Jan 20, 2011

roomys

Met die drie bakke sorbet in die vrieskas het ek begin met die roomys.  Die maak van roomys is 'n engrossing taak.  Dit verg jou volle aandag, met al die verskillende stappe en  tydsberekeninge en die donderse eier wat allewig wil skif.  Dit is dus perfek as jy alweer probeer om nie aan ander dinge te dink nie.


Ek fokus dus op sjokolade.  Fyngekap, versterk deur aansienlike hoeveelhede Dutch process kakao, wat in die room- en eiervla verdwyn.  Die mengsel neem uiteindelik heelwat langer om te verdik as wat ek verwag het, en ek is teen 11h00 nog in my slaapklere.  Ek gee nie om nie.  Ek woed voort.  Ek begin pistachios rooster en fynstamp en nog eiers skei.  Dan weer die eindelose geroer. 


'n Uur en 'n half later staan ek en wag vir suiker om te karameliseer.  Ek haat hierdie prosedure want 1) dit neem baie lank en 2) as jy nie heeltyd 'n oog daarop hou nie en die suiker brand vas gaan jy jouself dae lank skop.  Met 'n vorige karamelisingsproses het J my aandag afgetrek deur 'n soen in die gang en het een van my potte so erg vasgebrand dat ek die hele ding moes weggooi.  In alle geval – die suiker het (uiteindelik) gekarameliseer, daar is botter bygevoeg en dit het weer verhard.  Ek het nog geroer, dit het uiteindelik weer gesmelt.  Volgende was die room.  Weer dieselfde storie – suiker wat skielik in een harde klont verander en eindelose geroer vereis om weer te versag.  Toe ek teen 13h30 nog steeds ongestort staan en roomysvla roer was dit slegs die ongelooflike ryk kleur en geur van die karamelbottermengsel wat my steeds positief laat voel het oor die hele mal perd wat ek alweer opgesaal het.  

 
Maar die uiteindelike partytjie was heerlik. 'n Tafel vol vriende wat sit en deur die loop van 'n Sondagmiddag deur die verskillende roomyse werk. Gesels oor die abject. Stry oor die akkuraatheid van palm lees. Nog roomys. En Black Lable. Verskillende break-up stories. Monogamie versus polyamory. WWE rofstoei. Tot laat, sugar highs all round.

Naskrif:  Die orige eierwit kan later gebruik kan word vir pavlovas (ek vries ook my eierwitte as ek soms te veel op een slag het).  Beide die sjokoladeroomys en salted butter caramel roomys is David Lebovitz se resepte, die pistachio roomys is afkomstig van die lieflike Not Without Salt.
Hou asseblief in gedagte dat as jy, soos ek, nie 'n roomysmaker besit nie moet roomys liefs in die oggend gemaak word, sodat jy dit vir die res van die dag elke paar uur kan omroer om van die yskristalle ontslae te raak.  In my ondervinding is gelato baie moeilik om ysvry te kry op hierdie luddite manier, so ek hou maar eerder by resepte ryk aan room. 

2 comments:

Adele said...

David Lebovitz is koning. Het jy sy roomys boek? Ek het gedink ek maak my lewe maklik toe ek 'n roomys masjien kry, maar jy kan nie meer as een roomys direk na mekaar maak nie. Dit moet eers ontvries en dan weer vries. 'n Pyn.

Marisa said...

Ek voel jou pyn met die lack of roomysmaker. My vorige roomys maak attempts het ek gewoonlik aangepak kort na aandete, dus, die gereeld roer om yskristalle op te breek het nie juis gebeur nie. Sal maar volgende keer die oggend ding probeer, want daai pistachio roomys roep my naam.