Aug 17, 2011

papawersaadtorte


When in despair, bake a cake.  Baking is a restorative process.                                                            Antjie Krog, A Change of Tongue

Ek wag nog vir die beter dae om aan te breek.

Ek is nie lus om jul almal te verveel met als wat tans hier aan die gang is nie, suffice to say dat daar op meer as een front dinge is wat sub-optimaal is (dis wat gebeur as jy vir twee maande uithang in 'n huis vol ingenieurs, jy begin woorde soos sub-optimaal gebruik.)  In alle geval.  Die lewe gaan aan.

Intussen bak ek koek.  Kaalvoet, op die donderse koud swart linoleumvloer in die klein kombuisie in Arkadia, in 'n oond wat pas reggemaak is na dit in die middel van 'n dinner party 'n ruk terug die gees gegee het.  In my wêreld is 'n gebreekte oond die begin van 'n eksistensiële krisis.  Gelukkig was daar 'n Pretoria-Wes omie met 'n vaktap ou bakkie wat vir 'n week lank gesoek het na 'n element, en uiteindelik gister kom installeer het.

So ek bak vir myself 'n koek.  Ek is permanent besig om vir die hele stad koek te bak.  Vir vriende en verjaarsdae en tee-drinkende kollegas.  Maar hierdie koek gaan ek wragtag alleen opeet.  Dis 'n koek waaroor ek al menigmaal geskryf het hier, 'n Duitse papawersaad torte.  Geen meel nie, net baie papawersaad en neute en rosyne en eiers, en die allerheerlikste mengsel van botter en sjokolade wat als kroon.  Dis 'n koek wat jou onkant vang met hoe lekker hy uitdraai, en hoe moeiteloos hy uit die koekblik verdwyn.  Koek is die waarheid.  Moet dit nooit vergeet nie. 

4 comments:

The Sourcerer said...

lyk fantasties. ek moet sê: by 'n gebreekte oond pas stomp of geen messe. dit laat my hart sink. soveel so dat ek nou maar rondreis met 'n paar messe in my sak.

Marie said...

Geen suurlemoene nie, my nagmerrie.

Bly jy't weer 'n stoof!

Anairam said...

Ag, ek wens ek het nog in Pretoorsie gebly. Dan't jy my miskien vir my ook 'n koek gebak.

arcadia said...

Lily - ek weet. As ek en J deesdae op vreemde plekke kook het ons 'n klein pakkie met goed wat ons saamry, wat 'n goeie mes insluit.

Marie - haha, ja, Johannes voel dieselfde. Ek is ook bly oor die stoof.

Anairam - ag man, sou dit nou nie lekker gewees het nie? Dan kon jy sommer oorgekom het vir ete.