Jun 8, 2011

n-3

En hier is dit nag.  Ek merk hope Kunsgeskiedenisvraestelle, probeer my rande verander na ponde (drie ure in die bank spandeer hierdie week alleen), en besef net weer hoeveel eindeloos baie administrasie daar is wat moet gebeur voor jy jou voordeur agter jou sluit.  Intussen eet ek die huis leeg, van 'n kant af.  Inkvispasta, nog van verlede jaar se besoek aan Barcelona, saam met klein garnaaltjies, en baie paprika, 'n lekseltjie olyfolie.  En preie, gebak in die oond met bietjie room en suurroom en baie dragon (o, dragon!  Jy steel my hart), tot hul sag en geurig en plomp blink.  En saffraanaartappels, uit Casa Moro, met nora rissies, baie tiemie en knoffel. 

Ek is mal oor hoe lang reise 'n mens dwing om ontslae te raak van als wat sloer in jou yskas en spens, al die bestandele wat gekoop word maar nie soveel gebruik word soos dit moet nie.  Maar môre vertel ek jul verder.  Nou is daar 'n bondel wasgoed wat moet opgevou word, en nog 'n bondel vir die was.  Opwinding.

0 comments: