Aug 31, 2011

whoopie pies

Met my liewe vriendin Hanli se geskenk van Marshmallow Crème maak ek 'n baksel whoopie pies.  In my hart is ek Amish, en hierdie Amish gebak loer al lankal vir my.  Ek volg 'n resep uit Gourmet, vir die tradisionele sjokolade whoopie pies (wat die ma's van Amish kinders blykbaar vir hul in hul skoolkosblikkies ingepak het).  Die beslag is maar 'n baie basiese sjokoladekoek, en die vulsel 'n kombinasie van die marshmallow fluff, versiersuiker en botter.  En liewe lesers, ek moet jul vertel, met trane in my navy blou oë, dat die whoopie pies so donders soet was dat ek nie eens een kon klaar eet nie.  Volgende keer sal ek die vulsel uitlos en dalk net die marshmallow fluff gebruik, maar wragtag, vir daai vlak van soetheid sien mens net kans as jy vyf jaar oud is. 

Aug 29, 2011

kerrie

'n Paar weke terug, net nadat ek weer in Arkadia aangeland het, het ek besef dat daar dringende afleiding benodig gaan word in die tyd wat voorlê.  So ek het begin kerrie maak, lang, moeisame kerries uit Rick Stein se Far Eastern Odyssey, wat my hande besig hou en my kop dwing om oor ander dinge te dink.  Die opspoor van al die bestandele is opsigself 'n reuse afleiding – Stein se boek dek kos uit Kambodja, Vietnam, Thailand, Maleisië, Bali, Sri Lanka, en Bangladesh, en  die lysies bestandele vir elke dis is lank.  Vissous, palmsuiker, knoffel, gemmer, en tamarind paste.  Thai basilie, Vietnamese kruisement, grondboontjies, borrie, lemon grass, salotte, kaffir lemmetjieblare, vars klapper, gefermenteerde shrimp paste uit Kambodja.  En natuurlik rissies.  Baie rissies.  Vir die Thai kerries kom 'n reeks ander bestandele by – koljander en komyn, baie kardamom, naeltjies en kaneel en mace (die eerste keer wat ek dit ooit gebruik!).  As die bestandele uitgesorteer is het jy net tyd nodig.  Verkieslik oor 'n naweek, wanneer dit stil raak en jy nie paragrawe het om te skryf nie, en die hele huis lateraan ruik soos 'n speserywinkel.

 Ek begin met 'n resep uit Kambodja – Khmer varkkerrie, met klapper en pynappel.  Nie 'n besonder souserige kerrie nie, die klapper wat interessante dimensie verskaf aan hoe die geure ontwikkel.  Die vars pynappel verloor heeltemal sy soet element en word byna 'n groente, wat saam met klein, groen Thai eiervruggies die dis afrond.  Daarna skuif ek na Thailand vir 'n mussaman kerrie, maar kry nêrens die swart kardamom wat die kerrie blykbaar onweerstaanbaar maak in die hande nie, so dit bly daarsonder.  Bees stowevleis en aartappel is buiten die speserye die hoofkomponente hier, en dit word afgerond met Thai basilie en gekapte, geroosterde grondboontjies.  Daar was ook 'n slaai, afkomstig uit Vietnam, met hoender, salotte, Chinese kool, wortel en 'n verskeidenheid Vietnamese kruie (wat ek nie kon vind nie, en dus vervang het met wat hier beskikbaar is) en weereens die grondboontjies, en afgerond is met 'n slaaisous van vissous, lemmetjiesap, rice vinegar, en die ewig-teenwoordige knoffel en rissie.  Dit was leuk.

Daarna het ek vir 'n oomblik geskuif van Rick Stein na Maddur Jaffrey, en palak paneer gemaak.  Die paneer weet jul klaar van, en alhoewel die uiteindelike kerrie, vol garam masala en groot hoevelhede knoffel en gemmer lekker was, het ek my spinasie oorspronklik nie fyn genoeg gekap nie, en was die uiteindelike tekstuur van die kerrie nie heeltemal soos dit moes wees nie.  Meh.

Wat is jul geliefde kerries?  En wie kan my raad gee oor waar op aarde ek Thai basilie en Vietnamese kruisement kan vind?  The distraction continues.

