Jan 18, 2011

sorbet

Mense het verskillende maniere om met afskeid te deel.  Ek nooi mense oor en voer hul.  Beplan spyskaarte en koop bestandele en, hierdie keer, staan bedroef in my kombuis terwyl die somerreën konstant op ons neerval buite en maak batch na batch roomys.  En sorbet.  Ses soorte, om presies te wees.  Vir 'n roomyspartytjie 'n paar dae na J se vertrek, sodat ek myself forseer om mense te sien en nie heeltyd op die sitkamerbank te sit en televisie kyk en huil nie.


Vandag skryf ek oor die vrugtesorbet.  Een pruim, een aarbei, een druif.  Die drie variante het verskillende metodes tot gevolg gehad – soms, soos met die pruimsorbet ('n River Cottage resep), het ek die vrugte vooraf gebak sodat hul geurig sag word en maklik fyngestamp kan word tot 'n diep rooi pulp.  Ander kere, soos met die druifsorbet, het ek dit net so vars verpulp, sodat mens die klein stukkies druifdop nog kan bespeur.


Die bestandele het hier en daar verskil – almal het strooisuiker bevat, in 'n mindere of 'n meerdere mate afhangend van hoe suur die vrug is.  Sommiges het 'n skeutjie vodka by, om te sorg dat dit nie kliphard word in die vrieskas nie, ander, soos die River Café aarbeisorbet, 'n bietjie suurlemoensap en fyngerasperde skil.


Tot laat het ek staan en fynstamp en verpulp en yskristalle opbreek, en probeer ophou dink.

Ns: Ek is ook nou die eienaar van 'n kamera.  So wees asseblief maar geduldig terwyl ek vir die volgende rukkie irriterend baie foto's post. 

2 comments:

Marie said...

Ek hou van die fotos.

Sterkte. Hou aan meet en maak en voer en eet.

Adele said...

Jou arme ding. Moenie die sjokolade vergeet nie. Dit werk elke keer.