Sep 26, 2011

laaste van die winter

So, ons is nog hier. 

Lente is warm en bloesend in Arkadia, en die winter sluip stadigaan nader aan Southampton.  En ons het 'n moeilike paar weke agter die rug, met planne maak vir die toekoms terwyl ons die hede se gemis probeer negotiate, en met werkverpligtinge wat net nooit wil ophou nie.  Edward Thomas klink op in die verte – “And spring's here/ winter's not gone”.  So ons is moeg, en emosioneel taamlik uitgemergel, maar ons is nog hier.  Die lewe gaan aan.

En mens bly honger.  In die laaste van die winter se stuiptrekkings het ek by twee resepte uigekom wat al lankal op my lysie is – die vark in amandelsous uit Moro, en Yotam Ottolenghi se pampoen met 'n kruiekorsie. 

Die Ottolenghi pampoen klink in teorie heerlik – tiemie, pietersielie, en heelwat parmesaan.  Dan ook knoffel en suurlemoenskil en brodokrummels, wat met olyfolie gemeng word en gesmeer word oor skywe pampoen voor dit in die oond gebak word tot goudbruin.  Maar in praktyk moet ek bieg dat ek taamlik underwhelmed was daardeur, en ek wens dit was nie die geval nie.  Vir een of ander rede gebeur dit met elke liewe Ottolenghi resep wat ek probeer – als klink ongelooflik lekker, en is uiteindelik net taamlik gemiddeld.

Daarenteen was die vark in amandelsous glad nie 'n teleurstelling nie – vark wat stadig gestoof word tot sag, met knoffel, paprika, ui en tamatie, witwyn en noras rissies, met 'n sous wat uiteindelik verdik word met fyngemaalde amandel.  Ek het dit geëet met pangebraaide stukkies aartappel en 'n groot bak slaai aan die kant, en natuurlik nog witwyn.  Altyd nog witwyn. 

En dit is amper heelhartig somer.  Wat in my boekie beteken dis tyd vir pieknieke, baie braaivleisvure, 'n waentjie vol plaasgroente by die boeremark, en tuisgemaakte roomys in die vrieskas. 

Geluk.

Ns: En ek het nou eers (!!) op die laaste paar posts se kommentaar gereageer.  Jammer, julle :-/