May 30, 2011

Spaanse visbredie

Ek het vandag 'n ongelooflike klomp skryfwerk wat moet gebeur.  So ek het besluit daar's geen beter tyd om 'n omslagtige visbredie aanmekaar te slaan nie. 

As deel van my winding down periode voor slaaptyd sit ek dikwels in die bed en blaai deur my kookboeke.  'n Paar dae terug het ek so afgekom op 'n resep uit Casa Moro, met die wonderlikste lys bestandele.  Ferm mootjies vis, en gapermossels.  Vinkel en knoffel.  Vinkelsaad en lourierblare.  Saffraan.  Amandels. 

Mens moet tog begin werk op 'n vol maag, al dan nie?

May 29, 2011

kolwyntjies by die hummingbird


J haat enige hipster hangouts. Ek is daar nog 'n feilbare mens, en soms gee hy toe en vergesel my na een. Soos na die bekende Hummingbird Café, in Kensington. Oppad terug van die Saatchi gallery, steeds besig om te dink aan Goshka Macuga se Madame Blavatsky, het ek hom oorreed om te stop vir een of twee van hul bekende kolwyntjies. 

Ons het die signature rooifluweelkoek gehad, asook die black bottom cupcake, met roomkaasversiersel. Die kolwyntjies het na my sin te veel versiersuiker op, en die koek is nou nie die mees orgasmiese ding wat ek al ooit geëet het nie, maar goeiste, hul is wel beautiful.


May 28, 2011

ontbyt, tuis

In Arkadia lyk ontbyt tans so. Kool wat in 'n rokende warm pan gebraai word met bietjie sojasous en baie sambal oelek, en twee saggebakte eiers. Geroosterde rogbrood aan die kant. Geëet op my pandjieswinkelbanke voor die venster in die sitkamer, in die son.
 

Flowers

It is finally beginning to feel like summer.  Bright and light, with the occasional shower.  The exuberant greens of spring is more subdued now, but it's not yet as hot as July will be.  The vegetables celebrate by flowering: an excited red for the beans, the peas are a bit more reserved.  And there's the careful unfolding of the squashes too.


 



 

 

May 27, 2011

ek verjaar! (5)

Die verjaarsdagmaand is (uiteindelik) op 'n einde.  Daar was twee klein celebrations wat nie by my huis plaasgevind het nie, een saam met my gesin en een saam 'n groepie vriende, en toe een laaste splash-out dinner party.  Daar was sjampanje, en presente, en 'n pragtige bos lelies.  En sewe fabulous vriende aan my tafel, vir 'n aand van tapas.  Ons het begin met vars gebakte pain a l'ancienne en oondgebakte knoffel, salotte en vinkelbolletjies.  Op die tafel was daar olywe, klein babaworteltjies uit een van die Boeremark ooms se tuin, en dun komkommerstukkies.  Volgende was daar brosgebraaide boquerones (daar is niks meer wonderlik as 'n hele bak vol klein vissies nie), en toe patatas bravas, met 'n zippy sousie.  Ons het geëindig met garnaal croquettas, en nog wyn.  Vir poeding: Peter Veldsman se weergalose sjokolademousse, waaroor ek iewers in die toekoms 'n volwaardige post sal moet wei, bedien in my Turkse teeglasies.  Die hoeveelheid skottelgoed die volgende dag was absoluut traumaties.  Geen beter teken van 'n uitstekende partytjie nie. 

May 26, 2011

ontbyt, in die vreemde

In Barcelona lyk ontbyt so - varsgebakte brood van 'n kwaai Spaanse tannie, en dun snytjies kaas.En soms was daar ietsie soets.  Soos hierdie reusagtige pastry, ook uit die kwaai tannie se winkel.  Dit het amper my hele skoot vol gesit.  Pragtig.



May 25, 2011

kweperbrandewyn

Kwepers by die mark, en ek maak kweperbrandewyn.  Met 'n vanieljepeul, heel stukke kaneel, en steranys.  Nou pronk dit op die eetkamertafel, en loer vir my terwyl ek werk.

szechuan inkviskoppies

'n Vinnige aandete in Southampton: Sout en szechuan pepperkorrels word gerooster in 'n baie warm pan, waarby jy klein inkviskoppies- en tentakels voeg, 'n goeie glug olyfolie, en verder braai.  Eet saam met pangebraaide aartappels en slaai uit die tuin.

May 24, 2011

komposkoekies

Toe ek 'n paar weke terug begin lysies maak het van als wat ek wil klaar eet voor ek vertrek het ek afgekom op 'n sakkie in die vrieskas vol los stukkies sjokolade en lekkers wat die laaste maande in my bakkery ingegaan het.  Wat doen jy met so helse klomp random soetgoed?  Jy bak komposkoekies.  Hooha.

involtini

Een van die gevolge van so ver uitmekaar woon is dat dinge wat vir ander mense commonplace is, alledaags, is vir ons ongelooflik opwindend.  Die roetine van saam woon en werk is een van daardie dinge, van tot laataand sit en gesels en wyn drink in die tuin, opstaan en koffie maak, werk, inkopies doen, besluit wat geëet word vir aandete.

 Daar's 'n taamlike sterk sin van roetine, wat belangrik is as jy so produktief moet wees soos wat tans van ons verwag word – daai M en D gaan hulself nie skryf nie.  Daar word opgestaan, vinnig ontbyt geëet, en dan by die eetkamertafel gesit en werk vir die oggend.  Ek maak middagete, ons eet by die tafel in die tuin, en dan is dit tyd vir die middagskof.  Laatmiddag gaan stap ons op die common, of gou winkel toe vir die aand se kos.  Dan is dit tyd vir 'n glas wyn, en weer die kombuis.
Hier is een so middagete, Nigella Lawson se involtini.  Dun skywe eiervrug word in 'n riffelpan gesrooster, terwyl jy 'n tamatiesous aanmekaar slaan.  'n Vulsel van feta, fyngekapte neute, knoffel, groenuie en kappertjiesaad, vars kruisement en pietersiele, suurlemoenskil en rosyne word op die eiervrug geskep en dan word hul opgerol, geplaas in die oondbak, en gesmoor met die sous.  Skywe mozzarella rond die prentjie af, en dis tyd vir die oond.

(Dis ook nog lekkerder die volgende dag, as beide partye te katatonies gewerk is om te dink aan middagete.)

May 23, 2011

wintersaand, en twee potte sop

My huis bly die ankerpunt van my bestaan.  Vanaand hang ek druppende bondels wasgoed op in my klein badkamertjie, pak my klerekaste reg en pak vir goed die somersklere weg.  Maak hopies van boeke wat terug moet gaan biblioteek toe (Heidegger, Modernistiese argitektuur, die monstrous feminine), en die wat nog moet gelees word voor ek vertrek.  Draai 'n present toe vir my ouma se 80ste verjaardag, maak lysies van als in die yskas en vrieskas en koskas wat moet klaargeëet word voor my vlug, wy my nuwe journal in.  En maak sop.  Sommer twee potte, sodat daar heelwat kos is hierdie week wat te midde woeste skryfsessies net vinnig warm gemaak kan word.  'n Baie spicy, savoury botterskorsiesop, geïnspireer deur die heerlike weergawe wat ek by Madame Zingara's gehad het 'n paar weke terug, en 'n aartappel- en preisop.  Met heelwat dragon, romerig en uiters comforting.  Nou is dit tyd om brooddeeg aan te maak.  Lekker slaap, almal. 

dinge om na uit te sien


Naas Johannes se huis is hierdie my gunsteling plek in Southampton.

(Ja, dis die Ikea kafeteria. Ek kan nie wag om terug te gaan nie.)

May 22, 2011

socca en eend prosciutto

Dit maak mens uiters gelukkig om eend prosciutto in die huis te hê.  Dis heerlik as 'n pre-aandete happie terwyl jy wag vir die kos om gaar te word,, of vir 'n vinnige (en ongelooflik indulgent) ontbyt saam met geroosterde rogbrood en skywe ryp avokado. 

Maar vanaand eet ek dun slivers saam met socca, Italiaanse kekerertjiepannekoekies.  Gespikkel met tiemieblaartjies, die pannekoekies 'n dowwe, earthy geel. 

Tyd om 'n bottel wyn uit die kas te gaan kies.  Dit is 'n goeie aand.

koek en losse sedes

Steeds Madrid. 

