Jan 23, 2011

gazpacho

Noudat ek myself met die roomys uitgewoed het het ek deesdae nie vreeslik lus vir kos maak nie.  Ek bly by dit wat uiters eenvoudig is – pasta met pesto, roosterbrood met kaas.  Gisteraand het ek myself uiteindelik so ver gekry om 'n stukkie swartwoudspek gaar te maak en 'n halwe bossie klein preie te rooster.  Die stand van my woonstel mag hiermee te doen hê.  Die laaste week is spandeer aan lees oor ontologie en die syn (dit hou nooit op nie, voel dit), aan klasse uitwerk oor die monsteragtige in film, aan gewoond raak daaraan om 'n kantoor te hê vir die eerste keer ooit.  So my huis staan op sy kop.  Dit terwyl daar nie net 'n hele klomp roomys in my vrieskas is nie, maar ook 'n yskas vol kos.  Onder andere 'n sak vol blosige tamaties van die boeremark.  Nog 'n sakkie ferm rooirissies.  En twee komkommers.  (Ek kan nie presies onthou hoekom daar twee is nie, moet ek eerlik wees.)

 Wat my bring by gazpacho.  Koue sop is nie my ding nie.  Warm sop is beter maar ook nie so uiters wonderlik dat ek dit heeldag wil eet nie, maar koue sop en ek het net nog nooit mekaar gevind nie.  Maar toe bedien Marie op Nuwejaar die mees heerlike geelrissiesop, koud en crisp en comforting.  En wel, toe moet ek my verhouding met koue sop heroorweeg.  Van vooraf benader.  Daar is dus vanaand gazpacho op die spyskaart.  Van Orangette se resep, met geroosterde rogbrood aan die kant.  Dalk is ek besig om my weë te verander. 

3 comments:

Anairam said...

Nou ja, die lewe is ook niks as mens nie jou mind kan verander nie, n^e. Ek hou van koue komkommersop.

Marie said...

Dankie :-) Ek moet se ek is mal oor (goeie) koue sop! Dit lyk baie lekker.

Ons het nou die dag so 'n jumped up 'gazpacho' geeet - by Jardine op Jordan, dat dit my kwaad gemaak het. Mozzarella binne in. Pesto. Verskillende olies. Nee. Neeneenee.

Adele said...

Dankie tog iemand anders voel soos ek. Sop, warm of koud, is nie my gunsteling nie. Ek bly dink ek behoort daarvan te hou, en as ek dit eet is dit lekker genoeg, maar ek maak dit omtrent nooit nie, en sal dit ook nooit bestel in 'n restaurant nie. Hou vsn jou foto.