Aug 27, 2011

lam mechoui

Ek wens ek het 'n foto van vanaand se kos gehad om vir jul te wys.  Maar die honger het my oorval en daar was geen hoop vir fotografiese bewyse nie.  Aandete was lamstjoppies met paprika en komyn wat met die gebrek aan 'n vuur vinnig in die pan geplaas word en waarvan die sagte, uiters geurige vleis bedien word met warm flatbread pas klaar gebak, en 'n deeglik geknoffelde tzatziki.  Die resep is uit die altyd-heerlike Casa Moro, waar hul aanbeveel dat jy die stukkies lam met die oorblywende paprika-komyn-sout besprinkel net voordat dit in jou mond verdwyn.  'n Glas witwyn is nou ook nie te versmaai nie.  Wragtag, ek het bladsye der bladsye geskryf vandag.  Ek verdien sommer twee. 

Aug 25, 2011

botterbroodjies

 
Dis alweer 'n bloody koue dag vandag.  My ma en ouma kom oor vir tee, so ek maak huis skoon.  Vee vloere, was skottelgoed, maak hopies van al die boeke wat orals rondstaan.  Saam met tee sal daar scones wees.  Rose Bakery se scones, uit Breakfast Lunch Tea.  Met styfgeklopte room, en kersiekonfyt.  

Die scones is aan die plat kant, ten spyte van die exorbitant hoeveelheid bakpoeier wat die resep meld – 'n eetlepel vir elke koppie meel, bid jou aan.  Later sien ek die bakpoeier het eintlik al 'n jaar terug verval.  Fail.

Ek laat jul met 'n foto van my wonderlike ouma, wat my nuutste kookboeke geannekseer het die oomblik wat sy by die deur ingestap het.  Hier sit sy en skryf resepte af.  “Ja, my kind, die dag wat ek nie meer in 'n reseppie belangstel nie is die dag wat jul weet die einde is naby.”

Aardjie na my maartjie. 

Aug 23, 2011

farfalle allo zafferano

Dit is 'n stil dag.  Ek kyk Michael Haneke se Caché (alweer), maak notas, pluis analises uit.  Hierdie is middagete.  'n Patricia Wells resep, uit Trattoria, uiters eenvoudig.  Farfalle, saffraan (dankie, Barcelona) en 'n lekseltjie room.  Parmesaan om alles te kroon.  'n Bakkie wilde roket (dankie, Boeremark) aan die kant.


Aug 21, 2011

paneer

Middagete.  Stukkies paneer wat gebraai is in olyfolie, besprinkel met regte za'atar van 'n Israeliese mark (dankie, Corné!).  'n Bakkie olywe, twee snye tuisgebakte brood.

 Die paneer is van vroeër in die week, oorspronklik gemaak vir palak paneer (of saag paneer), waaaroor ek nog sal post.  Dit was 'n moeilike dag, en ek het 'n projek nodig gehad vir die aand.  Die proses is maar baie dieselfde as vir die maak van ricotta, behalwe dat suurlemoensap gebruik word in plaas van karringmelk, en dat die kaas in 'n blok gekompakteer word in die yskas in plaas van om ligte korrels te bly.  Mens voel steeds geweldig accomplished daarna.  Wat het jy gedoen gisteraand?  Ag, nie veel nie.  Net kaas gemaak.  Take that, julle helle. 

Aug 19, 2011

goulash

Nadat ek Woensdag offisieel drie keer in die openbaar in trane uitgebars het het ek amper die aand se dinner party afgestel.  Dankdevader ek het nie.  Daar was Nigel Slater se goulash, varsgebakte brood, en 'n dessert plate met 'n verskeidenheid soetighede uit die vreemde – halva floss van die wonderlike Turkish Food Centre in Dalston, turrón, en naranja truffels uit Barcelona.  En bietjie te veel wyn (en sjampanje!), histeriese gesprekke, en geskenke van Marshmallow crème en Baconaise.  Red 'n volk met sulke vriende.  Dit was die eerste aand in die laaste paar weke wat ek bly was om terug te wees in Pretoria.  (Soos gewoonlik was ek te besig om te sorg dat almal kos en drank het om foto's te neem.  Sug.  Ek kort 'n professionele fotograaf by my dinner parties.)