Ons het vir dae lank elke dag verby 'n reuse sex shop met neonligte gestap, en uiteindelik besluit om in te gaan.  Baie oninteressant in vergelyking met Amsterdamse sekswinkels, met ongelooflik baie lesbian cheerleader porn (seriously?  You've got to be kidding me), en super dodgy Spaanse omies wat staar vir die DVD covers op 'n manier wat geen mens of ding ooit na gestaar wil word nie.  Die meer traumatiese aspekte van die winkel sal ek jul spaar, maar suffice to say dat ons decidedly vanilla gevoel het toe ons daar uitstap.  En ons het 'n behoefte gehad om herinner te word aan als wat heilsaam is in die lewe.  Hierdie lieflike bakkery oorkant die straat het tot ons redding gekom. 

Marsepein!  Veerligte pastry!  Fyn neute in als!  Koek is steeds die waarheid. 

May 21, 2011

stapelvoedsel

Madrid. 

Ons het ure spandeer in die Prado, die Reina Sofia, en die Museo Thyssen-Bornemisza.  Ons het terloops afgekom op 'n vertikale tuin, en enige plek waar ons moeg en honger geraak het gaan plat sit en ons trusty kosblik uitgehaal.  Met snye brood, kaas, avokado en pimenton.  Soms 'n stukkie ham, of chorizo.  En J se knipmes, wat ons vergesel op al ons avonture. 

Hoe heerlik die vryheid van die onselfbewuste toeris.




Ottolenghi se pampoensoufflés

Oor drie weke is ek oppad na Engeland.  'n Paar weke daarna vertrek ons na Barcelona vir 'n week en 'n half, vir bietjie werk en bietjie plesier.  Maar voor dan, mees geliefde lesers, moet ek twee (twee!) hoofstukke van my M skryf, als wat moet saamgaan na Europa in twintig measly kilogram inpas, en vier dae voor ek vertrek sorg dat ek 100 derdejaar Kunsgeskiedenis vraestelle merk. 

Gee aan daai glas wyn. 

Maar dit beteken ook dat ons graag jul uiteindelik klaar wil vertel van als wat ons verlede (!!) jaar geëet het tydens die Europese sojourn, en dat ek wil praat oor al die herfskos wat ek geniet voor ek myself weer in 'n heerlike somer begewe. 

Soos gisteraand se pampoensoufflés, uit Yotam Ottolenghi se Plenty.  Met goudgeel pampoen, geroosterde haselneute, tiemie en bokmelkkaas.  Herfs, in die oond. 

May 20, 2011

ek verjaar (4)

Ek is steeds besig om te verjaar.  Wat in my wêreld beteken die woonstel is vir 'n verandering heel skoon, die huis is vol tulpe (Mei!  Jou pragtige maand!), en daar is 'n konstante stroom van mense wat aan my tafel aansit.  'n Week terug was dit vyf vriende en 'n aand van buckwheat crepes, gevul met dun slivers ham en Gruyere en heerlike saggebakte eier, pragtige Breton galettes.

 Vir poeding was daar klein bakkies melkerige koffie (ja, à la Heidi), en 'n klein, hoë soet en sout sjokoladekoek, met klein vlaggies en goue balletjies.  Dit was pragtig.

May 16, 2011

rogbrood

Gisteraand se rogbroodjie: Twee koppies broodmeel, een koppie rogmeel.  Twee teelepels sout, twee suiker, en, afhangende van hoe lank jy jou deeg wil laat rys, tussen 'n halwe teelepel en een en 'n halwe teelepel gis.  Knie terwyl jy soek vir 'n woonstelletjie met 'n klein kombuisie in Barcelona, vir drie dae se wonderlike kokery in Julie. 

May 15, 2011

verjaardagkolwyntjies

Twee vriendinne het oorgekom vir verjaardagkoek- en tee.  Daar was nog van die quiche, die laaste van die poppiesaadtorte, en hierdie kolwyntjies.  Geel verjaardagkoek, versier met geklopte room waarby bietjie versiersuiker en baie suurlemoenskil ingemeng is.  Vrolik.

May 10, 2011

ek verjaar! (2)

Die vieringe gaan voort.  My kollegas kom drink tee, en ek staan vroegoggend in die koue kombuis en bak.  'n Franse uietert (so much more than the sum of its parts, bly dit 'n absolute wenner), en my gunsteling papawersaadtorte.

Hoe heerlik.

