Feb 13, 2011

Nutella tert


Ek was veronderstel om hierdie tert al 'n week terug te gemaak het, op Internasionale Nutella Dag.  Maar toe raak ek oorweldig deur werk en 'n algemene vlaag van hartseer, en staan die bestandele in die kas en vereensaam en dink aan al die ander gelukkige Nutella-skeppings van regoor die wêreld, in hul transkontinentale haselneutorgie.

Maar dit is tyd om my prioriteite reg te kry.  En die gebrek aan koek in hierdie huis aan te spreek.

Ons begin met 'n resep van Pierre Hermé, Parys se befaamde pastry chef en macaron meester.  Hy stel 'n tradisionele soet shortcrust tertdop voor, maar ek vervang dit met fyngestampte digestive koekies en gesmelte botter.  Van hier af volg ek Hermé se advies slaafs: 'n laag Nutella word oor die beskuitjiekors gesmeer, gevolg deur 'n laag wat bestaan uit gesmelte *donkersjokolade, botter en eier.  Bo-op word twee handevol heel haselneute gesprinkel, voor dit gou vir net meer as tien minute in die oond gebak word.

Warm uit die oond is die tert heerlik.  Maar na 'n paar uur in die yskas is dit onverbeterlik, soveel so dat ek myself streng moet rasioneer tot 'n klein snytjie elke dag, anders verober ek die hele tert in twee dae en dra ek die gevolge van die sugar high vir veel langer.

Gelukkige Nutelladag, eters van die wêreld.  Dié agteros is ook uiteindelik in die soete kraal.


 *Na baie gesoek na die bekende Valrhona sjokolade waaroor bakkers in ander lande so swoon, het ek uiteindelik verlede jaar in Londen 'n blok daarvan opgespoor.  Baie duur en baie donker is dit uiteindelik gebuik vir hierdie tert.  En alhoewel ek nie kan sien dat ek ooit in my lewe gaan kan bekostig om deurgaans met sulke lieflike sjokolade te bak nie, is daar wel iets daarvoor te sê – die sjokoloade se ryk, komplekse smaak is taamlik verslawend. 

5 comments:

Anairam said...

Jis, ek het sowaar nie geweet daar is 'n Internasionale Nutella dag nie. Ek moet ook erken ek het nog nooit Nutella geeet nie. Miskien is dit die bestanddeel wat my lewe, tot dusver nie te sleg nie, perfek sal maak. Maar anders as jy het ek geen selfbeheer nie en sal ek dus die tert in een dag verorber. Ja, koek maak alle dinge beter. En ek het baie van David Mitchell se Cloud Atlas gehou. Laat weet hoe die de Zoet boek is. Nie dat ek nou tyd het om te lees nie maar ek het darem Freedom van Franzen al begin.

Lily Turner said...

Liewe Hemel.
dit lyk fantasties.
ek was lanklaas so gelukkig soos daai dag in Rome toe ek inloop by 'n kombuis en daar staan 'n fles Nutella so groot, mens se elboog verdwyn omtrent daarin. sug.

Marisa said...

Goeie genugtig maar dit lyk lekker. Nou moet ek myself net beheer om nie die hele bottel Nutella te verorber voor ek dit kan aanwend vir hierdie tert nie...

Marisa said...

O en ps: As jy weer in SA is en Valrhona soek - Wild Peacock in Stellenbosch hou dit nou aan. :-)

arcadia said...

Anairam: Ek was mal oor die De Zoet. Lees dit.

Lily: Daai klink orgasmies. Absoluut.

Marisa: Dankie!! Dis uitstekende nuus.