May 21, 2012

enchiladas met hoender en suurroom

 Verjaardagete nommer drie.  Twee dae na die vorige een.  Dit is ‘n naweek van eindelose skottelgoed voor en na die eerste partytjie – was vooraf alle glase om seker te maak hul blink, en alle borde en bakkies wat nie dikwels gebruik word nie en dus stof vergader.  Was na die tyd die duisende stukkies vuil breekware wat die hele eetkamertafel versuur.  Vee die eetkamer uit (en die kombuis, ‘n paar keer), was die tafeldoek tussen ete 1 en ete 2 (ja, ek besit een relatief gangbare tafeldoek op hierdie stadium van my lewe, die res het te veel aande se rooiwynkolle en kerswasvlekke om enigsins bruikbaar te wees, en as my ma uitvind ek sit hul op die tafel word ek summier onterf).  Koop blomme, kap kerswas van die blakers af, sit nuwe kerse in.  Pak die boeke weg wat orals op elke oppervlak in die woonstel vergader.  Probeer orde in die yskas skep (‘n onbegonne taak, as jy binne twee dae twee etes hou vir 10 gaste elk, met vier gange elke keer).  En begin dan kook.  Vir die derde ete is dit, soos die ander kere, baie alledaagse, huislike kos.  (Ek sou die term koesterkos kon gebruik, maar dit klink soos iets wat Maretha Maartens sou gebruik as sy ooit ‘n kookboek sou skryf, wat dit onmiddellik diskwalifiseer van my leksikon van bruikbare woorde).  So daar is vooraf twee mieliebroodjies, weer volgens Marie se resep, met mieliemeel en koekmeel en botter en eierwit wat geklop en ingevou word sodat die broodjies heerlik lig is.  En ek voeg soetmieliepitjies by (van die stronk, nie uit die blikkie), en as die broodjies uit die oond kom sit jy dit dadelik net so warm voor, saam met genoeg botter.  Hoofgereg bestaan uit ‘n reuse bak enchiladas met hoender en ‘n verslawende suurroomsous met veel knoffel, komyn en chipotle.  In plaas van tortillas bak ek ‘n stapeltjie flatbread wat met die hoender gevul word.  Aan die kant ‘n koolslaai met ‘n Thai dressing (vissous, mirin, lemmetjiesap, ‘n bietjie tamaryn en palmsuiker, ‘n lepeltjie gefermenteerde shrimp, en ‘n goeie skeppie sambal oelek).  Teen hierdie tyd was ek lui, so poeding was nog wyn, en ‘n sjokolade platter.

Dit was ‘n taamlike raucous aand.  Daar was argumente oor Judy Chicago se Red Flag, oor die aanvaarbare aan- of afwesigheid van pubic hair (weereens, net Jan van Elfen kan wegkom daarmee om met ‘n straight face die term pubiese hare te gebruik), en oor die inherente elitisme van meeste kuns.  Almal is baie laat eers weg, en ek het die volgende dag regdeur my klasse gegaap.  Die skottelgoed is twee dae later eers gewas.  Ek voel nie eers meer skuldig nie.  

1 comments:

The Sourcerer said...

sjoe. wens ek was by EEN van hulle!