Jan 15, 2012

januarie

J het twee dae gelede terug vertrek, en ek raak nog gewoond aan hoe stil Arkadia skielik is.  Ons doen hierdie tipe afskeide al drie jaar lank, en steeds is ons maar pretty teribble met die uitvoering daarvan.  Hierdie keer het ons na die oggend se miserabele tranedal besluit om die stad in te vaar, te voet.  Ek het die eerste paar blokke nog gehuil, tien teen een tot groot vermaak van die Arkadia prostitute en die tannies wat klein vetkoekies verkoop, vars gebak agter hul klein makeshift kombuisies van oopgevoude kartondose.  Ons het gestap oor die Apiesrivier, verbaas oor die feit dat niemand nog die twee koperleeus op Leeubrug gesteel het sedert Paul Kruger dit oorspronklik geskenk het nie.  Gestap verby rye en rye studente wat hoop om iewers 'n plek te kry  by een van die kolleges in die stad, aspirant call centre operateurs of IT-personeel of verpleegsters.  Gekyk na die eindelose haarkappers, kafees met russians and chips en pap and feet, deur die stadspoorte waar die ZAR se grense geproklameer is, tot by Strydomplein.  Langs die pad iemand wat 'n reuse skottel gedroogde mopaniewurms verkoop.  Ingeloer by Melrose Huis, tuiste van 'n ryk Brit tydens die Boere-Oorlog en deur Kitchener en sy soldate gebruik as 'n hoofkwartier.  Gestry oor of Kitchener werklik 'n doos was.  Teruggestap verby Burgerspark, nou sonder enige van die cruisers van die 80's, vinnig ingeloer by die majesteuse ou Standard Bank en Eerste Nasionale Bank op Kerkplein.  Vier biere en 'n disgustingly duur bord chips geëet by Cafe Riche, gelag oor Dan Roodt wat Pretoria die Parys van Afrika noem (so van dose gepraat).  

Teruggestap huis toe.  J het op 'n vliegtuig geklim, ek het 'n bottel wyn oopgemaak.  Gedink oor hoe wonderlik hierdie is, en hoe donders moeilik.  'n Adrienne Rich dag. 

I draw the curtains as the sky goes black
And set a match to candles sheathed in glass
Against the keyhole draught, the insistent whine
Of weather through the unsealed aperture.
This is our sole defense against the season;
These are the things we have learned to do
Who live in troubled regions.

Of soos Andries Bezuidenhout sing, Beter dae.  Beter dae inderdaad. 

4 comments:

Adele said...

Jou arme ding, ek voel vir jou. Klein bietjie wyn en/of 'n koppie tee sal help.

The Sourcerer said...

ag.
afskeid en liefde.

ek mis op die oomblik vir daai lang man so baie dis om van mal te raak.

wyn help 'n bietjie, vir 'n ruk.
tee help genuine fokol.

sterkte.

Anairam said...

Ag tog, die tragiek van afskeide. Maar is daar darem 'n einde in die vooruitsig? Om vir jare so te moet lewe is seker baie moeilik. Of is die weersiens soveel soeter agv die afskeide? Anyway, ek dink die situasie vereis 'n koek. (Ekself beleef 'n tragiese tydperk van weerhouding agv 'n vergryping aan koekies oor Kersfees. Dus sit ek nou hier met 'n sakkie Woollies wortelstokkies wat ek in cottage cheese doop en langtand aan knaag. My man sit langs my en eet 'n sakkie gesoute Simba peanuts. Ek meen, die lewe is werklik nie regverdig nie. Ek dink jy moet asseblief 'n stukkie oor lekker kos of koek skryf sodat ek dit vicariously kan geniet. Miskien voel ek en jy dan altwee beter.) PS Dankie vir die trippie deur Pretoria - ag, daar het ek darem baie rondgeloop. Sjoe, jy bring my jeug nou terug, nie dat ek dit wil oorh^e nie, hahaha.

Riette said...

Hierdie is so mooi geskryf. Dit wil my laat lag en huil tegelyk. Jou beskrywing van die stad vat so raak, ek ruik dit, sien dit, proe dit.