Mar 28, 2011

somersmaal

Maandagoggend, en ek is exhausted.  Saterdagoggend is ek om 5h30 by die Boeremark, maak my trollie vol met hoenderdytjies en pakke en pakke soetmielies.  Ek koop bossies preie by 'n ou oom van agter sy bakkie af, pakkies kruisement en roosmaryn en suurlemoen van 'n vrou wat vra na die spyskaart van die aand, en vra waarvandaan ek die energie kry om vir 13 mense kos te gee.  Die tamaties en komkommer kry ek van die Da Silvaboere wat na die mark kom van Cullinan, tel oppad twee bosse tulpe (R15 elk!!) op, en 'n hele paar soetrissies, en room vir die pavlova.  Die oorvloed vye by die stalletjies verlei my en maak ook hul weg tot in die waentjie. 

Die res van die dag word daar gekook vir 'n ete wat die beste van die somer moet weerspieël, net voor dit weg is.  Eerste die gazpacho, sodat dit kan yskoud word deur die loop van die dag.  Dan begin ek brooddeeg aanmaak, laat dit staan in die kolletjies son in my studeerkamer.  Marineer die varkfilette in ongelooflik groot hoeveelhede knoffel en paprika, maak 'n hele potjie vol za'atar aan.  Die pavlova het ek gisteraand al gebak, en die staan en wag in die sitkamer om uiteindelik versier te word.  Net voor die gaste arriveer braai ek gou-gou die soetmielies in bietjie botter, en meng dit dan met die feta en kruiement.  Die preie word gebak, en gekroon met 'n eenvoudige vinaigrette van olyfolie, rooiwynasyn, en J se sterk tuisgemaakte mosterd wat hy agtergelaat het in Januarie.  Die aartappels is ook syne, 'n dis so heerlik ek het dit summier gesteel.  Skywe aartappel word gebraai in heelwat olyfolie, knoffel, roosmaryn, kappertjiesaad, rissie en suurlemoen, totdat hul supremely savoury en uiters aangenaam is.  Met die eerste gaste besig om wyn te skink bak ek gou die dytjies met hul za'atar doppies tot gaar, drink self 'n glas wyn, maak vir nog 'n paar gaste die deur oop.

Daar word tot laat gekuier.  Ons gesels oor die furry fetish, oor die demokratisering van die internet, oor die pretensie van postmoderne kunsdiskoers.  En oor Ballade vir 'n Enkeling, Black Swan, en Lars von Trier se selfbepaalde posisie as beste regiseur van sy generasie..  Die pavlova word later bedien, met room, en die vye wat vinnig gerooster is met vanieljesuiker en kaneel.  Granaatpitjies om als af te rond.

1 comments:

Petro said...

Sjoe! Ek is nou skoon honger. Klink regtig feestelik.