Jan 15, 2011

arkadia: dag 4 - 6

Die volgende paar dae het ons 'n uitstappie gehad na Laudium, met 'n heerlike ete by ons gunsteling Al-Amin, met aloo parathas, hoenderkorma, mutton bothi, palak paneer en die wonderlikste knoffel naan.  Die aand het ons die res van die leftovers gehad, saam met wyn (die crapste deel van meeste Indiese restaurante is die feit dat daar geen drank beskikbaar is nie, skat ek), en vroeg gaan slaap vir die boeremark die volgende dag.  Na die boeremark was daar sushi saam met Die Kollega en haar verloofde, koffie by Vida e Caffè , en die aand 'n braai by my ouers, met baie lekker kos, en my ma se heel eerste paptert van haar kulinêre lewe, spesiaal voorberei vir J wat nog nooit paptert gehad het nie.  Ek dink nie ons het hom al tot pap bekeer nie, alhoewel paptert moontlik nie die beste manier is om dit te doen nie, sou ek raai.

Sondag het J vroeg uitgeglip terwyl ek nog slaap, en koerante en croissants opgespoor.  Aandete was pangebraaide gurnard, met baie suurlemoen, tiemie en knoffel.  En J se aartappels, 'n variant van 'n oorspronklike River Café resep, wat hy al vir jare in my kombuis maak.  Die aartappels word gebraai saam met baie olyfolie, suurlemoen zest en sap, kappertjiesaad, knoffel, rissie en roosmaryn.  Tafel gedek, nog wyn geskink.  Hard probeer om nie te dink aan die feit dat daar net 'n dag oor is nie.  Hopeloos gefaal.  

1 comments:

jvdh said...

Al faal ons soms, was dit steeds goed. Dankie.