Feb 26, 2012

die cervezeria

Daar is 'n paar reëls wat jy moet onthou as jy 'n cervezeria (kroeg) kies in Barcelona.  Bly weg van La Rambla, of die plekkies net af van La Rambla.  Gaan soek in El Raval, die ou matrooskwartiere, met studente en prostitute en eindelose immigrante wat klein convenience stores besit wat tot die vroeë oggendure oop is.  Of in Barcelonata, met hangende wasgoed en kinders wat in die stegies speel en vars vis wat orals gebraai word.  Dan – moet in geen trendy bars sit nie.  Bly weg van plekke vol mojito-drinkende hipsters.  Jy is daar om bier te drink.  Bier wat nie meer as €2.50 kos nie, wat bedien word deur 'n middeljarige Katalaanse man met 'n wit vest onder sy wit knopieshemp.  As daar nie 'n blêrende TV in die agtergrond is nie het jy die verkeerde cervezeria gekies.  Ook as die Katalaanse man Engels verstaan.  Die beste cervezerias is waar jy 'n groot beker yskoue sangria (met drie keer soveel wyn as lemoensap, en 'n goeie skeut gin en Contreau) kan bestel vir €7, en waar dit gemaak word deur 'n nog ouer Katalaanse man wat effens sweterig werskaf in die kombuis.  En jy gaan wil eet.  Patatas bravas, brosgebraaide stukkies aartappels met 'n spicy tamatiesous.  Croquettas met jamon of aartappel of bacalhau.  Klein bakkies olywe en klein bakkies amandels.  Brosgebraaide klein vissies en nog kleiner seekatjies.  Die Katalaanse ooms gaan jou onthou die volgende keer wat jy weer daar aanstap, die locals steeds effe perplexed oor hoekom die average ouderdom van drinker in die cervezeria pas met 20 jaar gedaal het.

(Soos jul kan sien uit die baie kwaai foto van Johannes, neem ons ons cervezerias baie ernstig op.  Soos dit hoort.)






Feb 20, 2012

kolwyntjies

Hierdie is die enigste dingetjies wat die naweek uit my kombuis gekom het.  Gebak Vrydagaand, na 'n drie uur-lange personeelvergadering.  Na 'n middag van Pierre Bourdieu.  Na my tweede gin and tonic.  Ons het die volgende dag gaan piekniek hou, ek en my gesin, en die gebak is saam.  Vanieljekolwyntjies met sjokoladeversiering.  Als wat nie by die piekniek geëet is nie het my Sondag versterk in my dag van slaap, Jeffrey Eugenides se The Marriage Plot, en nog gin and tonics (op die bed, besig om te lees).  En vandag weer, te midde van meer Heidegger as wat een mens ooit hoef te lees, en aansoeke vir konferensies heinde en ver. 

Feb 16, 2012

charcuterie

Hierdie is een van my gunsteling winkeltjies in Barcelona.  Ek is seker ek hoef nie eens te verduidelik nie.

(En hierdie is offisieel ons 400ste post.  Dankie dat jul almal nog hier is.)

Feb 14, 2012

ridley road market, dalston

Hierdie is die Ridley Road Market in Dalston, Londen.  Daar vind jy, in geen spesifieke orde, gedroogde vis uit Nigerië (egusi), meer beespote as wat jy al ooit saam op enige plek gesien het, en religieuse haarkappers.  Ons het heel tuis gevoel.  Asof ons in Sunnyside rondloop, maar met meer vriendelike Halaal slagters.  Dieselfde gevoel van duisende immigrante se stories wat die plek deurgrond – Oos-Europieërs, Ghanese, Jamaikane, vrouens met burkas en oumas uit die old country wat nie 'n woord Engels kan verstaan nie.

By die wonderlike Turkish Food Centre het ons vir middagete 'n reuse plat brood gekoop, vars feta uit 'n groot emmer agter die toonbank, 'n klomp gemarineerde olywe.  Piekniek gehou in 'n park, verplaas nes die res. 








