May 31, 2012

'n Kaapse draai (deel een)

So, ek klimp op ‘n vliegtuig en vertrek na die Kaap.  Vir ‘n naweek in Tulbagh, ‘n post-M/verjaardag/vaarwel celebration, en ‘n paar dae in Stellenbosch.  Ek word vergesel deur Die Kollega, my oudste en beste vriendin.  Aangesien die Kaapse draai grootliks rondom kos en drank gaan wentel kan ek nie vra vir ‘n beter kameraad nie.  Ons twee se kosgeskiedenis is lank en soms donders onheilsaam.  Ons obsessie met die Spur is 'n goeie voorbeeld hiervan.  Dit het begin het in ons laerskooljare op Mafikeng, die enigste restaurant op die dorp, waar ons ons sakgeldjies gaan spandeer het op ‘n Spur burger en ‘n Coke, of as jy regtig flush was, ‘n bakkie crumbed mushrooms, burger en Coke.  Afgewas met ‘n chocolate mousse.  In die hoërskool het ons in ons adolessente depressie groot hoeveelhede pizza saam verorber (saam met Coke Light, pasop vir daardie kalorieë, gevolg deur groot bakke roomys waaroor Milo-poeier gesprinkel* is.  Terwyl ons skelm besig is om flieks te kyk waarin daar ‘n paar jagse tonele mag wees, met die een oog op die skerm en die ander op die deur wat lei na Die Kollega se ouers se slaapkamer, ingeval hul wakker word en kom ondersoek instel en vind waaraan ons onsself blootstel. 

Nou is dit al amper 15 jaar later.  Ons is minder onskuldig, meer onrein.  Ons het wel intussen wyn ontdek.  (Ek hou steeds vol dat seks en drank basies die enigste redeeming faktore van die volwasse lewe is; die res is maar bra depressing.)  En nou is ons in Kaapstad vir die oggend voor ons vertrek na Tulbagh.

Die plan van aksie is eenvoudig – loop rond en drink koffie en eet wat ook al wat voorkom en heerlik lyk.  Ons eerste stop is vir koffie by The Power and the Glory.  Ons lyk nie soos die hipsters nie, maar die koffie is goed, en ek is enamoured met die charcuterie wat net duskant die till verkoop word. Vandaar stap ons na Knead vir heerlike pain au chocolat, koop vintage oorbelletjies in daai antique arkade in Langstraat, en val dan plat by Deluxe vir ‘n tweede rondte koffie.  Fabulous.  Ontmoet ‘n rukkie daarna ‘n paar vriende by ontbyt by Dear Me, en verskuif dan weer vinnig na Addis in Cape.  Die Ethiopiese middagete is platters injera met verskillende disse, waarvan die beste by verre die orgasmiese berbere lensies is.  ‘n Paar biere later vertrek ons na Tulbagh. (Public service announcement:  Ons was nie die bestuurders nie, vandaar die bier). 

Daar is vyf van ons vir die naweek – ek, die Kollega, die nimlike Hanli, Leon, en Gerhard.   Vrydagaand kook Gerhard vir ons.  Geroosterde vark met gebakte appel, en ‘n oondskottel vol aartappel gerooster in eendvet.  Die plan was om gebakte pere met saffraan, heuning en pecorino vir poeding voor te sit, maar ons drink uiteindelik net nog wyn. 

Ontbyt is Leon se baby.  Ons kry fraai geposjeerde eiertjies, bedruip met havarti, geroosterde rooirissie en sprietuitjies, en ‘n bak spek aan die kant.  Dan word daar wyn geproe.  Sjampanje by die Huis van Krone, wyn by Saronsberg en Manley.  Die wyn is okay, maar niks om oor huis toe te skryf nie.  Ons eindig uiteindelik op by Montpellier, wat uiteindelik die hoogtepunt van die wynreis is.  Onder ‘n boom sit ons ure lank en proe wyn, tot hul uiteindelik vir ons kos aanbied.  Ons aanvaar graag.

(deel twee van die Kaapse draai volg binnekort.  Nou is ek so honger geskryf ek moet eers iets gaan maak om te eet.)



*gesprinkel is dalk ‘n te subtiele woord, wat die ware omvang van die hoeveelheid Milo wat ingeneem is verbloem.  Die adolosente aptyt moet nie onderskat word nie.  Veral omdat ons op daardie stadium nog nie wyn ontdek het nie – iets moes daardie gaping vul.

1 comments:

Leon van Eck said...

Dit was so wonderlik. *sug*