May 7, 2011

opwinding! (want almal verjaar)

April en Mei voel soos een laaaaang partytjie.  Almal wat ek ken verjaar, ek self hou 'n handvol partytjies om my eie verjaarsdag te vier, en tussenin is daar Moedersdag en al daai eindelose klomp vakansiedae van 'n rukkie terug.  G'n wonder ek kry tyd vir niks anders as my M en al die sosiale vierings nie.  Ons begin met my sussie wat 21 word, so paar weke terug.  Daar word, in die woorde van my pa, verwoed gebraai, met boerewors en lamsribbetjie en sosaties en braaibroodjies.  En aartappelslaai en groenslaai, en 'n verjaarsdagkoek waarvoor ek verantwoordelik was.  'n Koek van Che Guevara wat 'n groep rebelle opsweep vir oorlog, vir my liberal arts-suster wat deur die obligatory Kommunis-fase gaan.  'n Paar vriendinne gaan na Isabella's vir koek en tee om my vriendin R se verjaarsdag te vier, en ek eet 'n stukkie poppiesaadkoek met ligblou versiering, beautiful.  'n Paar dae later word my ma 50, en my ouerhuis word volgepak met vriende en familie.  Ek braai boquerones in die kombuis vir die entree tafel vol tapas: Allerhande olywe, gebraaide chorizo met 'n cider glaze, vars brode en bakkies amandels.  Die heel oggend het ek en my ouma en tannie my ma gehelp met die hoofgereg, en die tafels kreun onder die kos.  Daar is lamspastei en Nigel Slater se goulash, 'n springbokboudjie, twee kalkoene en pietersielie kapokaartappel, oondgebraaide groente en 'n botterskorsie en kekerertjieslaai.  Poeding is net so formidabel – 'n outydse trifle, bessie clafoutis, 'n bak met reuse Ottolenghi-styl meringues, 'n pavlova met granaatpitjies, en klein wit kolwyntjies met silwer balletjies, uitgepak in 'n reuse 50, volgepak met kersies om aan die brand te steek. 

En asof dit nie genoeg was nie, bespreek my pa toe 'n paar dae later vir ons om high tea te gaan geniet by die Michelangelo hotel op Sandton square, die gesinsviering van die groot verjaarsdag.  Red 'n volk.  Swartwoudkoek en sjokolademoussekoek, crepes met Nutella.  Klein croissants met salm en roomkaas, komkommertoebroodjies, klein quiches en mini hoenderkebabs.  Deense pastries, botterbroodjies met kaas en konfyt.  'n Kaasbord, 'n vrugtebord, 'n klein sjokoladefontein.  En nog 'n klomp dinge wat ek nie als eers meer kan onthou nie.  Oorweldigend. 

Nie al die celebrations was so extravagant nie.  My viendin S kom kuier uit Stellenbosch en ons nooi 'n klomp vriende oor vir 'n ligte aandete van brood en kaas en vrugteSjokolade espressokoek vir poeding.  My vriend A verjaar en ek eet aan huis van my vriendin Ami, met 'n heerlike ricottapastei en welige slaai.  Ek vat kolwyntjies vir poeding, wat ook aangesteek word en al singende by die kamer inwals.  Daardie selfde naweek vier twee ander vriende hul verjaarsdae, en hul huis vol gaste smul aan die heerlikste bakkies olywe, warm terte vars uit die oond, met ansjovis en gekarameliseerde uie, met oondgeroosterde kersietamaties en ricotta. 

Oor die Paasnaweek word ek genooi vir 'n braai by 'n ander vriendin se huis.  Ons eet so langsaam deur die loop van die aand, soos wat die vleis warm van die vuur af kom.  Gemarineerde hoender, uiters geurige prawns, stukkies biefstuk.  Met bakke van die heerlikste slaai aan die kant, en 'n hele versameling paaseiers vir poeding.  Laastens is die verjaarsdag van my vriend en kollega C.  Tuisgemaakte spring rolls terwyl ons vooraf wyn drink, couscous met amandels en droë appelkoos, en hoenderdytjies in 'n appelkoosmarinade vir hoofgereg.  Koffie en tuisgebakte sjokoladeneutkoekies vir poeding. 

Dis wragtag erger as Kersfees.

1 comments:

Bileam se Donkie said...

Sorry, het 'n paar van die goeters se name verkeerd gespel in my blog. Vandag oor 3 weke- Tapas in Madrid!