Jan 20, 2012

caelum, barcelona

Dinge hier is nog maar effe melankolies, en ek maak dus nie vreeslik kos nie.  En wat ek eintlik vandag begeer is 'n koppie koffie (en 'n bordjie soetigheid) by Caelum.  Ons het Caelum die eerste keer raakgeloop in die Barrio Gotic toe ons in 2010 in Barcelona was, een laat aand van verdwaal deur die ou stad se labirint strate.  Geleë op die hoek van Carrer de la Palla en Carrer Banys Nous, waar die Romeinse muur van die oorspronklike stad nog sigbaar is, is 'n restaurantjie met 'n hoekvenster vol koek wat uitkyk op die nou straatjies wat daar kruis.  Ek was enraptured.  Daar was fyn liggies in die venster, en binne was als wat nie koek was nie, wit – wit gordyntjies, wit tafeltjies, wit koekstaanders en blompotte.  Hul was reeds toe.  In die dag sou ons weer gaan soek na hul, maar eg aan die aard van die Barrio Gotic kry jy nooit 'n winkel wanneer jy hom soek nie; slegs later sal jy onverwags verdwaal en weer by hom uitkom.  Keer op keer het dit met ons gebeur, nie net in 2010 nie, maar ook in 2011 toe ons weer in Barcelona was.  Mettertyd het ons ook uitgevind dat die klein tee- en koekwinkeltjie spesialiseer in die gebak van die Spaanse kloosters, wat elk geken word aan 'n spesifieke tipe koek of koekie.  Dit was genoeg om my te oorreed dat ons eerste raakloop van die winkeltjie inderdaad kismet was, en met 'n pen in my hand het ek een oggend weer gaan soek na Caelum, dit uiteindelik gevind, en toe stap vir stap my pad huis toe aangeteken sodat ek later vir J daarheen sou kon neem.
 
 Die dag voor ons vertrek het ons die koekkorrels gevolg en by Caelum se deur ingestap.  Die koektafel was weer daar, soos altyd in die venster, starend na die ou stad.  Corazones de mazapan (marsepeinharte) van die klooster in Avilla, lunitas de almendra (amandelmane) van die Monasterio de Santa Clara in Badajoz, empanadillas de cabello de angel (engelhaarpasteitjies) van die Monasterio de la Purísima Concepción, ook in Badajoz, glorias de manzana y albaricoque (appel en appelkoos koekies van glorie), uit die Monasterio de Santa Clara in Calahorra, bolitas de coco (klapperballetjies) van die Convento de las monjas Jeronimas de Constantina in Sevilla, bombon de higo con ron y brandy (vyeballetjies met rum en brandewyn) van die Adoratrices de Berga in Barcelona self, en marron glace (geglaseerde kastaiing), uit Zaragoza, en nog omtrent 20 ander tipes koek en pasteitjies en koekies uitgepak op die tafel.  Ons het 'n paar uitgekies, koffie bestel, en gekyk hoe die stroom mense kort-kort abrupt stop as iemand die venster gewaar, uitroep, die persoon wat 'n paar tree agter hul loop nader wink om te kyk.

Koek bly, soos altyd, die waarheid.

Naskrif:  Dalk is koek presies wat ek in hierdie state nodig het.  Wat sou jul aanbeveel?  Wat bak mens as jy eintlik net op die bed wil lê en wyn drink?

1 comments:

The Sourcerer said...

Liewe Hemel.

dis nou op my lys.

ek sou iets bak met appels en amandels. 'n goeie ou crumble werk altyd vir my. bietjie suurlemoen skil. neut/kaneel/gemaalde groen peperkorrels en 'n groot knip sout