in die VK spandeer die afgelope paar jaar sonder om hul te eet nie.  Varsgebak, sodat die warm botter insypel by die klein gisgaatjies.

(En dit sal nie Engeland wees as daar nie konfyt en clotted cream aan die kant is nie.  God bless the queen.)


Aug 3, 2012

khachapuri & geroosterde pampoensop

Ek sal jul 'n presiese vertelling van die laaste paar weke spaar, omdat dit nie uiters interessant is nie.  Al wat ek sal se is dat dit baie onvoorspelbaar was, 'n hele paar ewe moeilike opsies aangebied het, en dat ons twee weke terug 'n besluit geneem het om te woon in Salisbury, in die Verenigde Koningkryk.  Ek sou middel Augustus vlieg, maar vanweë 'n paar komplikasies lyk dit nou of ek vir nog 'n hele paar maande in Arkadia sal wees.  Maar J sal ook hier wees, vermoed ons, en sal oor drie weke hier arriveer.

Meestal probeer ons onsself nog heroriënteer met al die skielike veranderinge aan ons planne.  En meestal is ons net gatvol.

Intussen lees ek oor trauma studies, dink oor moontlikhede vir 'n doktorsgraad, en kry my appartement weer reg vir twee mense om in te woon.

En probeer rustigheid verkry deur eerste beginsels.  Soos middagete maak, 'n taamlike elaborate middagete vir 'n werkende weeksdag, sodat ek tussendeur lesery deeg knie en pampoen skil.  Khachapuri, die Georgiaanse kaasbrood, wat jy warm eet sodat die mengsel van feta, ricotta en mozzarella smelt en op jou bord uitloop.  En 'n geroosterde pampoensop, uit Moro East, met baie rissie en kaneel.  Daar is genoeg sop vir 'n horde, so ek vries helfte om my en J te sustain oor 'n paar weke, in wat uiteindelik ons huis sal wees.  Ten minste vir 'n rukkie.