Die goulash is wonderlik.  Dit kan 'n dag voor die tyd gemaak word, en die bestandele maak vir 'n  baie genuanseerde geurprofiel.  Uie wat stadig soet gebraai is met eetelepels vol Hongaarse paprika.   Tamatie, plomp rooi soetrissies van die Boeremark.  Gedroogde sampioene wat geweek is om al hul sappe beskikbaar te stel, biefaftreksel, rooiwyn.  En karwysaad.  Baie karwysaad.  (En natuurlik die stukkies varkskouer, wat vinnig in die pan bruin gebrand word voordat hul later sag kook in die geurige broth).  Peasant food, bitter welkom in hierdie gure weer. 

Lekkerte.

Aug 17, 2011

papawersaadtorte


When in despair, bake a cake.  Baking is a restorative process.                                                            Antjie Krog, A Change of Tongue

Ek wag nog vir die beter dae om aan te breek.

Ek is nie lus om jul almal te verveel met als wat tans hier aan die gang is nie, suffice to say dat daar op meer as een front dinge is wat sub-optimaal is (dis wat gebeur as jy vir twee maande uithang in 'n huis vol ingenieurs, jy begin woorde soos sub-optimaal gebruik.)  In alle geval.  Die lewe gaan aan.

Intussen bak ek koek.  Kaalvoet, op die donderse koud swart linoleumvloer in die klein kombuisie in Arkadia, in 'n oond wat pas reggemaak is na dit in die middel van 'n dinner party 'n ruk terug die gees gegee het.  In my wêreld is 'n gebreekte oond die begin van 'n eksistensiële krisis.  Gelukkig was daar 'n Pretoria-Wes omie met 'n vaktap ou bakkie wat vir 'n week lank gesoek het na 'n element, en uiteindelik gister kom installeer het.

So ek bak vir myself 'n koek.  Ek is permanent besig om vir die hele stad koek te bak.  Vir vriende en verjaarsdae en tee-drinkende kollegas.  Maar hierdie koek gaan ek wragtag alleen opeet.  Dis 'n koek waaroor ek al menigmaal geskryf het hier, 'n Duitse papawersaad torte.  Geen meel nie, net baie papawersaad en neute en rosyne en eiers, en die allerheerlikste mengsel van botter en sjokolade wat als kroon.  Dis 'n koek wat jou onkant vang met hoe lekker hy uitdraai, en hoe moeiteloos hy uit die koekblik verdwyn.  Koek is die waarheid.  Moet dit nooit vergeet nie. 

Aug 9, 2011

terugkeer

Ek is net meer as 'n week terug in Arkadia.  Winter is nie die beste tyd om terug te keer na die stad nie; alles is ongelooflik vaal, die bome in Pretoriusstraat kaal soos uit 'n Caspar Friedrich skildery.  My woonstel is stil.  Te stil.  Daar is geen vuil skottelgoed in sig nie.  In kort – ek is hier, J is nie.  Dit word nooit beter nie.

Daar is baie waaroor ons jul wil vertel.  Van wat nog gekook is in Engeland, en verorber is in Spanje, oor gesprekke wat ses weke lank aanhou en lang wagte op lughawens wat skielik perspektief gee op als waarmee ons besig is.  Die volgende paar maande gaan uitputtend wees, met J se D en my M wat ingehandig moet word, en allerhande besluite oor die toekoms wat ons aandag verg.  So ons probeer tans ons aandag aftrek van die aanhoudende gemis sodat ons onsself kan staal vir dit wat voorlê, en bowenal net besef hoe donders gelukkig ons is om hierdie te gevind het.  Gister was ons herdenking, drie jaar as jy nie al die maande van opbou (o! Daardie wonderlike opbou!) tel nie.  Ek het vir die eerste keer sedert ek terug is iets anders as corn flakes uit die kas gehaal.  Aandete was Patricia Wells se parmesan-breaded lamb chops, vinnig goud gebraai in 'n warm pan, kapokaartappel daarmee saam, en 'n heerlike bak slaai.  Perfection.

Dankie vir jul geduld met ons trae posts die laaste paar maande.  Binnekort is daar weer joie de vivre in die lug en dinner parties by die dosyne.  Tot wederom.