Dec 18, 2010

amper

Ek skryf hierdie vanaf 'n garage buite Bloemfontein, oppad terug van die see. Twee weke saam met my gesin, voor Johannes môre arriveer uit die vreemde, en weer saam afvlieg Kaap toe vir Kersfees. My tyd by die see is gevul met eindelose seeswemmery. En roosterkoek, braaivleis, baie gin and tonic's, bier shandies, en die heerlike Wild Oats Sedgefield Farmers Market, en 'n lang gesprek met 'n ou Duitse oom wat in sy vrye tyd Thuringer streuselkoek en stollen bak. Daar was ook 'n partytjie, met almal in my gesin wat saam partytjiekos maak, waar ek croquettas gebak het, en klein latkes gebraai het, met 'n lekseltjie suurroom en kaviaar op. Tiramisu vir poeding. En sjampanje. Altyd sjampanje.

Die laaste paar dae is ons oorval met verwoede reën, en het ek die tyd spandeer voor die stoof. Een ysige aand was daar buckwheat crepes met Nutella, goudbruin en herinnerend aan een aand lank gelede in Carcasonne. En toe die laaste van die Kersgebak wat als afgevlieg word Simonstad toe, 'n diep donker sjokolade panforte, met amandels, makadamianeute, droë bosbessie en appelkoos. En twee stollens, met brandewyn en whisky-belaaide sitrusskil, rosyne en korente, en 'n heerlike stafie marsepein binne-in toegerol.

Vanaand klim ek vroeg in die bed, staan môre douvoordag op, en ry na die lughawe. As ek 'n winkel oop vind sal ek J inwag met 'n bossie blomme. Eindelose opwinding, hier.

5 comments:

Marie said...

Lekker :-)

Lily Turner said...

niks lekkerder as daai opwinding. enjoy!

arcadia said...

Ag vader, hy sit nou al vir langer as 12 ure op die lughawe terwyl sy vlug vertraag is, en nou het hul uiteindelik laat weet niemand sal vanaand uitvlieg nie.

arcadia said...

(Heathrow en baie sneeu)

Adele said...

Jou arme ding! Hopelik hoef jy nie te veel langer wag nie. Ek was 2 jaar gelede op Simonstad, kry sommer nou lekker heimwee.