Feb 15, 2011

arroz negro

Een aand in Barcelona het ek en J vroegaand deur 'n visserswoonbuurt gestap.  Wasgoed wat by die vensters uithang om droog te word, stil, nou straatjies, en straatkafees waar mense sit en diepgebraaide ansjovissies en piepklein seekatjies eet.  Later die aand het *ons 'n klein restaurantjie gevind, en arroz negro geëet.  'n Katalaanse spesialiteit, amper 'n tipe paella, met plomp korreltjies rys, pikswart te danke aan die hulp van die inkvis, met 'n verskeidenheid seekos.  

 Desember het ons dit weer geëet in Simonstad, saam met J se gesin, en verlede week het ek my eie hand daaraan geslaan.  'n Vriendin wat ek jare laas gesien het kom oor vir ete, en ons staan in die kombuis en kuier terwyl ek tamaties en rooirissies en knoffel laat braai, voordat die pêreltjies wit arboriorys by geroer word.  Visaftreksel, witwyn en die ink kom ook in die pot, en dan prut dit tot sag.  Net voor jy opdien voeg jy weer die seekos, wat jy vroëer gaargemaak het, weer by.  Ons drink nog wyn, gesels oor reise in Tanzanië en die reis van 'n klavier na Kampala, en eet uiteindelik gietswart bakkies arroz negro, black soos label deur die nag so swart soos bybel**.

'n Paar notas:
  • Ek is nie mal oor rys nie, maar die geurigheid van hierdie dis, en die prag van die arboriorys, het my absoluut oorgewen.  Maak dit met die beste rys wat jy kan bekostig.    
  • As jy in Suid-Afrika woon, gebruik Ina Paarman se nuwe sakkies visaftreksel.  Punt.
  • Omdat hierdie dis die beste lyk wanneer dit pikswart is, het ek gevind dat dit die beste werk wanneer jy die hoeveelheid ink wat gestipuleer word in resepte, verdubbel.   
  • Enige seekos kan gebruik word.  In die Kaap het ons ook stukkies hoender bygevoeg. Hierdie laaste poging was veel eenvoudiger – slegs klein stukkies kalamari.  

*ek het tegnies iets anders bestel, maar J se arroz negro was by verre die mees memorable bord kos van die aand.
**uit Gert Vlok Nel se waarom ek roep na jou vanaand

7 comments:

Petro said...

Hi, dit klink hemels.
Maar toe val ek amper van my stoel af.Oujaarsaand in Rosendal. En ons praat ook oor die reis van 'n klavier na Kampala.
Was dit Jurgie/Hannli?
So toevallig.

arcadia said...

Dit is inderdaad! Ek het nou ook van my stoel afgeval. Donder. Bly te kenne! Almal wat 'n vriendin is van Hanli, is 'n vriendin van my!

Petro said...

"Vriendin", dis mos hoe ek ook voel. Ek wens ek kon haar kloon. Dan sou die wêreld 'n baie beter plek gewees het.
Ek wil saam gaan op die klavier/ Kampala tog. Reis tot by Cecile in Arusha. Dink net watter wonderlike ondervinding dit kan wees.

Marlette said...

Hi, Arkadia. Ek lees nou al bykans 'n jaar lank jul blog en geniet dit vreeslik baie.
Jy laat my verlang na dinge wat ek nie ken nie...
Dankie dat jy jou kombuis, etes en gedagtes met wildvreemdes deel. Dit hou my eie bestaan in perspektief.
Marlette

Marie said...

Waar op dees aarde het julle die ink gekry? Is dit deel van Ina se visafreksel?

Nadat ek risotto by Al di La in Brooklyn geet het, is ek geconvert. Hulle maak ook die ink risotto, maar ek is malste oor hul suurlemoen weergawe, seker omdat ek nie sonder suurlemoene kan leef nie.

arcadia said...

Hallo Marlette! Dankie vir jou beautiful woorde. Ons is weer regtig opgewonde dat ons meer as 2 lesers het, so dis heerlik as jul uit die woodwork klim. Laat hoor gerus meer van jou!

arcadia said...

Hey Marie!

J het vir my die ink gekoop by Fruit and Veg City se Food Lovers Market, van alle plekke. Nogal in Pretoria Noord ook (nie juis bekend as die culinary center of the universe nie). Ons het baie van dit in Spanje gesien, en bietjie daavan gekoop, maar kan onsself nou skop dat ons als weggegee het as geskenke vir mense :-/