Jan 25, 2011

papawersaadtorte

Ons het vanoggend my oupa begrawe.  My ouma, hul vyf kinders, en agtien van die twintig kleinkinders.  Vanmiddag is ek moeg gehuil.  En ek dink aan my ouma, wat 54 jaar met hom getroud was, en wat nou alleen in 'n reuse stil huis sit.  Ek wil kombuis toe gaan en vir haar koek bak.  Hierdie koek, 'n torte van papawersaad en sjokolade, een wat my ouma *opgewonde maak.   Oorspronklik 'n Duitse resep wat kom uit een of ander fancy coffee shop in Berlyn, is dit 'n koek wat die beste elemente soomloos saamsnoer.  'n Heerlike krummelrige tekstuur van gemaalde papawersaad, pekanneut en rosyne, saamgebind met genoeg eierwit om iets wat andersins swaar en stodgy kon wees verander in iets lieflik lig.  Bo-op 'n mengsel van botter en sjokolade.  Dis die tipe koek wat jou virtuous laat voel met elke happie papawersaad, wat jou nooit laat sleg voel oor 'n tweede stukkie nie.  Selfs al moet mens dit soms alleen eet.





*Alhoewel dit in alle eerlikheid ook moet genoem word dat my ouma baie maklik opgewonde raak oor koek; ek aard duidelik na haar.

6 comments:

Lily Turner said...

My sympatie. Dink aan julle.

Marisa said...

Ek pink sommer 'n traan waar ek hierso sit - begrafnisse maak my baie hartseer, selfs al ken ek nie eers die persoon nie.

Sterkte vir julle familie.

PS: Die koek klink flippen lekker - poppy saad is heeltemal underrated.

Petro said...

Ai tog. Simpatie van hierdie kant af. 54 jaar! Wat 'n voorbeeld.
My pa was van Joodse afkoms, dus troos ek ook altyd met kos.
Sterkte

Adele said...

Jammer om te hoor, bokkie. Ek hoop mense eet eendag koek as hulle my wil onthou.

Marie said...

Ek lees dit nou eers. Ek is baie jammer.

Jeanne @ CookSister! said...

Baie jammer om te hoor - sterkte vir jou hele familie. Ek voel dieselfde oor my pa - 35 jaar met my ma getroud toe sy oorlede is, en nou bly hy alleen in ons enorme huis vol herinneringe en fotos - ek wil sommer hul as ek daaraan dink. Maar hy wil niks hoor van trek nie. My ma sou ook opgewonde geraak het oor die koek :)