Feb 12, 2012

bibimbap

Londen, Soho, Junie 2011.  Ons eerste Koreaanse ervaring – bibimbap by, wel, Bibimbap.  'n Vuurwarm klippotjie met gaar rys, en rou vleis, groente en eier, wat gaar word soos jy die bestandele teen die potjie se warm wande deurmekaar roer.  Ons het twee verskillendes probeer – 'n bees bibimbap, en 'n spicy vark bibimbap.  (Die vark was by verre die lekkerder een.)  Daarna Harold Pinter se Betrayal, op die West End.  Met Kristin Scott-Thomas.  Be still my beating heart. 

 


Feb 10, 2012

nutellatert

Weer, soos verlede jaar, Pierre Herme s'n.  Want dit was Internasionale Nutella Dag op 5 Februarie.  En ja, dit is absoluut 'n geldige rede.

Feb 8, 2012

if in doubt, throw a party

 
 Daar is 'n paar dinge wat jy nooit vir twee mense wat in 'n proper langafstandverhouding is (nee, een wat bly in Pretoria en die ander een in Johannesburg, tel nie), moet sê nie.  Dit sluit in sjoe, maar is dit nie moeilik nie? (natuurlik is dit fokken moeilik), absence makes the heart grow fonder (waar is die naaste bottel wyn?) en kan julle nie maar iets aan die saak doen nie? (nee tannie, ons is altwee uiterste masochiste wat eintlik eindeloos plesier in hierdie arrangement vind).  En omdat dit wel een van die moeilikste goed is waarmee ek al ooit moes deal, saam met my twee motorkapings in een jaar en my ewigdurende eksistensiële krisis, trek ek my aandag daarvan af op dieselfde manier wat ek met my post-traumatiese stres en taamlike morbiede obsessie met die dood gedeal het – ek hou dinner parties.  Ek het nog altyd in die redemptive kwaliteite van kos geglo; nog meer so in die konteks van 'n klomp mense om 'n tafel, 'n klomp mense vir wie ek kan kos maak.  So dis wat ek doen.  Ek hou partytjies.
 
Die laaste paar maande was rof.  Dalk omdat ons naby aan die einde van die separation is, die nerwe oor die algemeen dun.  (Ook sal ons dit sterk afraai dat beide partners ooit op dieselfde tyd 'n major graad sit en klaar maak.) So ek het baie partytjies gehou.  In September was daar 'n Victoriaanse piekniek, met potted pork en dainty kolwyntjies en 'n shooter's sandwich, met mosterd, uie en 'n sappige stuk steak wat in 'n uitgeholde ronde brood geplaas word en dan oornag platgedruk word onder elke moontlike swaar glasbottel in jou besit, en jy dit die volgende dag in dik skywe kan sny terwyl jul lê op die gras.  Ons het Pimms gedrink, aarbeie geëet, ure lank gesels.

