Dec 3, 2010

Maak vol daardie koekieblikke! Dis Kersfees in Arcadia. Deel 1: Lebkuchen.

Dis chaos in my huis.  My sitkamerbanke is gestapel met klere wat moet gepak word vir 'n paar dae saam my ouers by die see.  Langs my bed lê vraestelle wat nog klaar gemerk moet word.  En die ganse eetkamertafel is vol glasbotteltjies van verskeie groottes, vir koekies en speseryneute en dukkahs vir al die vriende en familie wat Kersgeskenke verwag. 

Maar my kombuis lyk die beste.  Daar is kersliedjies uit die 1940's wat speel, fyn neerslae meel oor die vloer en die toonbanke.  My botteltjies speserye staan opgestapel en wag : wonderpeper (oftewel allspice), gemmer, naeltjies, kaneel, neutmuskaat.  Daardie line-up alleen maak my mateloos opgewonde. 

Ek begin met Nurembergse lebkuchen.  Dis 'n goeie eerste vir jou Kersbakkery – dit hou ses tot agt weke in 'n lugdigte houer, en die geur word beter soos wat dit ouer word.  Jy begin deur jou meel en speserye saam te sif, meng fyn amandelmeel en versuikerde sitrusskil by, en klits dan eiers en suiker en melk en heuning bymekaar, wat gemeng word met jou meelmengsel.  Dis 'n twee bak affêre, wat help dat jou kombuis nie naderhand soos 'n slagveld lyk nie.  Jou beslag word in 'n oondpan geskep, en vir net 'n paar minute gebak.  As dit afgekoel het sny jy dit in blokkies, en doop in gesmelte donkersjokolade om te bedek.  Lebkuchenresepte kom in verskeie vorme, sommiges met meer van 'n koekietekstuur, ander neig weer meer na koek.  Die wat meer van 'n koekerige aard is (soos wat ek besig is om te bak), kan uitdroog as dit weke voor die tyd gemaak word, en die sjokoladevelletjie help om dit te voorkom.  Dis natuurlik ook net donders lekker. 

Intussen brand ek om te weet wat jul Kersfeesbakkery behels.  Vertel!

4 comments:

Adele said...

Hoera! Kersfees! Hoera! Lebkuchen! Maar ek moet erken ek het dit nog nooit gehad met sjokolade nie, sal moet probeer. Ek beplan nou al twee weke lank om te begin bak, maar daar is altyd iets belangriker om te doen...

arcadia said...

Doen dit! Dit skakel instantly die Kersfeesgevoel in mens aan :-)

Anna F said...

Jy inspireer my totally! Ek gaan sumier my ingredients uitbrei en begin bak!!

arcadia said...

Ja! Dis baie pret.