Jul 14, 2011

engeland, deel een

 Goeienaand. Ek het jul gemis.

Ek is tans in Ierland, in 'n baie klein dorpie genaamd Coolaney, by my tannie en haar man en hul twee klein dogtertjies, vir 'n vinnige kuier van vier dae.

My tyd weg van die huis is tot dusver heel dol; ek en J probeer om maande se gesprekke en reise en kuiers in te pas in 'n paar weke, en tussendeur het ons beide tesisse wat nie hulself gaan klaarskryf nie.

Baie tyd gaan tans in ons werk in, so ons het meestal minder avant-garde disse probeer en eerder gebly by dit wat ons met een hand agter die rug kan maak. Dus: Hamburgers gebraai op die vuur terwyl ons kuier met die res van die huismaats, pasta carbonara met van J se absoluut orgasmiese guanciale, malfatti. En baie comfort food: Geroosterde lam met baie knoffel en tiemie, Nigel Slater se mackerel viskoekies met boontjies en zucchini uit die tuin. En koek! 'n Okkerneuttert met botter en goue stroop, wat ek neersit op die eetkamertafel(tjie) vir die huis om hulself te help, wat beteken dat ek veel meer dikwels kan bak want geen koek hou 'n week lank nie. En volgraan chocolate chip skillet cookies, een reënerige dag toe die Britse weer (somer se gat) my erg begin vang, wat warm uit die oond geëet word met 'n skeppie roomys aan die kant, die volgraanmeel wat 'n heerlike neuterige geur verleen.
Daar is nog koek gebak vir J se verjaardag, na die oggend se splash-out ontbyt van pragtige aarbeie, croissants en Deense en Duitse salami, proscuitto en brie en verouderde cheddar. Ons gunsteling poppiesaadkoek, wat, ek dink, op my lys van 5 beste koeke ooit is, gedeeltelik omdat dit beide indulgent voel maar ook lig genoeg om elke dag 'n stukkie te kan eet. Later die week het ons 'n reuse verjaardagbraai gehou, met rondom 25 gaste, in elke hoekie van die klein huisie en tuintjie, met gaste wat uiteindelik op elke oop stukkie vloerspasie geslaap het, selfs in die gang voor die voordeur. Daar is gebraai, Engeland-styl, wat beteken meestal bangers en burgers. Ons het kofteh gemaak, met geknoffelde tzatziki aan die kant, en ek en J se Duitse huismaat Elizabeth het bykosse gemaak vir die massas – bakke en bakke Duitse aartappelslaai ('n absoluut verfrissende revelation, met rou soetrissie en komkommer en baie asyn saam met die aartappel in plaas van stodgy mayonaise, of nog erger, kondensmelk) en 'n merske hoeveelheid knoffelbrood, wat ek opgedokter het met stewige dosisse paprika in die knoffelbotter. Leuk. Poeding was 'n tweede verjaardagkoek, 'n plein wit tweelaagkoek met Amerikaanse sjokolade frosting, en 'n handvol goue en silwer balletjies, en verjaardagkersies, absoluut over the top maar heerlik celebratory.
Meeste van ons naweke word opgeneem deur reis, maar op die paar naweke tuis is daar rustige Sondae spandeer met varsgebakte scones of plaatkoekies, die aand dalk 'n fisant in die oond met ui, spek en appel. Ons het rondgery in die lush New Forest, tee en koek gehad by 'n lieflike tea room (in my opinie een van die mees wonderlike Britste institutions) in Lyndhurst, wat ook die dorpie is waar Alice Liddell, op wie Alice in Wonderland baseer is, begrawe lê.

Ook 'n sopnat dag in Salisbury, sonder reënjasse en met een vaktap sambreel besig om Stonehenge te bewonder. Buite die Salisbury katedraal het ons afgekom op die kerk se jaarlikse basaar, wat gelyk het asof dit uit 'n Hugh Grant-fliek getransponeer is – ou tannies wat spotgoedkoop tweedehandse boeke verkoop, dogtertjies met vlegsels wat rondloop met mandjies aarbeie, 'n tafel vol tuisgemaakte koeke waarvan hul snytjies verkoop. Middagete in 'n pub, steeds beide papsopnat, met pints cider en vis en chips.

Donder, wat 'n mondvol. Ek moet vir eers stop, en gaan lasagne maak vir my familie. Deel twee volg binnekort. Dis goed om terug te wees.

Jul 13, 2011

waar's-hy-waar's-hy-waar's-hy? (daar's-hy)

Ai.

Dit gebeur elke bloody keer wat ek en J in dieselfde land is.

Ons het die beste voornemens om gedurig deur te post oor als wat ons eet, en dan raak ons so oorweldig deur die paar wekies wat ons saam het dat als anders (buiten werk, hierdie keer) ver agter in die ry moet gaan staan.

So ja, hier word geëet, maar ook baie gereis, na Salisbury en Oxford en Londen en Liverpool en ook verder, na Ierland, en binnekort na Spanje.  En daar word gesels, lang, lang gesprekke op beddens en in treine en voor die stoof of in die tuin, en tussendeur skryf ons aan ons onderskeie tesisse en kyk Nunsploitation flieks in die aand as ons beide te moeg is om nog verdere intelligente gesprekke te hê.

Maar binnekort vertel ons weer oor die kos.  Belowe.