May 9, 2011

ek verjaar! (1)

Ek is groot op verjaarsdae.  In die woorde van J: “Jy verjaar soos 'n agt-jarige.”  Which is true.  Verjaarsdae is vir my ongelooflik opwindend.  En hierdie jaar het ek nog meer rede om my lewe te vier – presies 'n jaar gelede het my post-hijackings nervous breakdown my uiteindelik heeltemal tot stilstand geruk, en nou, op my 26ste verjaarsdag, voel ek vir die eerste keer in 'n baie baie lang tyd weer soos myself.  Die beste weergawe van myself.  En om dit te vier het ek die hele Mei as my verjaardagmaand verklaar.  Ons begin met 'n uitstappie na die Melrose House Antique Fair saam met my vriendin R, waar ek 'n een of ander ou oom se home video oor hul reis deur Rhodesië in die 1950's gekoop het, en ek R kon bekendstel aan die wonderlike Poolse tannie en haar ongelooflike karpatka.  Ons eet Southern Carolina-styl burgers by Tribeca na die tyd, en die aand gaan ek en my gesin uit vir pizza, en maak ek 'n tafel vol geskenkies oop, onder andere 'n tuindwergie, wat twee van my siblings besluit het is iets waarsonder ek nie kan leef nie. 

Die dwergie het vir die res van die aand saam met ons aan tafel gesit, wat die ander gaste in die restaurant baie amusant gevind het.  Iemand het ook oppad uit vir my pa gevra of ons almal sy kinders is.  Ek dink dit het sy aand gemaak.

May 8, 2011

eend prosciutto: ruhlman vs van gameren (2)

Die plan was aanvanklik om hierdie baie lang, uitgebreide post te doen oor hoe die twee eendborsies verskil het.  Behalwe, liewe lesers, dat ek uiteindelik gevind het dat daar nie so reuse verskil was nie.  Die een metode neem 'n maand om te cure, die ander 'n paar dae.  Beide proe vir my leke tong maar pretty much dieselfde.  That is, uiters heerlik en orgasmies.  En gans te vinnig op. 

May 7, 2011

opwinding! (want almal verjaar)

April en Mei voel soos een laaaaang partytjie.  Almal wat ek ken verjaar, ek self hou 'n handvol partytjies om my eie verjaarsdag te vier, en tussenin is daar Moedersdag en al daai eindelose klomp vakansiedae van 'n rukkie terug.  G'n wonder ek kry tyd vir niks anders as my M en al die sosiale vierings nie.  Ons begin met my sussie wat 21 word, so paar weke terug.  Daar word, in die woorde van my pa, verwoed gebraai, met boerewors en lamsribbetjie en sosaties en braaibroodjies.  En aartappelslaai en groenslaai, en 'n verjaarsdagkoek waarvoor ek verantwoordelik was.  'n Koek van Che Guevara wat 'n groep rebelle opsweep vir oorlog, vir my liberal arts-suster wat deur die obligatory Kommunis-fase gaan.  'n Paar vriendinne gaan na Isabella's vir koek en tee om my vriendin R se verjaarsdag te vier, en ek eet 'n stukkie poppiesaadkoek met ligblou versiering, beautiful.  'n Paar dae later word my ma 50, en my ouerhuis word volgepak met vriende en familie.  Ek braai boquerones in die kombuis vir die entree tafel vol tapas: Allerhande olywe, gebraaide chorizo met 'n cider glaze, vars brode en bakkies amandels.  Die heel oggend het ek en my ouma en tannie my ma gehelp met die hoofgereg, en die tafels kreun onder die kos.  Daar is lamspastei en Nigel Slater se goulash, 'n springbokboudjie, twee kalkoene en pietersielie kapokaartappel, oondgebraaide groente en 'n botterskorsie en kekerertjieslaai.  Poeding is net so formidabel – 'n outydse trifle, bessie clafoutis, 'n bak met reuse Ottolenghi-styl meringues, 'n pavlova met granaatpitjies, en klein wit kolwyntjies met silwer balletjies, uitgepak in 'n reuse 50, volgepak met kersies om aan die brand te steek. 

En asof dit nie genoeg was nie, bespreek my pa toe 'n paar dae later vir ons om high tea te gaan geniet by die Michelangelo hotel op Sandton square, die gesinsviering van die groot verjaarsdag.  Red 'n volk.  Swartwoudkoek en sjokolademoussekoek, crepes met Nutella.  Klein croissants met salm en roomkaas, komkommertoebroodjies, klein quiches en mini hoenderkebabs.  Deense pastries, botterbroodjies met kaas en konfyt.  'n Kaasbord, 'n vrugtebord, 'n klein sjokoladefontein.  En nog 'n klomp dinge wat ek nie als eers meer kan onthou nie.  Oorweldigend. 

