Jan 27, 2011

tomatoes a la crème

My aande is skielik weer stil.  Ek staan in die kombuis en ruik hoe die geure van my bure se aandetes by my venster invlieg, sien hoe kinders op die vloere onder my op en af hardloop buite hul ouers se voordeure.  Die Somali paartjie by die woonstelblok langsaan is alweer op die dak besig om hul TV-draad te herstel.  Onder in die parkeerarea word daar karre gewas terwyl dit donker word, nog kinders wat tussen die emmers seepwater rondspeel.  Maar by my is daar nie 'n geluid nie. 

Ek maak 'n dik stukkie swartwoudspek gaar, diep gerook en bevredigend sout.  Een of twee snye rogbrood, 'n bakkie vol rocketblare.  En Edouard de Pomaine se tomatoes a la crème, waaroor Elizabeth David liries raak in 'n ou uitgawe van Gourmet.  Dis skokkend eenvoudig.  Sny 'n paar tamaties in die middel deur, en plaas saam met 'n bietjie botter plat in 'n pan.  Na vyf minute draai jy hul om, sprinkel bietjie sout oor, en laat saggies sis vir tien minute.  Daarna draai jy hul weer om, laat staan vir nog 'n paar minute, en draai dan weer terug.  Op hierdie punt gooi jy 'n paar skeutjies room in die pan, en as die room begin borrel skep jy dadelik op.  Elizabeth David is ook nooit verkeerd nie.

4 comments:

Adele said...

Ek is 'n massive Elizabeth David fan. Hierdie tamaties klink heerlik, baie dankie vir die resep.

Anairam said...

Die stilte klink 'n bietjie 'sad'. Of is dit 'n rustige soort stilte? Die resep maak my lus - en sekerlik maklik genoeg dat iemand soos ek dit kan maak. Ek het juis vier tamaties wat vir my l^e en loer. Maar sal dit werk met daai botteltjies long-life room van Woollies? Ek het nou 'n bietjie van 'n oorvloed van hulle in my koskas nadat ek (amper letterlik) van my trollie geraak het voor Kersfees toe hulle op 'n special was. Nou sien ek die vervaldatum is 4 Februarie so ek moet 8 botteltjies room opeet voor dan.

Marie said...

Sad stilte kan ook goeie skryfwerk oplewer...

Is sadness underrated? Ek wonder. Iemand wat dikwels vra of ek "Happy" is gaan binnekort geklap word.

Klink baie lekker, and the title had Elizabeth David written all over it. Dankie.

Jeanne @ CookSister! said...

Ek mis partykeer die stilte wat kom van alleen woon. En hierdie is een van Elizabeth se resepte wat vir my uitgestaan het to ek haar boek gelees het - so eenvoudig maar so slim.