Jan 9, 2011

boeremark


Goed.  Dit voel asof maande verbygegaan het vandat ek laas iets geskryf het; die laaste twee weke se posts is almal lank terug geskryf, en was geskeduleer om te verskyn terwyl ek en J in die Kaap is.  En ja, hy het uiteindelik gearriveer, baie vroeg een oggend net voor Kersfees, en ons het 'n week en 'n half spandeer aan presente toedraai en later weer ander oopmaak, aan die wind in Simonstad trotseer en oor rotse klouter, aan lang gesprekke om sy ouers se ronde eetkamertafel.  Daar is ook wyn geproe, en die ontmoet van kubervriende by wat bestempel kan word as die mees heerlike Nuwejaarsete van my lewe, gekook deur Marie van 66 Square Feet.  Oor al hierdie dinge sal daar weldra nog uitgewy word, maar vir nou is ek en J eers vir 'n dag of vyf in Pretoria voordat hy Dinsdag vertrek.  En gisteroggend is ons na die Boeremark.


Ons gaan al baie jare saam na die vroegoggend mark.  Lank voordat ons verbintenis 'n romantiese draai geneem het het hy dikwels Vrydagaande kom oorbly by my huis sodat ons om 05h15 die volgende dag by die Boeremark kon opdaag.  Deesdae is dit vanselfspekend moeiliker om te doen, so ek was super opgewonde.  J was meer vaag, nie meer gewoond aan die uiters vroeg opstaan nie.  
Vandag se kopies sluit in aartappels, groot bosse vars pietersielie, basilie en roosmaryn, en slaaiblare.  Ook suurlemoene, 'n hele sak vol pragtige tamaties (vir R5!), rainbow chard, twee klein bossies rose, en twee liter room en 'n dosyn plaaseiers vir die vier verskillende tipes roomys wat later in die week gemaak sal word, vir 'n partytjie.  'n Paar hoenderdytjies en drie gurnard fillette is ook verkry, en die gul gratis samples van die Hollandse kaasmakers het uiteindelik vrugte afgewerp – ons het huis toe gekom met 'n stewige stuk Gouda wat vir 9 maande lank verouder is.  


En met groot blydskap het ek gesien dat die Hollandse wafeltannie terug is op die mark.  Warm varsgebakte wafels, met *slagroom.  Heerlik.  Maar dit word steeds getroef deur J in my huis te hê, al is dit nie vir baie lank nie.  Soms dink ons glad nie oor môre nie.   


Ns: Pretorianers wat die Boeremark besoek kan uitkyk vir twee nuwe stalletjies op die mark wat meer aftrek verdien – 'n Chinese gesin wat organiese groente verbou op hul plaas buite Brits, en 'n Afrikanerdogter met 'n tafel vol Franse gebak.  Die Chinese gesin is baie entoesiasties oor hul produkte en mag dalk almal op een slag met jou gesels, soos met ons gebeur het.  Die Franse gebak van Bella Sophia's Bespoke Baking sluit in die pragtigste macarons (die eerste op die Boeremark!), fraai sjokolade eclairs, en okkerneuttertjies.

*die Nederlands vir styfgeklopte room

2 comments:

petro said...

Welkom terug. Jou stories wat soos tonic is, was gemis. Bly J kon betyds wees vir Kersfees. Ek hoop ook dat die jaar jou goed gaan behandel.

Adele said...

Ai, die heimwee is erg. Baie erg.