'n Week later het ek en my vriendin Amelia 'n Mad Men partytjie gehou, met kitsch kos uit die 60s – pigs in a blanket (aka die mees ongesonde dog verslawende appetiser in die geskiedenis van kos), devilled eggs, en chips (skyfies vir die puriste, maar wragtag, wie gebruik ooit daai woord?) met 'n uiedoopsous.  Hoofgereg was nie net een nie, maar twee potte fondue – een kaas en een olie.  Ons het almal soos karakters uit die reeks aangetrek, en heel aand martinis gedrink (asook 'n Tom Collins, 'n mint julep, en die surprisingly lekker old fashioned, Don Draper se drug of choice).  Nagereg was 'n kersiepastei, so uit die boeke.  Die laaste mense is die volgende oggend om 3 eers weg. 
 Desember was daar 'n Kerspartytjie.  Met dertig mense in my huis (red 'n volk, ek het gedog helfte gaan nie opdaag nie), kersversierings gemaak uit ou bladsye van 'n Duitse wetenskapfiksie roman wat uitmekaar geval het, en eggnog.  Waaroor almal natuurlik altyd aanvanklik baie skepties is, maar waarvan daar ook niks uiteindelik oorbly nie – daai kombinasie van eiers, room, suiker, brandewyn en whisky is onweerstaanbaar.  En daar was kos (want ek kan dit glad nie verstaan as mense jou na hul huis toe nooi, vir jou drank ingee, en dan verwag jy moet heel aand op 'n leë maag kuier nie).  Turkse börek, filosigare met feta en groenolyf en makadamianeut, kappertjiesaad en vars origanum, bruschetta met tuisgemaakte basiliepesto en oondgeroosterde tamatie, crudites met beet tzatziki, yskoue shots gazpacho, my ouma se legendary vleispasteitjies.  Daar was ook varkfilet gemarineer in gerookte paprika, baie knoffel en tiemie, vinnig gebraai en gesny in dun skyfies, en speseryneute, met komyn, kaneel en bruinsuiker.  En my vriende Nicola en Roger het twee van hul famous terte gebring – een met feta en kersietamaties, 'n ander met gekarameliseerde uie en anjovis.  Nagereg was 'n sjokoladetruffelkoek.  En nog 'n glas sjampanje.  En Christmas carols uit die veertigs. 
Maar steeds was het einde niet.  Ek en my ma het 'n Kerstee gehou, om beide van ons se lustigheid vir bak te plesier.  Daar was, natuurlik, hopeloos (hopeloos!) te veel koek.  'n Panforte, 'n pannetone, 'n tradisionele vrugtekoek met marsepein, sjokolade rugelach (Happy Hanukkah!), tuisgemaakte mince pies, gemmerbroodkoek kolwyntjies, en 'n reuse feestelike pavlova, met geklopte room, grenadillamoes en lietsjies.  En daar was, natuurlik, weer sjampanje. 

Dankie tog vir dinner parties.  Hul maak hierdie lewe leefbaar.

Feb 6, 2012

ceviche

Dis tans bitterlik koud in Europa, en volgens die Daily Mail (soos Fox News en ons plaaslike Daily Sun), daardie bastionne van trustworthy inligting, gaan 2000 mense in Engeland alleen hierdie week sterf.  Hier vrek ons net van die hitte.  Veral in my bloedige warm woonstel, waar ek meeste van my dag sit en skryf.  So hierdie is middagete, vir so lank as wat ek vars is in die hande kan kry – ceviche.  Stokvis, in blokkies gesny en vir ten minste 'n uur gemarineer in 'n kombinasie van suurlemoensap, lemoensap, sout en fyngekapte ui.  Dan word die oorblywende sap afgegooi, en 'n avokado bygesny.  Leuk. 

Feb 1, 2012

halala

So, ek is terug.  Met nuus.  Hierdie is 'n monumentale week vir ons – J gee sy PhD in.  Ek dink gister terug aan die eerste keer toe hy my vertel het van sy navorsingsvraag, kort voor hy weg is, terwyl hy besig was om die boekrak te bou wat sy afskeidsgeskenk aan my was.  Ek het niks geweet van kompleksiteitsteorie, van cluster satellites, van market-based control nie.  Maar dit het als so donders opwindend geklink.  Op daardie stadium was ons nog onseker oor wat sou gebeur as hy die land verlaat, of wat ook al tussen ons was die afstand sou oorleef.  Maar daardie dag se gesprek het my laat dink, I want in.  Met hierdie man wat skielik een dag besluit het ek het 'n boekrak nodig om al die cascading boeke in die woonstel te huisves, wat besig was om hier voor my te sit en kap en skuur, wat so opgewonde kon raak oor sy navorsing.  En vandag is ek so donders trots.  Op hom, en op die feit dat ons aangehou het.  En op die 184 bladsye, op drie en 'n half jaar se werk.

In ander nuus gee ek oor 6 weke my tesis in, so dis pretty much nag.  Maar vanaand, as dit moontlik was, het ek die hoofstukke gelos, en die tafel gedek.  En ons het sjampanje gedrink terwyl ons uitkyk oor die stad, oor die Uniegebou en die Hotel 224 wat blink in die nag.  En ek sou vir ons 'n stukkie steak gaar gemaak het, met frites en potjies bearnaise aan die kant.

(En daardie boekrak staan steeds langs my bed.  Beste boekrak ooit.)