Feb 26, 2011

sweetcorn fritters

Die oggende word koeler hier in Pretoria, die aande minder bedompig, sodat mens hopelik binne 'n paar weke nie meer in die aand sal lê en jou lakens natsweet terwyl jy wag om aan die slaap te raak nie.  Maar dit merk ook die stadige kwyning van die somer.  Die waatlemoene in die winkels raak al minder, ons begin weer avokados raakloop.  Mens begin dink aan jou gebrek aan 'n ordentlike wintersjas, die moontlikheid van 'n tafel vol gaste om 'n fonduepot vol gesmelte kaas.

Maar vir eers is daar die laaste paar weke van ordentlike hitte en die kans om alles wat nog op jou somerslysie is vir die jaar, af te handel.  Ek wil nog 'n paar swemsessies inwerk in my vintage polkadot swembroek, 'n ordentlike piekniek hou, 'n keer of wat 'n lang staptog deur Arkadia se strate onderneem.  'n Paar kere heerlik braai, die onwettige drag races in Voortrekkerstraat bywoon en op die sypaadjie staan en kyk na die jaagduiwels, meer linte in my hare dra.  Ek wil nog 'n paar somerdranke maak, en my hand slaan aan semifreddo, en 'n bak lensieslaai eet, a là Lyon, met 'n bordjie charcuterie en agurkies langs die kant.  En tot vanmiddag nog wou ek 'n ordentlike resep vind vir sweetcorn fritters.

Dis nie dat ek nie al probeer het hierdie somer nie.  Daar was 'n paar probeerslae, almal teleurstellend.  Die slegste van die klomp het my basies gelaat met 'n plaatkoekie, met 'n paar soetmieliepitjies wat plek-plek uitsteek.  Dit was nie die idee nie – ek was op soek na iets geurig en lig van tekstuur, met die degie as 'n bysaak.  Die soetmielies moes die aandag trek.

Wat ons tot by vandag bring.  Via The Wednesday Chef vind ek Bill Granger se resep.  Dis nie woerts-warts nie (jy maak eers 'n soetrissiesousie om saam met die fritters te eet), en dan die fritterbeslag, maar dis heerlik.  Die soetmielies word aangevul met heelwat groenuie, 'n bietjie koljander en komyn, en net-net genoeg meel en eier om als te bind.

Somer op 'n skinkbord.

1 comments: