May 24, 2011

involtini

Een van die gevolge van so ver uitmekaar woon is dat dinge wat vir ander mense commonplace is, alledaags, is vir ons ongelooflik opwindend.  Die roetine van saam woon en werk is een van daardie dinge, van tot laataand sit en gesels en wyn drink in die tuin, opstaan en koffie maak, werk, inkopies doen, besluit wat geëet word vir aandete.

 Daar's 'n taamlike sterk sin van roetine, wat belangrik is as jy so produktief moet wees soos wat tans van ons verwag word – daai M en D gaan hulself nie skryf nie.  Daar word opgestaan, vinnig ontbyt geëet, en dan by die eetkamertafel gesit en werk vir die oggend.  Ek maak middagete, ons eet by die tafel in die tuin, en dan is dit tyd vir die middagskof.  Laatmiddag gaan stap ons op die common, of gou winkel toe vir die aand se kos.  Dan is dit tyd vir 'n glas wyn, en weer die kombuis.
Hier is een so middagete, Nigella Lawson se involtini.  Dun skywe eiervrug word in 'n riffelpan gesrooster, terwyl jy 'n tamatiesous aanmekaar slaan.  'n Vulsel van feta, fyngekapte neute, knoffel, groenuie en kappertjiesaad, vars kruisement en pietersiele, suurlemoenskil en rosyne word op die eiervrug geskep en dan word hul opgerol, geplaas in die oondbak, en gesmoor met die sous.  Skywe mozzarella rond die prentjie af, en dis tyd vir die oond.

(Dis ook nog lekkerder die volgende dag, as beide partye te katatonies gewerk is om te dink aan middagete.)

2 comments:

Marie said...

Rifflepan.

Dankie.

Lyk verskriklik lekker.

Jane-Anne said...

Yum. What a delicious blog you have. Looking forward to exploring more of it.