Nie al die celebrations was so extravagant nie.  My viendin S kom kuier uit Stellenbosch en ons nooi 'n klomp vriende oor vir 'n ligte aandete van brood en kaas en vrugteSjokolade espressokoek vir poeding.  My vriend A verjaar en ek eet aan huis van my vriendin Ami, met 'n heerlike ricottapastei en welige slaai.  Ek vat kolwyntjies vir poeding, wat ook aangesteek word en al singende by die kamer inwals.  Daardie selfde naweek vier twee ander vriende hul verjaarsdae, en hul huis vol gaste smul aan die heerlikste bakkies olywe, warm terte vars uit die oond, met ansjovis en gekarameliseerde uie, met oondgeroosterde kersietamaties en ricotta. 

Oor die Paasnaweek word ek genooi vir 'n braai by 'n ander vriendin se huis.  Ons eet so langsaam deur die loop van die aand, soos wat die vleis warm van die vuur af kom.  Gemarineerde hoender, uiters geurige prawns, stukkies biefstuk.  Met bakke van die heerlikste slaai aan die kant, en 'n hele versameling paaseiers vir poeding.  Laastens is die verjaarsdag van my vriend en kollega C.  Tuisgemaakte spring rolls terwyl ons vooraf wyn drink, couscous met amandels en droë appelkoos, en hoenderdytjies in 'n appelkoosmarinade vir hoofgereg.  Koffie en tuisgebakte sjokoladeneutkoekies vir poeding. 

Dis wragtag erger as Kersfees.

May 6, 2011

totsiens somer


Ek moet tegnies nou sit en klasse uitwerk vir later in die jaar, wat ek moet gee as ek terug is van my sojourn in Engeland (net vyf weke voor ek vlieg!).  Om my lê artikels oor die monsteragtige in film (baie vampiere, weerwolwe, body horror), maar ek is wragtag nie nou daarvoor lus nie.  Dus iets wat ek al lankal dreig om te doen – 'n round up van als wat ek te besig was die laaste paar weke om oor te skryf.  Eers, die etes tuis.  Ter afsluiting van die somer het ek Jamie Oliver se Barbecoa burger gemaak (eintlik 'n hele paar keer, want dit was donders lekker).  Dis die burger wat hy in sy nuwe Barbecoa restaurant in Londen aan die gaste voorsit, en behels 'n hele paar interessante elemente.

Die patty word in die pan gesmeer met 'n goeie veeg mosterd en vars tiemie, wat in 'n heerlike savoury korsie op die vleis verander.  Terwyl dit in die pan sis druk jy twee ansjovisfillette fyn en meng met mayonaise, en dit kom op die broodjie.  'n Bros repie spek en 'n sny beleë cheddar rond die prentjie af, en dit is een erge leuk burger.  Daar was ook 'n heerlike pan pizza, met nog ansjovis, en olywe en mozzarella, geëet saam met 'n glas wyn.

En ou gunstelinge – flatbreads met tahini en falafelballetjies, ontbyte van kool met sambal oelek, en twee saggebakte eiers, geroosterde rogbrood aan die kant.  Daar was 'n absolute disastrous poging to Korean wings (suikersoet hoendervlerkies, enigeen?), en daar was pancetta op elke manier denkbaar.

Nou moet ek jul nog net vertel van al die heerlike etes buite die huis, en dan kan ons verwoed in die herfs inspring.  Ek kan nie wag nie.





Ns: Daar was ook baie slaai tussenin.  Net ingeval dit lyk asof ek nooit enige groenigheid inkry nie.

May 1, 2011

middagete, en koek scouting

Nog net een slapie voor ek verjaar!  Daar is 'n hele lang verjaardagmaand vol celebrations wat voorlê, maar vir nou is ek heel gelukkig met 'n pan spaghetti en gebraaide pancetta, terwyl ek besluit op watter verjaardagkoeke (ja, meervoud) om te bak.  Soveel opsies, so min tyd.  Vandag se contenders sluit in hierdie pristine wit koekie, die soet en sout sjokoladekoek van die ander dag, en hierdie (!!!) pragtige reënboogkoekie.  Opwinding.