Dec 15, 2010

arabian nights


Soms raak dit vreeslik warm hier in Arkadia.  Om dinge af te koel maak ek al die vensters in my woonstel (so aaklige woord, ek verkies die Nederlandse appartement), wawyd oop, sodat die wind inswiep oor die blokkiesvloere van my eetkamer tot in die kombuis, waar ek voor die stoof staan en kook vir die gaste wat oor 'n rukkie sal arriveer.  Die aand het 'n Midde-Oosterse kleur.  Ons begin met labneh, wat ek oor 'n paar dae lank gemaak het en wat nou in die yskas wag.  Ge├»inspireer deur Yotam Ottolenghi gaan ek dit bedien met gekapte pistaschioneute en swart olywe, en twee reuse flatbreads warm uit die oond, met heelwat olyfolie en nigellasaadjies.  Die flatbreadresep is 'n gunsteling, uit Casa Moro, maar ek laat gewoonlik die deeg 'n ekstra paar uur staan sodat die geure nog beter ontwikkel.  Hoofgereg is ook 'n weergawe van 'n Moro dis, repies varkmaag met komyn en paprika, met 'n reuse bak fattoush aan die kant.  Ongelukkig het ek my die aand misgis met die oond se temperatuur, en die vark was ietwat erg aan die taai kant.  Apologie aan my gaste.  Poeding was wel heerlik – ook beide uit kookboeke, goeiste.  Nigel Slater se klam, neuterige pistachio- en suurlemoenkoek, uit The Kitchen Diaries, bedien saam met oondgeroosterde swart vye met kaneel, a la Nigella Lawson se Forever Summer.  En soos gewoonlik, heelwat wyn.  Welkom in my huis.  As jul te warm kry, gaan staan gerus voor die vensters en kyk uit oor die stad.  Dis pragtig vanaand. 

4 comments:

Petro said...

Dit klink hemels As ek weer in Arcadis is, gaan ek myself nooi. Sal 'n klip op die dak gooi.

arcadia said...

Maak so! Hier is altyd plek vir nog een.

Lily Turner said...

Moro en Nigel en Yotam. Lily se gunstelinge! wens ek was daar, maar sien julle een van die dae onder 'n boom.. ek sien uit.
o - en dankie vir die link!!!

Marie said...

Mooi.