Jun 9, 2011

dal makhani

Bekentenis:  Ek is 26 jaar oud en het in die laaste week vir die eerste keer kennis gemaak met die wonder van dal makhani.  En noudat ek dit ontdek het, kan ek nie ophou om dit te eet nie.  Drie keer in die laaste drie dae, om presies te wees.  Ek volg 'n maklike resep van my ou geliefde, Nigel. Kook die lensies saam met heelwat water, 'n bietjie borrie, en sout.  Intussen braai jy 'n halwe ui en 'n teelepel komyn in botter, voeg later bietjie knoffel en die laaste van die sambal oelek by (yay! Nog iets wat klaar gebruik is!), en uiteindelik, as die lensies sag is en meer lyk soos kapokaartappel, meng jy dit in. 

Maak dit.  Sommer vanaand nog.  Daar's uiteindelik 'n rede om opgewonde te wees oor die winter. 

Jun 8, 2011

n-3

En hier is dit nag.  Ek merk hope Kunsgeskiedenisvraestelle, probeer my rande verander na ponde (drie ure in die bank spandeer hierdie week alleen), en besef net weer hoeveel eindeloos baie administrasie daar is wat moet gebeur voor jy jou voordeur agter jou sluit.  Intussen eet ek die huis leeg, van 'n kant af.  Inkvispasta, nog van verlede jaar se besoek aan Barcelona, saam met klein garnaaltjies, en baie paprika, 'n lekseltjie olyfolie.  En preie, gebak in die oond met bietjie room en suurroom en baie dragon (o, dragon!  Jy steel my hart), tot hul sag en geurig en plomp blink.  En saffraanaartappels, uit Casa Moro, met nora rissies, baie tiemie en knoffel. 

Ek is mal oor hoe lang reise 'n mens dwing om ontslae te raak van als wat sloer in jou yskas en spens, al die bestandele wat gekoop word maar nie soveel gebruik word soos dit moet nie.  Maar môre vertel ek jul verder.  Nou is daar 'n bondel wasgoed wat moet opgevou word, en nog 'n bondel vir die was.  Opwinding.

Jun 2, 2011

amper amper

Agt slapies.  En dan is ek in Engeland.


Vanaand begin ek solank als wat moet saamgaan opsy sit, en dink op hierdie vriesende wintersaand aan 'n heerlike warm pork belly broodjie,met stukkies crackling, en appelmoes, geëet by Borough Market.

(Agt slapies, mense!!  AGT.  Daar beter 'n bottel sjampanje wees aan die ander kant.)

June