Dec 11, 2010

Maak vol daardie koekieblikke! Dis Kersfees in Arcadia. Deel 2: Brosbrood

Oftewel, shortbread.  Of sables, uit die Frans.  Dis perfek vir hierdie tyd van die jaar want dit is ongelooflik eenvoudig en vinnig om aanmekaar te slaan.  En jy kan dit opdollie op verskeie maniere – versuikerde sitrusskil kan bygevoeg word, of gedroogde cranberries.  Jy kan die stafies doop in gesmelte donkersjokolade, of drizzle met 'n karamelsousie.  Myne hou ek eenvoudig, net die dun stafies ryk brosbrood met 'n lagie strooisuiker bo-op.  Hierdie baksel is vir J se oumas, aangesien ons besluit het dat vir die wat nie meer die sterkste tande het nie dalk nie met die taaiste koekies beloon moet word nie.  Dus haak ek alweer vas by *Peter Veldsman, en weer by Teetyd Treffers.  Jy room vinnig strooisuiker en (baie) botter bymekaar, meng jou meel en mielieblom en 'n titseltjie sout in, en druk vas in 'n pannetjie. 

Pasop wel vir te gou uit die pan haal as dit klaar gebak het – ek het een baksel *verloor omdat die stuk brosbrood nog warm was, en toe in agt dele breek.  Haastige hond, ensovoorts. 


*Hoekom het almal in die eerste plek van hom vergeet?  Die man is wonderlik.
**Indien dit wel met jou gebeur, moet asseblief nie die stukkende brosbrood weggooi nie.  Verkrummel dit tussen jou vingers, en hou in die vrieskas om te gebruik as 'n basis vir 'n kaaskoek of 'n soet tert van een of ander aard. 

3 comments:

Adele said...

Toe ek klein was het niks van brosbrood gehou nie - te plein. Nou dink ek daar is niks beter as daardie bottersmaak wat in jou mond smelt nie. Ek's bly om te hoor ek's nie die enigste een wat 'n hele pan koekies afskryf nie!

Anairam said...

Og, brosbrood, hoe heerlik. Dit koop ek net oor Kersfees anders word ek 'n potjierol. Het dit nog nooit probeer bak nie. Ook maar goed so.

arcadia said...

Adele - ja, donder. Ek kon myself skop dat ek so dom was.

Anairam - ek dink potjierolle het die meeste pret.